Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.5.13

Dié verslag het dalk die doodsklok gelui

GERHARD BURGER skryf: Die besluit om Perskor se laaste Afrikaanse dagblad te sluit, is moontlik geneem op grond van ʼn verslag wat die laaste redakteur van Transvaler op ʼn dag aan dr Koos Buitendag oorhandig het.

Wie almal by die besluit betrokke was en of party van hulle nog lewe, kan ek nie sê nie. En of daardie verslag inderdaad die deurslag gegee
het, weet niemand seker nie. Die aanloop tot die sluiting van Transvaler was nogal lank. Die skrif was al ʼn hele paar jaar aan die muur voordat daardie verslag geskryf is.

Koos Buitendag
Die storie loop min of meer só:

Gedurende een van die talle gesprekke waarvoor elke redakteur oor baie jare “boontoe” ontbied is, het wyle dr Buitendag my eendag reguit gevra: “Wat gaan julle doen om die koerant te red?”

Miskien is dié vraag ook gedurende hul ewe kortstondige redakteurskap aan Gert Kotzé en Gerrit Velthuysen gestel. Wie sal weet?

Ek het reeds ʼn vermoede gehad van wat my antwoord gaan wees, maar ek het “Oom Koos” gevra om my ʼn week of twee tyd te gun.

Om navorsing oor die inhoud en aanslag van suksesvolle koerante te doen, was destyds nie so maklik en vinnig soos nou nie, maar die senior redaksielede het teen dié tyd darem al heelparty dinkskrums gehou.

Die oorskakeling na tabletformaat, ʼn nuwe mashoof, uitlegveranderinge, ander lettertipes en elke splinternuwe en stokoue kunsies wat reeds op die proef gestel is, sou nie werk nie. Nie eens Johnny Johnson van The Citizen kon veel help nie.

So twee of drie weke het verloop voordat ek die verslag aan dr Buitendag gaan oorhandig het; seker vyf of ses bladsye waarvan ek die afskrif lankal weggegooi het.

Dot Kruger
Toe Dot Kruger die volgende dag bel en sê “hy” wil my spreek, kon ek nie naastenby raai wat sy reaksie sou wees nie.

“Wil jy vir my sê middagkoerante het geen toekoms nie?” wou hy weet. “Sê jy ons moet Transvaler toemaak?”

“Ek sê nié ons moet Transvaler toemaak nie,” het ek gesê. “Ek sê net daar is, sover ek kan vasstel, geen middagkoerant ter wêreld wat groei nie. Omtrent almal gaan agteruit.”

In die verslag was besonderhede van wat elders aan ‘t gebeur was: die Argus-groep wat sy middagkoerante na die oggendmark begin skuif het, bewegings in die Verenigde State, Europa, Australië en Nieu-Seeland. Die Evening Standard was toe reeds die kleinste van alle dagblaaie in Londen en sy verkope het aanhoudend gedaal.

Dirk Richard
In Suid-Afrika het televisie steeds die skuld gekry dat mense nie meer middagkoerante koop nie. Maar middagkoerante was lankal nie meer wat hulle in Dirk Richard se tyd was nie. Destyds het Die Vaderland se eerste uitgawe elfuur gesak en in die laaste uitgawe was soms die teetyd-telling van die toetskrieket op die Wanderers. Op ʼn kol het ons tot nege bladsye sport gedra – breëblad-bladsye.

Toe kom die petrolskaarste en spoedbeperkings en probleme om die koerant betyds op die plattelandse dorpe te kry. Algaande is die saktye vroeër en vroeër gemaak, totdat ons in die laaste dae van Transvaler soggens vyfuur begin werk het en die koerant voor agtuur in die fabriek was.

Die produk het oor die jare ál swakker geword, soos Dirk Richard al in Aucklandpark gekla het.

Maar middagkoerante het nie net in Suid-Afrika gesukkel nie. Byna oral ter wêreld het hul advertensie-inkomste en verkoopsyfers geval.

In Suid-Afrika was daar omstreeks 1990 al geen toekoms vir ʼn Afrikaanse middagkoerant nie. Iemand moes dit net hardop sê.

Hoe lank dit geduur het voordat die onvermydelike aankondiging gedoen is, kan ek nie onthou nie, maar dit was seker nie langer as ʼn maand ná daardie verslag nie.

'n Ander Storie

Oor hoe dit gebeur het dat ʼn man wat in sy hele lewe nie ʼn enkele dag op universiteit was nie Transvaler se redakteur geword het, is ʼn ander storie vol vaaghede.

Marius Jooste
Willem de Klerk
Dit het seker begin toe Marius Jooste my die dag ontbied en gesê het hy gaan Willem de Klerk “fire” en hy wil hê ek moet die ou Transvaler oorneem. (Lees berig hier.) Gelukkig het daardie plan deur die mat geval.

Maar soos so dikwels by koerante gebeur het, is ʼn bruikbare sportskrywer “bevorder” voordat hy sy vakleerlingskap kon voltooi. Ek is in die jare 80 parlement toe gestuur – seker ter voorbereiding vir wat die bestuur ook al beoog het.


Dit is waar ek die aakligste tydperk van my loopbaan as joernalis belewe het. Die politiek, en heelparty politici, het my – soos ʼn oudkollega altyd gesê het – teen die borste gestuit. 

Harald Pakendorf
Ná Harald Pakendorf se vertrek wou “die bestuur” my redakteur maak. Ek het mooi met dr Buitendag gaan praat en gevra daar moet ʼn oorgangstydperk wees; ek sou onder Gert Kotzé inval.

Die skuif het nie die gewenste gevolge gehad nie. Kort voor lank word die hele redaksie eendag byeengeroep en dr Buitendag kondig aan: dr Gerrit Velthuysen word hoofredakteur van Transvaler.

André du Toit, wat vlak voor my gestaan het, het kliphard gesê: “O ***! Nog ʼn ****** predikant.”

Die “predikant” kon ook nie die ommekeer bewerkstellig nie. Maar om die koerant onder sy redakteurskap te sluit, sou ʼn erge verleentheid in sekere kringe veroorsaak het. Toe word hy die grootbaas van Perskor-boeke en later hoof van die tydskrifte in Durban.

Neil Steyn
Herman Snyman
Ek en Neil Steyn en Herman Snyman is in ʼn stadium aan ʼn reeks psigometriese, sielkundige en IK-toetse onderwerp wat die bestuur moes help besluit wie volg dr Velthuyzen op.

Dalk is daar lootjies getrek.

Uiteindelik was ek, soos Hendrik Verwoerd, redakteur van (Die) Transvaler. Daarvoor het ek ʼn Toyota Corolla as maatskappymotor gekry; nogal ʼn 1600. Willem de Klerk het seker gelag.

Willem Wepener
Gedurende die voorafgaande jare het ek ʼn aanbod van Tertius Myburgh aanvaar om Sunday Times toe te skuif. En toe kleinkoppie getrek. Toe het ek ʼn aanbod van Andrew Drysdale van die hand gewys om vir die Argus toe gaan werk. Ek het met Willem Wepener hand geskud oor ʼn aanbod om by Die Burger in te val. En my deur Koos Buitendag laat ompraat om dit te laat vaar.

Ná Transvaler se afsterwe het ek ook nie kans gesien om saam met ʼn ander predikant by Rapport te gaan werk nie.

Berou? Nee wat, ʼn mens kan mos nie berou hê oor die paaie waarop die Goeie Vader jou gestuur het nie. Nie eens die pad parlement toe nie, waar ek eendag vir FW de Klerk gesê het hy moenie *** praat nie.

Maar dis ʼn ander storie daardie.