ELMA POTGIETER skryf: Van graad I af in die eerste van vyf laerskole het ek en my ouers en suster geweet ek gaan eendag toneelspeel. Ek het botweg geweier om vir die familie voor te dra, maar toe ek die hoofrol kry van die Kaapse Nooi in Hoe Ry Die Boere in graad I in Presidentskool op Klerksdorp, was die koeël deur die kerk.
In my vyfde laerskool, Jubileumskool in Mayfair-Wes, Johannesburg,speel ek my tweede hoofrol, die Kaboutermannetjie, Repelsteeltjie, in die gelyknamige sprokie wat deur die hoof, meneer Sondorp, as ʼn operette verwerk is.
In matriek op Hoër Meisieskool Helpmekaar speel ek weer die manlike hoofrol van Captain Corcoran in die Gilbert & Sullivan operette HSM Pinafore.




































