Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.9.12

Kittie: Daardie blou oë en die glimlag

JOHAN LIEBENBERG skryf: Hoewel ek dadelik van Kittie Vermaak se afsterwe gehoor het, kan ek nou eers daarop reageer. Dit was vir my ’n bedrywige tyd in die aftreeoord, want ek was besig met kulturele dinge hier. Ons het ’n konsert gehou en een van die Kaap se gewildste sangeresse het kom sing en soos ’n mens maar weet, vat sulke dinge baie organisasie.

Maar terug na Kittie: ek onthou nog goed my eerste dag by Aucklandpark, Johannesburg, toe ek sommer sonder seremonie in die diep water gegooi was. En as dit nie vir Kittie was nie, sou dit erger gewees het. Met haar wonderlike glimlag en hartlike verwelkoming (ons kantore was regoor mekaar) het sy my tuis laat voel en dit was altyd ’n troos dat sy ook in die gebou was.

Ons het ’n hegte lewenslange vriendskap daar begin en heerlike tye saam deurgebring – talle kere in die wildtuin waar ons as ’n groep gegaan het en selfs een keer in Parys toe ons albei toevallig oorsee met vakansie was.

SALOMÉ ODENDAAL stuur dié foto van, onder meer, wyle 
Kittie Vermaak, voor saam met Phillippa Breytenbach, wat 
sy met 2006 se Perskorreünie by Markspark geneem het. 
Agter staan Joe Venter, wyle oom Sporie van Rensburg en 
John du Toit.
Die vriendskap het geduur selfs na my trek Kaap toe en ek onthou veral ’n keer toe ons na Die Hel gegaan het. Vir die vier van ons was dit hemels, maar vir my kar was dit beslis die hel! Hy was gedaan na daardie reis van die Swartbergpas tot onder in die vallei van die Gamkaskloof op ’n pad wat net met ’n viertrekvoertuig aangepak moes word. Maar die braaivleise en Calitzdorpse port het ’n mens daarvan laat vergeet.

Die skielike manier waarop sy noodgedwonge haar huis moes verlaat en weg trek van bekendes na ‘n vreemde plek het sy tol geëis. Maar een ding is seker: almal wat die voorreg gehad het om haar te ken as kollega en vriendin sal haar blou oë en glimlag nooit vergeet nie.