Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.5.13

Rika kry Rover en ruiker

RIKA VAN GRAAN skryf: Ruikers vir suksesvolie stories het ek nogal baie gekry. ‘n Berig oor Niek van Klaveren en sy Rover was maar een van my suksesstories.

Niek, ’n grafiese kunstenaar, het een nag wakker geword van 'n geritsel voor sy kamervenster by sy huis in Eastleigh naby Edenvale.
Identikit-skets

Hy het sy vrou wakker gemaak en deur die kamervenster se blindings geloer net om te sien hoe ’n jong blanke man agter die stuur van sy Rover sit.

Die skelm het weggery voordat Niek buite kon kom om hom te keer.

Van Klaveren het die man se gesig mooi gesien en hom na sy studeerkamer gehaas, waar hy ’n penskets vandie dief gemaak het.

Hy het my die middag by The Citizen gebel en van die petalje vertel. Ek het hom gevra om vir my die skets kantoor toe te bring. So gesê, so gedaan en die volgende oggend het die berig met die skets in die koerant verskyn.

Dié middag kry ek weer ’n oproep. Die beller wil anoniem bly. Dis ’n jong vrou wat in ’n woonstel bokant Fontana Inn bly.

Sy vertel toe dat haar vriend en sy kamerade motors steel en in Fontana se kelderverdieping parkeer vir latere verdere verspreiding.

Ek het belowe om nie te sê waar ek die inligting gekry het nie.

Hoewel Fontana in die Hillbrow-polisiegebied val, het ek besluit die sindikaat moes deur ervare manne vasgetrek word. Ek het dadelik die moord-en- roofafdeling in Brixton gebel.

Dié manne weet hoe! Binne 15 minute is ’n kordon rondom Fontana getrek, strate is afgesper, niemand kon in of uit nie.

Binne ’n halfuur was die operasie verby en vyf witmans is in polisievangwaens na die moord-en-roofhoofkantoor in Brixton vervoer.

Die vangs het uitgeloop op die oopvlekking van ’n landwye netwerk van motordiewe. Ek kan nie mooi onthou wat die vonnisse was nie.

Ou Niek was so tevrede met die reaksie van die koerantleser en sou haar sekerlik ’n vergoeding wou gee, maar sy was anoniem.

Toe is ek die gelukkige een !

’n Dag of twee later daag Niek by die kantoor op met die ruiker, ’n bottel sjampanje met vier glase. Onsmoet ’n glasie klink op sy Rover wat teruggevind is en die sukses van die koerantberig!

Ná soveel jare het ek nog steeds die vier sjampanjeglase met soete herinnering!

LET WEL: Ons het nie die bottel op ons eie leeg gemaak nie. Van my kollegas het meegedoen!