Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.5.13

Bruce leer Sipke sy eerste koerantles

SIPKE DE VRIES, eertydse verslaggewer en fotograaf van Die Transvaler, Die Vaderland en The Citizen, skryf: Soos ek al die nostalgiese verhale lees, geskryf deur helde en heldinne van weleer, lewer ek hiermee ook 'n bydrae. Dit gaan egter minder oor Die Transvaler/Die Vaderland-bedrywe waar ek nooit tuis gevoel het nie, maar liewer oor my oorlede vriend, Bruce Taylor.

Toe ek as 'n jong fotograaf vroeg in 1963 by die Transvaler begin werk het, was Bruce reeds 'n gesoute koerantman, sewe jaar ouer as ek, wat hom oor die jongeling ontferm het. Hy het my dus ook die eerste les in praktiese joernalistiek gegee nadat Gert Hattingh my vir so 'n maand of twee in sy donkerkamer die fyner kunsies van donkerkamerwerk geleer het. So gemaak.

Ou Carlton-hotel
Dit was 'n skemerkelkie by die ou Carlton-hotel op die hoek van Eloff- en Kommissarisstraat. Seker maarweer 'n klomp Afrikanersakelui, Broederbonders, politici of iets van dié aard.

Daar aangekom, Bruce met sy notaboek en ek met kamera en strobe gewapen, gee Bruce my die opdrag: “Gaan na die kroegtoonbank en kry vir ons ses biere (‘Old Dutch’ was dit nog) en twee glase. Ek sal hier by die tafeltjie bly staan.” So gedaan. Ek het intussen nog 'n skinkbordjie ook gekry en bring die biere en glase na die tafeltjie waar Bruce betreklik ongeduldig wag. Toe ek vir hom vra, wat nou, sê hy: “Hier's vir jou 'n glas en drie biere. Drink dit maar.”

Hy gee my toe die verduideliking dat as jy op hierdie manier jou biere bestel jy nooit in die gedrang beland om jou biertjie te kry, of lank op jou beurt moet wag nie. Ek onthou dat ons op die wyse dié bestelling 'n keer of wat herhaal het.

Dit was dus my eerste joernalistieke les in Johannesburg.

En ja, ek het wel my foto geneem en dit was die volgende dag in die koerant op die sosiale blad.

Foto bo: Die Dev (Devonshire-hotel). Dit was ek en Bruce se hoofkwartier. Ek het in 1963 vir 'n paar maande daar gewoon. Eerste verdieping, tweede venster van regs. Baie meer klas gehad as Vegkop!