Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.8.12

Lala swem vryslag toe vlinderslag nie slaag nie

LALA WAHL skryf (uiteindelik) uit Namibië: Ai, hoe trek my hart dan nou sóóó na Empireweg-verlenging in die 70's!

Die kilometer-stap van die losieshuis oorkant die hoofingang van die magtige SAUK af.

Dit was in 1974 en ek is pas aangestel as lid van Die Transvaler se
Sportredaksie.

Gert Kotzé het my by die diepkant ingegooi – vlinderslag het nie die ding gedoen nie, maar toe ontdek ek vryslag!!

Die koppie paar keer lelik teen die bad se rand gestamp, maar uiteindelik met styl leer swem.

Haaa! Ek het mettertyd agter gekom dat John du Toit dit nie eens was met die teenwoordigheid van 'n rok op dié redaksie nie, toe dra ek maar broeke!

Nietemin, Oom Gert het my vroegtyd teen die algemene redaksie gewaarsku. Hy was baie beskermend.

Só onthou ek ook dat ek in my onkunde om die teetafel uitgeblaker het dat my kunstenaarsniggie en haar skrywerman bevriend is met Breyten. Die volgende dag was dit 'n tipiese Veiligheidspolisiestorie op DT se voorblad.

Hou den bek was die les vir my.

So had ek my skaars gehou, ek reken totdat ek die vryslag ontdek het! (lag) maar Oom Gert het my tot met sy dood bygebly. Ek was in Engeland toe Piet Ebersöhn my laat weet het.

Liewe Joe en Jules was altyd vir my soos ‘n tweede pa en ma. Jules was net bietjie te kwaai party keer. Met respek, Juweel! Dankie, Joe, ons het nie té lank gelede nie, saam met Phil en Gertjie op Hermanus gedraai. Groot voorreg vir my.

Regs: Die Hermanus-reüniegroep: Phil Zaayman, Rhoda Brynard, Lala, Louise Zaayman, Gertjie Brynard en Jules Venter.
 
Nadat ek destyds 'n draai by promotor Owen Williams as redakteur van SA Tennis Magazine gemaak het, is ek terug Perskor toe vir my daaglikse dosis adrenalien.

Dit was die beste jare van my lewe. My werk. “Scoops” gaan uithaal met natuurlik die hulp van die netwerk wat van die ambulansdiens tot by die boonste rak gestrek het.

Links: Op Hermanus:  Gertjie Brynard, Phil Zaayman en Joe Venter by die Harbour Rock op Hermanus.


Ek onthou veral ‘n bekende vir my wat wou spring en die twee grootoog konstabels by die woonstel in Hillbrow se deur. Die vrou het as prostituut by die destydse Carlton Hotel gewerk. Ek het haar die eerste keer by die landroshof gesien.

Groot was die skok toe ek haar herken deur die venster van haar woonstel waar sy op die lys gestaan het om te spring. Nog groter die skok toe sy my in 'n manstem antwoord.

Die groot probleem destyds was dat artse die snywerk aan hierdie mense gedoen het, maar dat hulle nie sielkundige ondersteuning gekry het nie. Ek dink ek het ook eintlik sielkundige berading nodig gehad die aand ná dié ondervinding. Ek was nog 'n jong ou meisietjie.

Ek kan egter met trots sê dat ek haar/hom gekeer het om selfmoord te pleeg.

So kan ek darem 'n paar van my hoofvoorbladoorwinnings vir julle opdis – ander stories op daardie blaaie sal seker vir party wat nog met ons is, herinneringe wakker maak. (Wie slaap so?)

 







Bo: Een van Lala se diepkantstories. 

Links: Willie het my nog op dié storie gesit toe ek een Sondag op Algemeen moes help! Die ou wetter! Wat wis ek van modes!? 

Oor haar huidige doen en late laat sy weet: Sedert my terugkeer uit Engeland – ek was sowat vier maande lank daar met vakansie – bring ek die meeste van my tyd in Namibië deur. Hoofsaaklik Windhoek-Swakopmund-Tsumeb. Ek geniet my gate uit – was juis nou vir 'n paar dae in Swakop. Die klimaat verskil daar hemelsbreed van Windhoek. Daar vang ons vis, maak kos en lê leeg.


In Windhoek hou ek huis, maak tuin en lê rond terwyl ek vir my verblyfpermit wag. Tussen deur moet ek gereeld landuit sodat ek nie gedeporteer word nie!! Hier is hulle baie beneuk – soos Willie Buys self 'n klompie jare gelede ondervind het – met ausländers wat hul visums se tydperk oorskrei!

My verjaardag is die einde van die maand, dan gaan ons vir 'n paar dae Etosha toe eer die warm seisoen begin! Planne is om Kersfees die Malawiese Meer te besoek.

My oudste seun, Louis, het in Januarie sy kommersiële vlieglisensie verwerf. Selfs met sy oorskakeling na die B1900-Beechcraft-vliegtuig wat 19 passasiers dra - sukkel hy egter nog om werk te kry. Oral kry anderkleurige vlieëniers voorkeur. Soos dan nou ook onlangs in die media blootgestel is met die SAL se werwingsadververtensie. Sy voorland is seker ook maar - soos sy pa – Afghanistan of Irak, die Soedan.

Wahl is nog op Stellenbosch in die restaurantbedryf. Hy is tans saam met sy vriendin in Hongarye waar hulle vakansie hou in Danie se huis wat ek 'n paar jaar gelede aan hom verkoop het.