Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.9.12

Des Erasmus: woordkunstenaar by uitstek

DES ERASMUS was Perskorburo se korrespondent in Windhoek. Meegaande artikel oor hom, deur Errol Hurter, het onlangs in Republikein verskyn, in ‘n rubriek geborg deur Gondwana Collection, ’n groep verblyfplekke in die omgewing van Namibië se natuurwonders. Die artkel word met Gondwana, Hurter en Republikein se instemming in K’rant geplaas.As kind het hy op ’n donkiekar getrek deur Dapper en Donker, plaasskool toe gery en in sy hart het hierdie groot man vandag
steeds ’n sagte plekkie vir donkies. In die plaasskool het hy met letters, die klank en die spel van woorde kennis gemaak, simbole wat hy in sy later jare soos ’n halssnoermaker sou inryg om stringe plesier aan sy lesers te verskaf.

Drie grotes in die Namibiese koerantwese. 
Links sit Angel Engelbrecht, agter hom 
staan Des Erasmus met Hannes Smith wat 
die driemanskap voltooi.
Desiderius Tertius (Des) Erasmus, gesoute verslaggewer, woordkunstenaar, skrywer en seker die laaste, groot koerantman in Namibië wat reeds langer as 50 jaar by die koerantwese betrokke is, kom uit ’n era toe koerantmanne hardebaarde was wat die nuus vreesloos nagejaag het sodat die volk kon weet wat in hul land aan die gang is. Hy is vernoem na Desiderius Erasmus (1466 – 1536), die Nederlandse kerkman en letterkundige. Dié Nederlander se vaardighede in die letterkunde sou eendag by hierdie kind van die Oos-Kaap weerklank vind by wyse van koerantstories, boeke en rubrieke wat hul ryk opbrengs aan toekennings en pryse sou lewer.

Des Erasmus se herinneringe aan hul plaas in die distrik Cradock in die Oos-Kaap en sy dae op die harde bankies van die plaasskool lê hom nog soos gister voor die gees.

“Ek het baie slae gekry omdat ek in die somme-klas gesit en opstelle skryf het,” vertel hy. Artritis met die gepaardgaande ongemak het hom later jare ook bekruip, maar hy skryf die pyn toe aan Miesies Jones wat hom destyds met die skerp kant van ’n liniaal so hard oor sy kneukels geslaan het “dat dit vandag nog pyn”.

Miesies Jones was baie daarop gesteld dat woorde korrek gespel moet word, vandaar seker sy feitlike beheptheid met die korrekte spelling van woorde. “Veral mense se name, dit moet reg wees,” is sy uitspraak, iets waaroor nie gedebatteer word nie. “Die Amerikaners het ’n gesegde jy kan enigiets oor hulle in die koerant skryf, solank jy net hul name reg spel.”

’n Koppie by Cradock het vir hom ’n besondere aantrekkingskrag, “want dis waar die skryfster Olive Schreiner begrawe is” vertel hy. As seun het hy Langenhoven se werke gesoek en gevind. Ander Afrikaanse skrywers het sy taalliefde gestook.

Des beskik oor ’n B.Admissiegraad met hoofvakke Hebreeus en Sielkunde en hy was redaksielid van Die Matie, ’n studenteskinderkoerant en die Stellenbosse Student, ‘n jaarblad. Hy was ook ’n kranige rugby- en krieketspeler en het provinsiale status as krieketskeidsregter behaal.

Sy joernalistieke loopbaan het op 1 Augustus 1959 as nuuskadet by die SAUK in Windhoek begin. “Ek was drie dae in die joernalistiek toe weet ek dit is nie die loopbaan vir my nie. Het net nog nooit die tyd gehad om uit te tree nie,” volg sy humor. As kadet het hy kort na hy by die SAUK begin werk het, eenkeer verslag gedoen oor ’n storie wat die eerste hooftrek van die dag se 13:00-nuusbulletin was met opvolgstories wat gedurende die middag en aand se bulletins gevolg het. Dit was sy eerste groot storie en daardie byt wat die nuuswêreld hom gegee het, was die keerpunt vir ’n man wat hom in die “verkeerde” beroep bevind het.

Victorio Carpio
Watter Suidwester kan ooit vir Carpio vergeet? Toe dié in Suidwes-Afrika was ná die rammelinge oor die land se onafhanklikheid hoorbaar begin word het, het Des hom tydens ’n noenmaal wat vir Carpio aangebied was, as ’n kelner voorgedoen. Hy het gesorg dat hy die dorstige man se tafel bedien. Later, toe die voggies al goed getrek het, het hy vir Carpio gesê wie en wat hy eintlik is en dat hy met hom ’n onderhoud wil voer. Carpio se oppassers wou nog keer, toe dié die wind uit almal se seile neem.

“This man has come a long way for a quote. I am going to give him one.” Die verklaring wat hy aan die jong nuusman gegee het, het wêreldnuus geword en het soos volg gelui: “Die huidige samewerking tussen die Spesiale Komitee van die VVO en die Suid-Afrikaanse Regering is die enigste wyse waarop die wolk van misverstand oor Suidwes-Afrika opgeklaar gaan word.”

Gevra oor voorvalle wat tot keerpunte in sy lewe gelei het, het hy verwys na sy verhuising na Swakopmund, die strydlose spanwerk met eggenote Anneli aan sy sy waar hulle en hul spannetjie vir Republikein se streekkoerant Erongo verantwoordelik is, en die sterfte in 2005 van sy seun Richter. “Berusting oor Richter se dood het al ingetree, maar die antwoord op die vraag ‘waarom’ ontwyk my steeds”, sê hy.

Gamsberg
Sy veelsydigheid as skrywer word baie goed gedemonstreer deur die feit dat hy medewerker aan verskeie radioverhale en -reekse asook koerantreekse soos “Die Nangolodossier” en “Uit die skatkis van die ou kaserne” was. Hy het ook ’n tydskrifreeks oor die eerste nedersetters op Namibplase se tog teen die Gamsberg af behartig waarin onder meer oor donkiewaens, stormpaaie en ’n stookketel vir mampoer met sakke rosyntjies oor ’n eselsaal geskryf was.

Daarbenewens was hy politieke en militêre verslaggewer met subredakteurswerk asook die redakteurskap van sewe koerante in Suidwes-Afrika en Namibië wat sy dae gevul het. Hy het ook koerante van die Perskor-groep en later die Nasionale Pers in Suidwes-Afrika verteenwoordig. Sy “Hulde aan Jan Spies” ná dié se sterfte is deur kritici in Suid-Afrika as die beste huldebetuiging van ses soortgelyke geskrifte uitgesonder.

As rubriekskrywer het hy feitlik nie sy gelyke nie. In 1978 het van sy kollegas sommige van sy rubrieke sonder sy medewete vir ’n KWV-kompetisie ingeskryf. Dit was met ses bottels van KWV se beste wyne bekroon. Sedert 1999 is sy en eggenote, Anneli, wat saam met hom ’n gedugte span vorm, se joernalistieke bydraes met meer as tagtig toekennings deur onder meer Sanlam, die ATKV en die Media-instituut van Suider-Afrika bekroon. “Kom tel maar,” sê hy.

In 2000 is hy in Sanlam se kompetisie vir die gemeenskapspers vir Suidelike Afrika as joernalis van die jaar aangewys. ’n Spesiale toekenning vir sy bydrae tot die joernalistiek in Suidelike Afrika waarvan tans nog net vyf toegeken is, word in 2004 deur Sanlam aan hom gemaak. In 2005 ontvang hy ’n soortgelyke toekenning van die ATKV, dieselfde organisasie wat hom in 2006 vir sy bydrae tot Afrikaans in Namibië tot Afrikoon verklaar. Vir sy beriggewing oor die natuur word hy met die eretitel van Coastodian deur die Namibiese bewaringsinstansie Nacoma bekroon.

Volgens Anneli was sy enigste kommentaar tydens die glansaande van die toekennings in Johannesburg, Kaapstad en die Wilde Kus bloot: “Wanneer gaan ons huis toe?”

Sy hoogste toekenning egter, vertel hy, was van ’n hoërskoolmeisie van Outjo wat knipsels van sy werk gemaak het, navorsing oor sy rook- en drinkgewoontes asook sy musieksmaak gedoen het en dit in ’n collage saamgevat en vir hom gegee het.

Vyf boeke te wete Bokant laagwater, Onder hoogwater, Destebeter, Lanfer 50 en Toer my lyn het al uit sy pen gevloei. Saam met wyle Henning Snyman was hulle die skrywers van Halfpad na Honderd, ’n boek oor die eerste 50 jaar van die SWA Landbou-unie.

Gevra na ’n paar kwotasies wat hy met verslaggewing kan verbind, het die volgende gekom:
  •  “’n Koerantman tree nooit af nie. Hy raak net weg.” en
  •  “Daar is nie ’n gister nie, altyd net ’n môre.” 
  • Sy gewildste een: “Ons gaan net aan!”
Sy grootste liefde? Bonnie, dié Bonnie aan wie Lanfer 50 opgedra is.