Hiervan getuig sy toekenning as Motorskrywer van die Jaar, waaroor
berig word in ‘n ander nuusitem wat in K’rant verskyn het (lees hier). En die feit dat ook oorlede Frans du Toit, destydse nuusredakteur, Evert met deernis “Ghriespomp” genoem het.
Wat Evert aan akademiese kwalifikasies tekort geskiet het, het hy dubbel en dwars voor opgemaak met sy kennis van karre, en ek meen álle motors. So het hy in sy omswerwinge afgekom op ‘n onklaar Jaguar-sportmotor van die E-soort.
Dié vaartbelynde dop het hy teen ‘n appel en ‘n ei gekoop en dit stukkie vir stukkie, onderdeel vir onderdeel, oor ‘n lang tydperk opgebou het tot ‘n pragstuk wat die oë laat rek het.
E-tipe Jaguar |
Nog ‘n voorval, minder aangenaam vir Evert, duik ook spontaan in my geheue op. Evert het een middag laat skuimbekkend van woede in my kantoor instorm waar ek nuusredakteur van die destydse Die Transvaler was. Hy was só kwaad dat hy amper sy tong en woorde ingesluk het. Maar hy het tog daarin geslaag om by my te kla oor ‘n ander motorskrywer wat saam met hom by een of ander motorpartytjie was en hom toe ná ‘n argument aangerand het.
Laastens: Evert se toewyding aan motors, motors en nogmaals goeters wat meganies aangedryf word, het gegrens aan obsessiewe fanatisme. Toe hy in die laaste tydperk van sy lewe deur ‘n hartaanval neergevel is, het hy aan sy vrou Anke gevra dat hy begrawe moes word met sy notaboek en ‘n pet, wat altyd op sy kop was tydens motorwedrenne, op sy kis of sy bors.
Dit het so geskied en ek is seker Evert-Ghriespomp lag nou lekker daar waar hy sy geliefde Jaguar se revolusies verby die rooilyn opjaag ter akklamasie van ‘n K’rant wat hom nie vergeet het nie! En ek is seker die notaboekie is al tjok-en-blok volgeskryf oor hemelwedrenne vol weeldemotors.
Lig die pette hoog vir Evert en gee ‘n laaste saluut terwyl die enjins huil en die gemeganiseerde wonderwerke van vandag ‘n laaste taptoe toeterlangs uittrompetter!