Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.9.12

Gee jou Hart vir Hillbrow…

ANDRIES BOTHA skryf: Toe ek nou die anderdag wanneer Johannes Kerkorrel (almal weet seker hy was eens op ’n tyd ’n sub by Rapport) se aangrypende liedjie, Gee jou Hart vir Hillbrow, oor die radio hoor, het dit my gedagtes teruggevoer na ’n paar interessante stukkies politiek graffiti wat ek in Hillbrow gesien het.

Dit was in die jare sestig toe dr HF Verwoerd taamlik suksesvol na die Engelse stem vir die Nasionale Party gevry het en onder meer vir sen Alf Trollip en prof Owen Horwood, toe nog rektor van die Natalse Universiteit, in die kabinet aangestel het dat iemand teen ’n muur in Hillbrow geskryf het:

“Even a Trollip won’t do what a Horwood”.

Nou kyk, Hillbrow het van die beste graffiti op dees aarde opgelewer. Party was slim en party was, in die onsterflike woorde van Chris Vermaak “fo..on grim”.

Tsafendas
Soos dié een in die PW-era:

“Where is Dimetrios Tsafendas now that his country really needs him?”

Nog ‘n juweeltjie was die een oor die Bureau of State Security (BOSS) in die dae toe dit deur genl. Lang Hendrik van den Bergh bestuur is:

“BOSS is watching you”.

Waarop iemand toe onderaan toegevoeg het: “I saw that!!!”

Dit het seker niks met die politiek te doen nie, of miskien het dit tog, dié een in ’n apteekvenster:

“Shampoo – 39 cents”

Waaronder iemand toe geskryf het: “How much for real poo?”

Ewe onvergeetlik is dié ondubbelsinnige opdrag ses sentimeter van die grond af teen ’n randsteen:

“Kill all dwarfs!”