Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.9.12

Protter laat Joe rekord op rekord slaan

JOE VAN BUUREN skryf: My kollegas sal waarskynlik die dag in die middel jare sewentig onthou toe David Protter die middestad van Johannesburg op horings geneem het.

Protter het die Israelse konsulaat in Foxstraat, oorkant die Carlton-sentrum, beset en op als wat roer geskiet.



Genadiglik het hy maar swak gekorrel.

Ek, Stella Fouché, André de Kock en André Pienaar het saam by die ambassade opgedaag, maar weens die harwar het ons weë gou geskei.

Kol. Theuns Swanepoel
David Protter
Met ons aankoms was daar reeds ’n polisieman, kol. Theuns Swanepoel, ook deur sy kollegas genoem die Rooi Rus, op die toneel, ’n kort, bonkige kêrel met ’n militêre styl borselkop.

Elke dan en wan spring hy onder die veranda uit en brand met sy Uzi-masjiengeweer los dat jy net doppies sien spat onderwyl hy uitbulder: “Kom uit, jou lafaard! Kom uit en veg soos ‘n man!”

Wanneer Protter terugskiet, sien ’n mens hoe die koeëls teen die gebou oorkant die straat vasslaan.

In daardie stadium het ons natuurlik nie geweet met wie ons te doen het nie. Ek het maar stilletjies gehoop die ou in die ambassade verstaan nie Afrikaans nie, want ek wou nie hê hy moes uitkom en soos ’n man veg nie.

Uzi-masjiengeweer
Ek wou hê hy moes bly presies net waar hy was tot ek my uit die voete kon maak.

Telkens wanneer die kolonel en Protter op mekaar losbrand, hol ek soos ’n verskrikte haas om die hoek en in Eloffstraat af op soek na ’n rustiger plek.

Daar was in die loop van die dag ’n gedurige toestroming van joernaliste namate die storie ontvou het en nuusredakteurs elke beskikbare man, vrou en kind op hul onderskeie redaksies op die toneel ontplooi het.

So met die aanstap hoor die nuwelinge die skote klap en gewaar hulle my onderwyl ek op volle vaart om die hoek gesaag kom.

Net daar skop die oorlewingsdrang in.

Hulle steek hande-viervoet vas, vlieg om en lê die rieme neer, met my aan die voorpunt.

Dié toneel het dit verskeie kere herhaal.

Daar was destyds ’n paar haastige joernaliste wat vir Diggers en sulke plekke rugby gespeel het, maar ek roem daarop dat ek daai dag nie een keer ingehaal of verbygesteek is nie.

Ek het deurgaans 'n gemaklike voorsprong geniet en die Transvaalse rekord vir die 400 meter vir mans is daai middag waarskynlik verskeie kere verbeter, maar dit was uitputtende werk.

Wat Protter betref, hy het hom eindelik oorgegee en is tronk toe gestuur. Ek het met die verloop van tyd van die affêre vergeet, tot ek betreklik onlangs in ’n Sondagblad lees die einste Protter is deesdae nogal ’n gerekende man in die sekerheidsbedryf.

Net in Afrika.

(David Protter, ’n veiligheidswag by die Israeli-konsulaat, het op Maandag 28 April 1975 die personeel van die konsulaat gyselaar gehou en geëis om met die Israelse premier, Yitzhak Rabin, te praat na aanleiding van ’n byltjie wat hy met dié land se regering te slyp gehad het. Hy is tevore uit die Israelse leër ontslaan omdat hy as emosioneel onstabiel beskou is. Sy jonger broer, Charles, het hom in die beleg bygestaan, maar is vroeg al deur die polisie aangekeer waar hy die ontvangstoon- bank beman en besoekers weggewys het. David het hierna gedreig om die gebou met plofstof die lug in te skiet as dit bekend word dat hy die enigste terroris in die gebou is. Twee personeellede van die konsulaat en twee verbygangers het in die skietery gesterf. Sowat 30 verbygangers is gewond. Protter het hom vroeg die Dinsdagoggend aan die veiligheidsmagte oorgegee. David is later aan moord, ontvoering en die onwettige besit van vuurwapens skuldig bevind en vir 25 jaar tronk toe gestuur. Charles is op die laaste twee aanklagte skuldig bevind en tot twee en ‘n half jaar tronkstraf gevonnis. – Red.)