Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.5.13

Bulmedewerkers help K’rant bou

WILLIE BUYS skryf oor die inhoud van K’rant se afgelope paar uitgawes:

Ek weet ek is nie eintlik veronderstel om kommentaar te lewer op die inhoud van K’rant nie weens my intieme kennis van die binnewerke daarvan as mederedakteur, maar tog!

Ek sit hier op ‘n Saterdagmiddag met ‘n ledige uur of twee wat verwyl moet word voordat die gemiddelde Suid-Afrikaner se algemeenste tydverdryf aan die gang moet kom – NEE, nie een wat met die letter S begin nie, maar die een met die R vir RUGBY! Ek haal toe maar in op my agterstallige leeswerk van die laaste paar uitgawes van K’rant.

Enkele opmerkings: Ek begin by die artikel(s) wat (na my mening) een van die veelsydigste en bedrewendste Afrikaanse joernaliste van ons tyd, Gerhard Burger, gelewer het en hopelik nog gaan lewer. Gerhard, ek eer jou al van jou sportredakteursdae, rubriekskrywer van die befaamde Voetap in Die Vaderland en ook jou redakteursdae van ander Perskorpublikasies. Van toentertyd af heg ek baie waarde aan jou eerlike, ordentlike en gesgahebbende skryfsels.

So was dit ook met jou mees onlangse bydrae oor die finale nekslag vir die gewese oggendblad Transvaler. Let wel, ek skryf Transvaler sonder die Die, want Die Transvaler het deur verskeie transformasies gegaan in die skouspelagtige post-Willem de Klerk-era inploffing wat uiteindelik die voorloper was van die tragiese heengaan van die eens magtige Perskor.

Ek het ook ‘n stuk geskryf oor my interpretasie van die gebeure wat gelei het tot een van die opspraakwekkendste hoofstukke in die geskiedenis van die Afrikaanse perswese hier te lande. Ter wille van helderheid: my stuk het gegaan oor die lang aanloop tot die uiteindelike tragedie waarin alles geëindig het.

Daarteenoor het jou stuk as aanvuling gedien as die kartering van waar Transvaler se slingerpaadjie in onvermydelike finaliteit tot stilstand gekom het. Ek glo geskiedskrywers (indien enige) sal ‘n baie goeie verloop van sake kan saamstel uit almal se bydraes. ‘n Laaste woord aan jou: ek het jou bydrae baie geniet, seker oor ek 'n groot deel van my lewe gewy het aan die kom en gaan van Perskor.

Nog ‘n gereelde en gewaardeerde bydraer is Peet Simonis. Almal wat Peet ken, weet Peet is Peet. Hy sal jou sommer maklik van die afgrondspaadjie ompreek tot die smalle weg! En nêrens blyk sy gemoedelike, diplomatiese aanslag tot die lewe beter as sy mees onlangs storie oor wyle Die Landstem nie! Hy het ‘n stelling wat verkeerdelik aan hom toegedig is, met finesse uit die weg geruim met ‘n wetenswaardige lessie daarby oor waar die gesegde eintlik vandaan kom!

Peet het nie aangedring op ‘n regstelling nie, maar dit sommer self gedoen. Knap gedaan, mnr Simonis!

Die gewraakte gesegde? Moenie dat die feite inmeng met ‘n goeie storie nie. En ek stem volmondig met Peet saam dat al ons joernaliste maar net menslik is en foute begaan. Dit is ‘n motto wat ek regdeur my loopbaan-hoofstuk as verbruikersredakteur by een van die hoofstroomkoerante toegepas het met dié byvoegsel: dit is HOE jy jou foute regstel, wat saak maak! Dit is min of meer gelyk aan die gesegde van rugbyspelers as hulle uit spanne weggelaat word: dit is nie ter sake hoeveel keer jy val nie, maar hoe jy terugbons!