Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.9.12

Sulke karakters het die Afrikaanse joernalistiek kleur gegee

Willie Buys skryf na aanleiding van Japie Bosch se saamgevatte storie oor Douglas Jones: Afrikaanse joernalistiek is soveel armer sonder kleurvolle, enigmatiese karakters soos Douglas Jones en sy tydgenoot Chris Vermaak, alias ou Grim, weens sy vryelike gebruik van dié woord om donker situasies te beskryf. Albei het nou al die Groot Rivier oorgesteek, maar hul nalatenskap is staaltjies wat met nostalgie of borrelende humor oorvertel word.

Van hul soort kry jy mos nie meer so volop in die mediawêreld nie Hulle was die soort manne wat ewe gemaklik tuis was in die geselskap van mense wie se noodlotsbestemming parkbankies en bedelaarshoeke was tot die sogenaamde elite in die hoogste gestoeltes van die samelewing.

Nou-ja, dié storie is eintlik ter nagedagtenis aan Douglas Jones, oud-polisieman wat in die geskiedkundige Sharpeville-slagting in die maag gewond is. Dit is iets waarvan min mense geweet het. Douglas het verskeie poste as verslaggewer en selfs nuusredakteur in Afrikaanse Pers Bpk. en later Perskor beklee. Hy het sy loopbaan afgesluit as redakteur van ‘n gemeenskapskoerant waar hy oorlede is.

Een van Douglas se slimmighede wat my bybly, is sy gereelde, siniese kommentaar Saterdagaande nadat ons die koerant (Dagbreek) in die bed gesit en lykskouing gehou het, was iets der voege: ons hardloop soos mal goed rond, jaag “scoops” met groot moeite en Sondagmiddag hang ons werk in blokkies opgeskeur in 'n plaastoilet op die platteland.

Douglas was ‘n briljante joernalis en kon oor enigiets verslag doen. Die lewe het egter ‘n paar kronkeldraaie met hom geloop todat hy in Suidwes-Afrika, nou Namibië, uitgespoel het. Dougie se nomadiese streep het hom egter nie lank daar geanker nie en hy het ‘n werk aanvaar by die gemeenskapskoerant Die Gemsbok te Upington in die Noord-Kaap.

Sy nuwe werkgewer het ‘n reuse-vragmotor gestuur om hom en sy besittings op te laai en na Upington te vervoer. Tot die vragmotorbestuurder se verbasing het Dougie met al sy aardse besittings in een enkele reistas gepak aangestap gekom. Ondanks die komiese toneel van ‘n moewiese vragmotor vir een enkele ou tassie, het Dougie ‘n groot sukses gemaak van sy afsluitingstyd.

Dié wat Douggie naderby geken het, weet hy is ‘n man wat hard gewerk en hard gekuier het. In die laaste jare het hy egter die “sous” (in die woorde van Chris Vermaak) gelos. Chris het seker ook gesê toe hy hoor van Douggie se vertrek om aan die Groot Verslaggewer te gaan rapporteer: Dit is seker grim, maar Dougls Jones sal onthou word vir sy veelsydige kleurrykheid.