Aucklandparkse dae was die Kunsredaksie in ‘n stadium heel agter in ‘n gangetjie gedruk, skuins oor Len se kantoor. Daar het ons baie goeie vriende geword en eendag vertel hy my die poets wat hy vir mnr. AM. Van Schoor, destyde redakteur van Die Vaderland gebak het.
Len bel vir Van Schoor as ‘n kamtige sakeman, en met ‘n sterk Indier-aksent het hy te vertel dat hy ‘n groep Indiers verteenwoordig wat siek en sat vir die politiek is en besluit het dat hul enigste oplossing sou wees om maar self by die Nasionale Party aan te sluit. Van Schoor weet natuurlik nie hoe om daarop te reageer nie want dit is ‘n yslike turksvy. En toe die “Indier” nog aandring om summier koerant toe te kom om die saak uit te klaar, en tipies Len, nogal met ‘n boks “pawpaws”, skrik hy hom boeglam, maar hy kon die man eenvoudig nie van sy voorneme laat afsien nie.
Len Lindeque |
AM van Schoor |
So ‘n minuut of wat later bel Len weer, die keer in sy eie stem en lag alte lekker. Van Schoor het ook maar saam gelag toe hy besef dat dit weer een van Len se tipies poetse was, maar het glo duidelik ‘n sug van verligting geslaak.
So was Len maar altyd vol streke en ‘n bron van humor.