Die toergroep het ‘n busreis in die Suidelike Alpe onderneem en tee
gedrink by ‘n restaurant hoog in die berge. Toe ons terugstap na die bus, skrik ons groot toe ons sien dat die bus intussen ‘n hele paar tree vorentoe beweeg en teen ‘n muurtjie by ‘n afgrond tot stilstand gekom het.
Gert Kotzé |
Gert, wat namens Die Vaderland sy tweede rugbytoer in Australasië gedek het, skop net daar vas: “Nee,nee! Niemand was in die bus nie; niemand se lewe was in gevaar nie; die bus het nie oor die afgrond gestort nie. Ons los dit daar.” En niemand het ‘n woord daaroor geskryf nie.
Gert, wat aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer het, het by Die Burger en Die Oosterlig gewerk voordat hy in 1953 by Die Vaderland ingeval het. Hy het sportredakteur van Die Vaderland geword en later redakteur van Die Transvaler.
Ek het hom vroeg in my joernalistieke loopbaan leer ken as gerespekteerde rugbyskrywer.
Maar ek het die netjiese Gert, wie se hare altyd perfek gekam was, ook vroeg in my loopbaan as mens leer ken. Hy was in 1965 sowat drie maande lank my kamermaat in hotelle in Nieu-Seeland.
Hy was ook my gholfmaat wanneer daar ‘n kans was om die stokke te swaai. In Brisbane, Australië, het ons saam ‘n lelike stel afgetrap. Ons wou op ‘n pragtige baan buite die stad nege putjies speel. Ons huur elkeen ‘n stel gholfstokke by die plaaslike beroepspeler vir wie ons moes belowe dat ons ‘n sekere tyd terug by die klubhuis sou wees.
Om verslag te doen van ’n gholftoernooi kan uitputtend wees! Gert Kotzé en Herman le Roux geniet ‘n blaaskans langs ’n setperk. |
Maar dit het langer geduur as wat ons gehoop het en toe ons die klubhuis nader, het die Australiër en sy assistent ons aggressief ingewag. Mooi praat het nie gehelp nie en die stokke is behoorlik uit ons hande gegryp. Die twee Aussies was briesend, want hulle het pas hul trein verpas. Ons het baie skaam en jammer daaroor gevoel.
Gert se voornaam is moeilik deur Engelssprekendes uitgespreek en hy het voorgestel dat hulle hom Kirt noem. Een aand in Christchurch nooi Don Clarke, beroemde All Black-heelagter, ons saam na ‘n byeenkoms van oudsoldate waar hy as gasspreker moes optree.Toe Clarke ons as sy gaste bekend stel, was sy beste poging met Gert Kotzé se naam “Kate Kotz”.
Gert het as sportjoernalis nooit geskroom om sterk standpunt in te neem nie en hy het menings uitgespreek wat gewig dra.
Een besondere uitspraak van hom sal my altyd bybly. Toe dr Danie Craven in ‘n stadium kwaai in die spervuur was en onkundiges allerhande menings oor hom kwytgeraak het, het Gert geskryf: “ Is daar iemand in die wêreld wat meer weet van rugby as Dok Craven en is daar iemand wat harder werk vir die spel as hy?” Hiermee het hy baie monde gesnoer.
Gert se begrafnisbrief |
Een van Gert se laaste foto's |
Gert het ‘n sterk belangstelling in die politiek gehad (sy broer Pen was ‘n Volksraadslid) en hy het twee boeke oor die invloed van politiek op SA sport geskryf: Sport en Politiek (1978) en Politieke Magsgreep: Die Vloek van SA Sport (2003).
Ek en Gert was in die jare tagtig en negentig beoordelaars wat jaarliks die SA Brouery se Sportskrywer van die Jaar moes aanwys. Ons het ook in die keurkomitee gedien wat die SAB se Heldegalery moes aanvul.
Wat ‘n voorreg was dit nie om met so ‘n kundige saam te werk nie.
Toe Gert vroeër self in die Heldegalery opgeneem is, is onder meer oor hom geskryf: “Sy goeie taalgebruik en gedissiplineerde styl het hom bo sy tydgenote laat uitstaan. Sy voorbeeld en leiding het veel tot die opleiding van talle goeie sportskrywers bygedra.”
Só sal ek Gert onthou. Hierdie “Silver Fox” was definitief nie ‘n “Mister van Gister” nie!
• Hy is op 17 November 2011 in die ouderdom van 85 oorlede.