Toe ek die ander dag weer van oom Hermie Hendriks lees, duik dié storie in my geheue op.
Die vragmotorbestuurder se naam sal ek nooit vergeet nie – Nagel. Hy
het by 'n groot vragvervoeronderneming op Alberton gewerk en hy moes ’n vrag goedere Noord-Rhodesië (wat toe pas Zambië geword het) toe neem.
Kenneth Kaunda |
Soos baie ander Suid-Afrikaners was mnr Nagel ook maar baie onseker of die swartes in Zambië sal regkom. Die mense het baie gespot en iemand het ’n spotprent geteken met die titel: “Kaunda’s Army”. Daarop het hulle ’n klompie swartes op verskillende diere – buffels, sebras ens – geteken; almal op soek na die vyand. En Kaunda het bo-op ’n olifant, tussen sy ore, gesit met ’n verkyker voor sy oë. Voor het nog een gestaan wat die olifant se slurp reguit gehou het waarin n spies was. Agter het een gestaan by ’n groot blok hout waarop die olifantbul se kroonjuwele gelê het. Nog een het met ’n groot hamer vlakby gestaan.
Die idee was skynbaar dat as die vyand gewaar word, gee Kaunda die teken en die man slaan die olifant met die hamer op 'n plek waar jy nie ’n olifant wil slaan nie. Dan skiet die pyl by sy slurp uit en die vyand is in sy peetjie.
Almal het seker maar oor die spotprent geglimlag, behalwe die polisie in Zambië. Hulle het mnr Nagel by die Zambiese grens voorgekeer en sy vragwa deursoek. En toe kom hulle op die spotprent af en neem hom in hegtenis. Aan die wêreld is vertel hy is ’n spioen.
Hoe lank mnr Nagel in ’n Zambiese tronk gesit het, kan ek nie meer onthou nie, maar dit was lank.
Toe hy uiteindelik vrygelaat word, kom hy per vliegtuig terug Suid-Afrika toe. As Die Transvaler se verslaggewer moes ek ’n storie op die ou Jan Smutslughawe oor die man se aankoms gaan doen.
Dit was ’n woeste gespook op die lughawe, want mnr Nagel het intussen sy storie aan die Sondagpers verkoop en het ons ander joernaliste probeer ontduik.