Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.9.12

Vreugde en vrese van ’n eerste ‘byline’

ILZE WELGEMOED skryf: Hoe kan ’n mens so swel van trots die een dag en die volgende oggend is jy so bang dat jy net wil weghardloop? En dit alles oor ’n byline en rugby.

Ek weet nie hoekom nuusredakteur Japie Bosch nie vir Yvonne le Roux gevra het om ‘n TV-storie te skryf nie, want sy was immers die TV-redaktrise, maar nee, hy kies MY toe om met Jan Snyman, TV se sportbaas, oor rugby op TV te gesels. Die opdrag was om vas te stel of Gerhard Viviers ooit rugby op TV sou uitsaai.

Ek en Jan het lekker gesels en hy het baie te vertelle gehad. Ek het toe die storie geskryf, nes hy vir dit my gegee het. Ek was nogal heel trots op die ou beriggie, want Jan het gesê Gerhard sou nooit rugby op TV uitsaai nie, omdat hy nie objektief is nie. Gerhard sou sommer sê iemand hardloop met die bal en dan is dit ’n ander speler.

Toe ek die volgende dag, ’n Vrydag, verby Japie se kantoor stap, roep hy my en wys vir my die voorblad wat skree: “Gerhard Viviers sal nooit rugby op TV uitsaai nie…” en daarby staan my naam in groot letters.

Ek was nie bietjie trots nie. Die manne op die redaksie het daarvan gehou om my te terg. Toe ek by my lessenaar gekom het, was die toegepak onder kopieë van die koerant – sodat ek vir my familie en vriende kan uitdeel.

Ek het die Saterdag gewerk en met die intrapslag vat Wynand Strydom, die motorredakteur, my vas. Jan Snyman het hom glo gebel en hy gaan my en die koerant dagvaar oor die berig, want dis alles onwaar. Ek het aanmekaar probeer verduidelik dat ek net die waarheid geskryf het, maar ek sou moes wag om te hoor wat gaan gebeur. Skielik was dit nie meer lekker om jou naam by ’n storie te sien nie.

Tot vandag is ek of die koerant nooit gedagvaar nie.