Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.8.20

Wilma Deetlefs oorlede

RONELLE RADEMEYER skryf in Republikein, Namibië: Huldeblyke stroom in op ’n WhatsApp-groep waarop die vriende, familie, kennisse en kollegas van me. Wilma Deetlefs (64), een van Namibië se ses staatsdienskommissarisse, van haar afskeid neem. 

Sy is Donderdag dood in haar huis in Avis in Windhoek gevind. Geen vuilspel word vermoed nie.

Wilma Deetlefs
Wilma Deetlefs


Die kantoor van die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila (links onder), het haar dood gister bekend gemaak. “Ons het ’n ware, toegewyde en beroepstaatsamptenaar verloor,” lui die aankondiging. 

Wilma het die staatsdiens reeds voor onafhanklikwording betree nadat sy haar loopbaan aanvanklik as ’n joernalis begin het. (Wilma was 'n redaksieland van Die Vaderland Die Transvaler.)

Sy was nou gemoeid met die organisering van die geskiedkundige aanvaarding en ondertekening van die Grondwet vroeg in 1990. 

Wilma het in 2014 in ’n artikel in K’rant, ’n webjoernaal vir oudjoernaliste van Perskor, soos volg oor haar loopbaan geskryf: “Die geluksgodin het ’n groot rol gespeel in die rigting wat my loopbaan ingeslaan het ná jare in die joernalistiek omdat sy altyd verseker het dat ek op die regte tyd, op die regte plek was". (Lees HIER.)

Sy het in ’n onafhanklike Namibië vining die leer geklim en was ’n direkteur in die ministerie van inligting en uitsaaiwese toe sy in 2010 deur die destydse eerste minister, mnr. Nahas Angula, vir die staatsdienskommissie aanbeveel is. 

Die destydse minister van die omgewing en toerisme, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, deesdae die adjunk eerste minister en die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, die voormalige minister van inligting en uitsaaiwese, mnr. Ben Amathila, asook pres. Hage Geingob as detydse minister van handel en nywerheid, het haar sterk aanbeveel en lof uitgespreek vir haar bekwaamheid en werksetiek, wat hulle eerstehands beleef het. 

Berig in Republiein.

Sy het op die kommissie gedien tot met haar dood. 

“Wilma was beroepsgewys ’n toonaangewer, ’n sterk, dinamiese, professionele vrou met ’n werksetiek wat bewonderenswaardig was vir almal wat ooit haar pad gekruis het.

"Vir my en haar wye vriendekring was sy die mees lojale, getroue en liefdevolle vriendin ter wêreld,” sê die afgetrede joernalis Estelle de Bruyn. Hulle paaie het reeds in 1982 in Windhoek gekruis. 

Wlma laat haar man, Phillip, asook haar seun, Phillip (jnr.) en kleinseun, wat ook Phillip heet, agter. 

Vanweë die inperkingsmaatreëls sal daar geen begrafnisdiens gehou word nie. ’n Private verasssing sal geskied.