Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.9.12

Amerikaner Baby John verras met Boereaksent

PIETER KRUGER skryf: Ek sit Sondag in die voorhuis en spring van kanaal tot kanaal toe ek op die rofstoei op e-tv vashaak. En toe dwaal my gedagtes terug na Die Vaderland se sportkantoor en oom Bull Hefer.

Oom Bull was ’n blok van ’n man, ’n rofstoeier wat sy nering by Henry Irslinger geleer het en in sy vroeë loopbaan gesorg het dat hyself, Willie Liebenberg, Percy Hall en die Wildeman van die Kalahari huishoudelike name geword het.

Jy kon oom Bull deur ’n ring trek. Donkerpak, wit hemp, swart das, blink skoene. Sy yl hare gekam en geplak met Brylcream, ’n dik Ritmeester-sigaar in sy mond en altyd haastig. Oom Bull was promotor, vegknoper, bestuurder, betaalmeester, skakelbeampte en woordvoerder vir manne soos Jan Wilkens, Boerseun, Vrystaat, Apollo en Tarzan Jacobs.

Bull Hefer
Onder oom Bull het Onse Jan in Japan aan honderde gevegte deelgeneem. Hy het kans gekry om sy wêreldtitel verskeie kere teen manne soos Don Leo Jonathan en Blackjack Mulligan te verdedig.

Oom Bull het dit reggekry om beroepstoei net duskant rugby se gewildheid te laat draai. Ons het vasgenael voor die radio en later televisie gesit en luister hoe Onse Jan, Vrystaat en Boerseun die toeskouers se bloeddruk kon opjaag. Ons het saam met ’n uitasem Andries Cornelius gekners op ons tande wanneer die een of ander oorsese boef Vrystaat of Boerseun probeer ontmasker het wanneer hulle “uit soos ‘n kers” op die krytvloer gelê het.

Oom Bull het so een of twee keer ’n maand op Vrydae-oggende ’n draai in die sportkantoor saam met ’n klomp buitelandse stoeiers gemaak.

Tarzan Jacobs
Willie Liebenberg
Soos gewoonlik was hy haastig, want hy moes nog ’n draai by Jo van Wyk en Essie in Die Transvaler se sportkantoor gaan maak het en hy moes Willie Roux en Harry Lombard by The Citizen besoek voordat hy koers gekies het Beeld toe.

“Waar’s die fotograaf?” het oom Bull altyd gevra. “Ek het vir julle ’n lekker storie,” en dan het hy ’n paar komplimentêre kaartjies uitgehaal.

Oom Bull het ons om die een of ander rede nie vertrou nie, want hy het altyd voor ’n ongebruikte tikmasjien ingeskuif, ’n paar velletjies papier nader getrek en sy eie voorskou geskryf.

Intussen moes Frank Rousseau, Ken Marais of Philip Herselman foto’s van sy Amerikaanse aankomelinge neem.

Big John Strongbo
Jan Wilkens
Op ’n Vrydag het hy twee Strongbo-broers, Big John en John, saamgebring kantoor toe. ’n Paar weke daarna was daar ’n derde broer, Little John, en toe ‘n vierde broer, ek dink sy naam was Baby John. Dié man se hare was ook wit gebleik en gekrul. Hulle het soos gewoonlik hul hemde afgestroop om te poseer en dan die vroulike kollegas laat skarrel, want hulle was mos al lank van die huis af.

Drie van die vier broers het met ’n sterk Amerikaanse aksent gepraat, maar die vierde broer het bitter min gesels. “Hy is maar aan die stillerige kant, want hy doen sy praatwerk in die kryt,” het oom Bull ons gerus gestel. Maar dié man het dan gesukkel met die “has and have’s”.

Oom Bull het besef hier kom ’n ding en toe laat waai met “hy is maar net ’n
paar dae in die land en het reeds ’n Afrikaanse aksent aangeleer.” Baby John het saamgestem. In daardie stadium het hy my nogal baie aan oom Bull se seun, Johan, met gebleikte hare laat dink.

Johan Hefer in aksie.
Percy Hall
Asof dit nie genoeg was nie, moes ons oom Bull meedeel dat ons nie dié Saterdagaand die toernooi in die Wembleystadion kon bywoon nie en ook nie ’n fotograaf kon stuur nie.


Dit het oom Bull nie laat onderkry nie, want hy het ’n ou foto van Onse Jan met sy wêreldtitel-gordel vol “diamante, robyne, ghoens en albasters” uitgepluk, ’n nuwe velletjie papier in die tikmasjien gesit en ’n kort verslag vir Maandag se koerant getik van hoe Jan die Amerikaner verfomfaai het.

Ek het twee keer binne tien minute besef dat feite nooit met ’n goeie storie moet inmeng nie.

(‘n Mens soek vrugteloos na die “familie” Strongbo op die Internet. As jy Ed J. White of Sailor White soek, kry jy darem vir Big John. Hy het ook net in Suid-Afrika onder dié naam gestoei. In sy vaderland, Kanada, was hy Sailor White en in Amerika Moondog King. Daar was wel die broers Strongbow, met die “w”, wat gestoei het onder die voorwendsel dat hul twee Rooihuid-hoofmanne was, maar dis ’n ander storie. – Red.)