ANDRIES BOTHA skryf: Thijs Nel se storie oor sy kunslesing aan Hermie Hendriks se studente (lees hier) het my aangegryp en behoorlik tot stilstand laat kom. Uitstekende stukkie werk, Thijs. En daai gedig!
Ek wens jy wil Afrikaanse liedjies skryf. Ons kort ‘n geestelike inspuiting in ons “baby, baby”-ledemate om ons weg te ruk uit submiddelmatigheid. Soms lyk dit asof musiek al manier is om die massas te bereik.
En oor NP van Wyk Louw. Ek onthou nog hoe sy Pluimsaad baie ver gewaai het nadat dr Verwoerd die opvoering daarvan in die Johannesburgse Stadskouburg laat stopsit het oor dit “volksvreemd” was. Van Wyk Louw het in daardie tyd ‘n toespraak voor die Johannesburgse Rapportryers in die deftige ou stasierestourant behang met Pierneef- en ander skilderye daaroor gepraat.
Hy was redelik aggressief oor spraakvryheid wat gedemp word, maar tog ook oneindig weemoedig dat sy volksgenote so kleinsielig is.
Hy was inderdaad ‘n baie groter figuur as die politici wat sy goue woorde vertrap het. Hulle is hoogs vergeetbaar, maar sy woorde het ewigheidswaarde.
(Lesers kan dit interessant vind dat ‘n gewese oudkollega, Vernon Marais, by geleentheid die kurator was van die Louwhuis op Sutherland waarna Thijs in sy artikel verwys. – Red.)