Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.9.12

Daar skuil ’n moordenaar in elkeen van ons

CARLA VAN DER SPUY skryf: Ek het nooit gedink ek sal eendag ’n misdaadboek skryf nie, maar “Mens of Monster – die psige van ’n misdadiger” was ’n opdragwerk van Lapa-uitgewers en soos die geval met alle vryskutjoernaliste is, sê mens nie nee vir werk nie.

Jy is bang hulle vra jou nie weer nie.

Dit het wel my gedagtes teruggeneem na my hofverslaggewingsdae by “oorlede” Oggendblad in die jare sewentig.

Karen Adendorff, nie-fiksie uitgewer by Lapa het net vir my gevra om ’n misdaadboek te skryf, maar sonder dat daar ’n spesifieke invalshoek is.

Ek het kort van tevore stories vir Vrouekeur geskryf waarin die vraag gevra word of die mens goed of boos is . Ek het ook kort tevore ’n storie gaan skryf in ’n tronk waar ek elf geweldsmisdadigers ontmoet het wat ’n teenmisdaadorganisasie vanuit die tronk gestig het.

’n Klein beriggie het in ’n plaaslike koerant oor hierdie organisasie verskyn en ek het toe ondersoek ingestel, want dit was vir my fassinerend dat die einste mense wat soveel ellende veroorsaak en moor, kaap en verkrag dan skielik so ’n ommekeer beleef. Dit was natuurlik ’n gesukkel om toestemming van korrektiewe dienste te kry, maar uiteindelik het ek hierdie geharde misdadigers in die tronk se kapel, nogal, ontmoet en na hul verhale geluister.

Ek het elkeen gevra wat hulle agter tralies laat beland het en die antwoorde was byna deur die bank; “Moord, murder, merder.”

Ek het glad nie onveilig gevoel nie, want alles het onder die wakende oog van DKD se streng beamptes plaasgevind, wat in ’n ry agter in die kapel gesit het. Dit was in ’n beheerde omgewing. Om die waarheid te sê dink ek dis gevaarliker om saans kafee toe te ry om ’n brood te gaan koop.

Van die ouens het dalk werklik tot inkeer gekom, maar ander se doelwit is sekerlik net om deur hul goeie gedrag vir parool te kwalifiseer en om van die afdeling vir maksimum veiligheid na mediumtermyn oorgeplaas te word.

Dis egter opvallend hoe vriendelik en sjarmant hulle kan wees en jy beleef werklik soms “ag shame”- oomblikke. ’n Mens moet egter nooit vergeet hoekom hulle in die eerste plek agter tralies beland het nie.

Hulle het die vreeslikste dade gepleeg, maar tog sien mens in so ’n besoek soms die mens agter die misdaad raak.

Ek het toe begin wonder of daar ’n mens agter die “monster” is. So het die gedagte aan die boek ontstaan.

Ek het met baie geleerde mense gesels; professore in kriminologie, met sielkundiges, met ’n reeksmoordkenner, met familie van moordenaars, die oortreders self asook slagoffers om agter die kap van die byl te probeer kom oor die redes vir geweldsmisdaad en of die mens inherent goed of boos is en of party mense net eenvoudig boos gebore word.

Omdat daar baie alternatiewe teorieë oor misdaad is, het ek interessantheidshalwe ook met mense gepraat wat ’n bestaan uit die esoteriese maak soos sieners, numeroloë, ’n gesigontleder en ’n chiroloog. (hulle kyk na die vorm van die vingers soos byvoorbeeld die sg “moordenaarsduim”.)

In numerologie is 5 die bose syfer en beskik die meeste reeksmoordenaars oor ’n nommer 5, is aan my vertel.

Die gesigontleder het vir my gesê jy kan nie op iemand se gesig sien of hy ’n moord sal pleeg nie, maar wel hoe hy die moord sal pleeg– soos byvoorbeeld in ’n groep en of hy alleen sal werk.

Dis alles baie omstrede, maar interessant.

Ek en ’n sielkundige het toe van hierdie teorieë op sommige van die geweldsmisdadigers getoets.

Oor sieners kan ek net sê ek kon nie juis bewyse vind dat hulle moorde opgelos het nie.

Elkeen van die 15 hoofstukke het iewers die woord “monster’ in die opskrif. Ek het net begin skryf en elke keer het daar eenvoudig ’n nuwe tema of “scoop” opgeduik wat ek nie van die hand kon wys nie. So het die boek al dikker geword en op die ou einde was dit 460 bladsye lank na menige “midnight date” met “Jack The Ripper.”

Net voor my spertyd het ek danksy my gewaardeerde kontakte by korrektiewe dienste (hulle was, danksy Sarie Peens, baie goed vir my) ’n eksklusiewe onderhoud met “S” gehad – die eerste vrou wat elektronies gemonitor word wat op parool in Suid-Afrika uit is.

Sy was ’n kinderprostituut (waarvoor daar baie oorsake is) en het ’n kliënt 20 jaar tevore 42 keer met ’n vleismes gesteek en daarna probeer ontman. ’n Uittreksel van die hoofstuk verskyn in die uitgawe van 21 September in Vrouekeur.

Johan Nel en sy bruid, Maryna Naudé.
Ek het ook ’n eksklusiewe onderhoud (danksy die prokureur van die Skierlik-moordenaar Johan Nel en baie mooipraat) met die 18-jarige Skierlik-bruid gehad oor die redes waarom vroue met moordenaars trou. Jy kry selfs “serial killer groupies” en die redes daarvoor is eintlik glad nie so vreemd nie.

Daar is ’n hoofstuk oor reeksmoordenaars wat die mees gevreesde monsters is en die definisie van reeksmoordenaars wat intussen verander het, oor kindermolesteerders wat die mees gehate monsters is en ’n vrou wat deur haar pa die monster verkoop is, agt keer getrou het, herhaaldelik met mishandelaars en verkragters, en toe tronke besoek het waar verkragters haar om vergifnis gesmeek het.

Van die geweldsmisdadigers met wie ons gepraat het, loop oor van berou maar ander spog eintlik met hul dade en dik dit aan. As hulle nie ’n held in die werklike lewe kan wees nie, dan is hulle maar anti-helde in die onderwêreld.

Die gevolgtrekking waartoe ek met die hulp van kenners gekom het is dat enigeen onder gegewe omstandighede kan moor. Ek, jy, enigeen. Enigeen van ons het dus die potensiaal om ’n monster te wees.
Dis net genade as jy grootgeword het in omstandighede waar daar nie snellers was wat van jou ’n misdadiger maak nie, want daar sit iets makabers in almal van ons. 
Die boek kan reeds by Lapa en Graffitiboeke bestel word. Dis nou by die drukkers, maar dit behoort teen die einde van die maand of aan die begin van Oktober by boekwinkels en ook by CNA beskikbaar te wees.

Dit word ook in Engels vertaal.

Die bewoording op die agterblad van Carla se boek lui:

Hoekom moor, kaap en verkrag mense en hoekom doen hulle dit soms herhaaldelik? Geweldsmisdaad is iets wat ons terselfdertyd verafsku en fassineer. Wat kan so verskriklik skeefloop in ’n mens se psige dat jy in ’n monster verander? Wat maak van ’n mens ’n monster ... en skuil hierdie monster in almal van ons? Daar is kenners wat meen dat enigeen van ons onder sekere omstandighede moord sal kan pleeg. ek. Jy. enigeen.

Die misdadigers is soos karakters in ’n spanningsverhaal – ek kon dit nie neersit nie. - Anina Peens, E-nuusleser en televisiejoernalis

Carla van der Spuy het hare op haar tande. Sy loer in die harte van gewelds- misdadigers en ander monsters, ’n donkerte waarvoor die meeste mense te bang is. Insiggewende leesstof. – Johannes Bertus de Villiers, Rapport-joernalis

Onthullend. ’n Ware refleksie van die Suid Afrikaanse persepsie en benadering tot hedendaagse misdaad. - Dr. Henk Swanepoel, kliniese sielkundige (forensies).

Dis die gesoute joernalis, Carla van der Spuy, se tweede boek en dis vol interessante lekkerlees inligting oor geweldsmisdaad en die monsters daaragter. Speel gelaatstrekke soos die punt van die neus of ’n lang middelvinger, ’n frons, ’n geboortedatum en selfs ’n naam dalk ’n rol? – Susan Puren, Ondersoekende joernalis

Carla van der Spuy is ’n gevestigde vryskutjoernalis wie se werk al jare lank in talle prominente tydskrifte en koerante verskyn. Haar artikels behels ’n wye verskeidenheid van onderwerpe wat wissel van inspirasie en lewensdrama tot aktueel, humor en rubrieke. Carla het vyf merietetoekennings by Caxton Magazines ontvang, insluitende twee merietetoekennings vir skrywer van die jaar.