Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.5.13

Toe wys ek David waar die wortels begrawe lê

PHILIP DEETLEFS skryf: As ek uit my Perskor-dae fotograaf dink, kom daar ‘n klompie herinneringe op.

Toe ek by Die Transvaler begin werk het, is die verslaggewers aangemoedig om ‘n eie kamera te kry en self foto’s te neem en ek sou raai dis om die salaris van nog ‘n heeltydse fotograaf te kon spaar. Vakbonde (in die Afrikaanse perswese) het toe nog nie bestaan nie.

Deel van die besparingsveldtog was dat jy jou eie film op die kasette van ‘n groot rol film gelaai het. Kort rolletjies vir stories wat net ‘n kop-en-skouers-foto sal oplewer en film vir 36 foto’s vir “groot” stories. En wee jou as jy met een foto op ‘n lang film by die donkerkamer opdaag!

Kontakafdrukke
Ek sal nie my kop op ‘n blok sit nie, maar ek verbeel my Perskor het jou nog gehelp met die finansiering van ‘n kamera (maandeliks van jou salaris verhaal). Jy het darem ook ietsie ekstra gekry vir ‘n foto wat in die koerant gepubliseer was. Kleurfoto’s het meer sakgeld gebring as swart-en-wit foto’s.

Jy het jou film van die storie by die donkerkamer ingegee vir ontwikkeling en as dit nie net ‘n kop-en-skouers-foto was nie, is daar kontakafdrukke van jou film gemaak sodat die nuusredakteur kon kies watter foto hy op die 10 x 8-afdruk wou aanbied.

Fotograaf David Briers was ‘n fris man gewees met wie vredeliewende ouens soos ek nie uit eie keuse deur die toue sou klim nie. As ek reg onthou, het Dawid destyds ook sy kleure as Junior Springbok in amateurstoei gehad? Taai kalant! Soos Piet Ebersöhn, was ek ook nie lief vir slange nie. Eintlik maar net verskriklik bang en klaar! En David het dit geweet. Een dag toe ek met my rolletjie film by die donkerkamer instap, het David gereed gestaan vir my en in die half-donker ‘n yslike groot rubberslang oor my nek gegooi.

Ek het so groot geskrik dat ek en ‘n emmer vol adrenalien man-alleen vir David net daar onder die rooi lig in ‘n half-Nelson beetgekry het en op die grond laat beland het! Ek onthou ook hoe Gert Hattingh vir enige “motor drive” van ‘n kamera ore kon aansit by ‘n sportbyeenkoms waar jy klompe foto’s in min tyd wil neem. Gert het met die hand vinniger foto’s geneem as wat die kamera outomaties kon regkry!

Gert Hattngh
Frank Rousseau
Gert was ook een van die heel beste fotograwe om saam met ‘n jong verslaggewer op ‘n storie te gaan. Hy het soveel ervaring gehad en was nooit suinig om vir jou wenke te gee nie. Hy het nooit op jong verslaggewers neergesien nie en het graag in ‘n onderhoud op sy onskuldige manier die regte vraag gevra wat die opskrif vir more se hoofberig kon sorg. Leermeester duisend!

Fotograwe Jan Hamman en Frank Rousseau van Die Vaderland het ook graag hul wye ervaring met die jongelinge gedeel.

‘n Verslaggewer kon ook maklik sy status na “persfotograaf” verander om misbruik te maak van die byvoordele wat dit kon bied.

As jy ‘n meisiekind kon opspoor wat dit oorweeg het om ‘n model te word, het hulle makliker met hul bates gepronk as hulle weet jy sal die film self ontwikkel pleks van die fotowinkel waar die publiek sommer van buite af kon kyk hoe meer “sensitiewe” foto’s deur die masjien gaan.