Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.5.13

… en Abel dril die generaal

JOE VAN BUUREN skryf: So ‘n vinnige herinnering nadat ek Andries se storie oor Abel Jones gelees het. Dit herinner aan die keer toe ek en Abel na die destydse Suidwes-Afrika is om ‘n storie te doen.

Ek kan nie mooi onthou waaroor dit gegaan het nie, maar ek meen die Weermag het ‘n groot klomp wapentuig, wat van Swapo gebuit is, aan die media getoon.

Genl Jannie
 Geldenhuys
Ek en Abel het rondgestap op soek na ‘n goeie foto toe ons die destydse hoof van die Weermag, genl Jannie Geldenhuys, gewaar.

Net daar pluk Abel die generaal aan die arm en sê: “Hoor hier, kom staan jy hier, ek wil ‘n foto neem.”

Geen generaal is natuurlik nie gewoond aan sulke behandeling nie, maar genl Geldenhuys, immer die jintelman, het Abel ‘n paar oomblikke stil aangekyk voor hy ewe gedweë gaan staan het waar Abel vir hom aangedui het.

Ek was erg verleë en nadat die foto gneem is, het ek genl. Geldenhuys hartlik bedank vir sy samewerking en gesorg dat dat ek hom verskeie kere as “generaal” aanspreek, maar teen daardie tyd was Abel reeds op soek na sy volgende foto.

Ek onthou ook Abel het in so ‘n snaakse huisie naby die nuwe pers gewoon, moontlik in Yeoville. Die besonderhede ontgaan my nou, maar ek onthou ons het een aand daar ‘n partytjie gehou waaroor mense jare lank gepraat het.