Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.9.12

As ’n man se huis wegraak!

Gebore en getoë Namibiër NIC KRUGER, wat in die jare sewentig by Die Vaderland gewerk het, het ook diep spore in die joernalistiek en perswese in Namibië getrap. Hy was saam met dok Jan Spies destyds aan die stuur van sake by Die Republikein in Windhoek wat toe ook die Republikeinse Party se amptelike spreekbuis was. Nic en sy vrou Elsada het later albei suksesvolle sakemense geword. Nic boer deesdae saam met sy twee seuns – albei beroepsjagters – grootskaals met trofeejagters van elke kontinent.

Hier is Nic se storie:

In Julie 1976 het ek as sportskrywer by Die Vaderland ingeval ná ek op Potch kommunikasiekunde geswot het.

Gerhard Burger was sportredakteur, Willie Roux sy assistent. Ander manne was Harry Lombaard, Carl Köhler, David van Rooyen, Leendert Pieterse en Johann Pieterse. Lekker sterk span gewees.

Die eerste ding wat ek kan onthou wat Gerhard my geleer het, is dat “alle dames is vroue, maar nie alle vroue is dames nie! Op die sportblaaie praat ons dus van vroue.” Het saam met Johann Pieterse oorkant die straat bo die Porra gebly. Die hele woonstel was vol blerrie fietse en fietswiele en -onderdele. In ses maande het ek hom nie een keer gevang dat hy ’n beker of ‘n bord was nie. Gelukkig was ek 16 jaar lank in koshuise en kon die plek leefbaar hou.

Die Sans Souci (links) was die plek waar ons na uitvaltyd gaan lafenis soek het. Kon dit eintlik nie bekostig nie, maar ou Arrie se wedvernuf het ons aan die drink gehou. Hy het elke Woensdag en Vrydag die plek- en die boerpot vir ons gespeel – en die meeste van die tyd met ’n drinkgeldjie teruggekom.

My vrou, Elsada, het nog op Tukkies geswot, so ons het in Pretoria gewoon wat beteken het dat ek elke oggend vrek vroeg moes begin.

Harry Lombaard
In elk geval, in 1976 was Harry op die bestuur van die Randse Sportskrywersvereniging. Die aand van die Sportman en -Vrou van die Jaar-dinee, reël ons dat Elsada by Harry se Klein Ma in Randburg slaap. Tydens die dinee word hordes drank-geskenkpakke gewen vir enige ding onder die son en die manne kuier met groot geesdrif.

As bestuurslid moes Harry sorg dat die ligte afgesit word na die partytjie, so ons bly tot laaste. Baie ouens het hul geskenkpakke net daar gelos. Ek en Harry laai sy geel Alfa dat sy gat op die grond hang en so teen twee uur die oggend vat ons die pad huis toe.

Ons ry en ry, maar kom nie by die huis nie. Teen drie uur erken Harry dat hy nie meer weet hoe om by sy huis uit te kom nie en ons besluit dis dalk slimmer om in die rigting van die kantoor te verdwaal. Vyf minute oor vier val ons toe die kantoor binne, netjies uitgevat in ons aandpakke!

In 1978 is ek terug Windhoek toe as Die Republikein se eerste sportredakteur. In 1980 het ek redakteur Jan Spies se assistent geword.

Gemsbokbul, Namibië
In 1982 het ek bestuurder van Die Republikein geword en is nogal trots daarop dat die drie baanbrekers van joernalistiek in Suidwes – Angel Engelbrecht, Hannes Smit(tie) en Des Erasmus – al drie gelyktydig onder my gewerk het.

In 1994 het ek die mediawêreld vaarwel toegeroep om my eie ondernemings te bedryf en terselfdertyd begin boer.

Deesdae is ek saam met ons twee seuns in die trofeejagbedryf.

In 2010 is ek as Streekraadslid vir Windhoek-Oos vir ’n opposisieparty gekies. Eerste keer in 22 jaar dat die opposisie ’n setel by Swapo afvat en boonop is Namibië se president in my kiesafdeling!

Ek en Elsada is ook al oupa en ouma van twee kleinkinders.