Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.9.12

Rika het hardekwas-polisiemanne om haar pinkie gedraai

PHILIP DEETLEFS skryf: Om so ‘n effense kinkel in jou kabel te hê, kan voordelig wees om die joernalistiek prettig en opwindend te maak. Ek verstout my om te sê dat die grootste gros van ons wat by Perskor gewerk het, dalk op dié manier gestrem was/is met so ‘n kinkeltjie iewers in die kabel. Ek sê dit met groot respek en as iemand wie se kinkel eintlik niks minder as ‘n vervlakste kraaines is nie.

Indien daar dan ‘n Para-Olimpiese byeenkoms vir joernaliste in die algemeen en in die besonder vir koerantmanne voorheen van Perskor gehou sou word, sou die wenner van etlike goue medaljes gewis Rika van Graan moes gewees het.

Rika was ook fisiek gestrem en in haar rolstoel vasgeanker, maar sy kon stories gaan uitkrap waar kaalhand-rotsklimmers met geen fisieke beperkings dit nie sou waag nie. Hoe meer bloed en gru hoe beter.

Ek onthou hoe gewild Rika destyds as een van die land se voorste misdaadverslaggewers onder die polisie was. Ek onthou hoe hulle vir haar blommeruikers kantoor toe aangedra het. Ek onthou hoe senior polisie-offisiere gespog het dat hulle tog vir Rika beter ken as hulle kollegas.

Ek onthou hoe ambulans-, lykhuis- en moord-en-roof- en die mees senior polisiemanne nie net kontakte vir haar was nie. Hulle was haar vriende en baie van hulle het graag op haar skouer gehuil en by haar raad oor persoonlike sake gekry. Hulle het graag haar vriendskap “gekoop” met stories wat die voorblad gehaal het.

Rika het ‘n “sexy”-stem oor die foon gehad en kon enige niksvermoedende, nuwe polisieman van die eerste oproep af om haar pinkie draai. Dan, as hulle haar die eerste keer sien, het die boesemvriendskap begin.

Rika kon ook maklik (alles oor die telefoon) die hele storie by die naasbestaandes van ‘n nuuswaardige sterfgeval, kry – trane en al! – sodat net ‘n reëling getref moes word dat een van ons jong verslaggewers die foto’s by die adres hoef te gaan haal.

Hierdie talent het natuurlik uit ‘n joernalistieke oogpunt baie goed gewerk, want Rika het dosyne en dosyne hoofberigte op die voorblad geskryf en as die komkommers in die blom gestaan het vir Willie Buys dikwels gered van pa moet staan vir ‘n andersins seisoenale saai voorblad.