Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.5.13

’n Skinkbord bier vir die Vegkop-harlekyne

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Die nagkantoormanne het gewoonlik kort voor Vegkop se sluitingstyd by die geroesemoes aangesluit. Vernon Marais het ‘n dubbele whisky gedrink en ‘n sigaartjie gerook, terwyl die res met ‘n bier ontspan het. Almal wou gewoonlik net twee biere drink en ons het losweg boek gehou van wie vir ‘n ronde betaal het sodat iemand anders die volgende aand kan betaal.

Gert Swiegers
Die Transvaler se misdaadverslaggewer, Gert Swiegers, het aan die begin van die maand links en regs rondes gekoop, maar kuiergroepies vir ‘n bier geïnfiltreer namate sy kontantvloei verswak het. ‘n Ouer redaksielid wat Vegkop nie gereeld besoek het en nie van Gert se gulhartigheid bewus was nie, het hom op ‘n platsak keer daaraan herinner dat hy vir die volgende ronde moet betaal. Een van die manne het ingegryp en Gert se verleentheid ontlont.

Só sit ons ná betaaldag weer een aand en kuier met die gemelde redaksielid neffens ons. Gert kom ingedruis en verneem wat ons drink. Hy nooi terselfdertyd die knorrige redaksielid nader. Minute later kom Gert met ‘n skinkbord vol bier aangestap. Na skatting 24 oopgemaakte biere. Ons almal was teen daardie tyd al by die tweede of derde bier. Gert het ‘n bier gedrink en elders gaan kuier. Ons het moedig probeer, maar die bier het die stryd gewen en ons het dit stilletjies begin weggee.

Vegkop loop leeg en ons het nog ses of sewe biere oor. ‘n Witsstudent daag ná ‘n kooroefening op en is spyt dat die kroeg reeds gesluit het. Ons nooi hom nader en bied gasvry biere aan. Hy teug aan ‘n biertjie en sing gevoelvol van Magiel wat met ‘n bootjie oewer toe beur. En op sy aanwysings koor ons (vermoedelik betreklik vals) “Michael row the boat ashore”.

Daarna is ons huis toe om die oggend se spitsverkeer te vermy.