Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.5.13

Hoe ry die trein, die Ellisparkse trein …

PIET EBERSöHN skryf: Ten tye van die inwyding van die herboude Ellispark in 1982 het ‘n klompie van ons in ‘n huis in Lyttelton, Pretoria, net oorkant Sportpark-stasie, gewoon.

Ons kom toe op die blink gedagte om ‘n groepie geesdriftiges byeen te roep en vir die groot geleentheid per trein van Sportpark af Ellispark toe te reis. Laasgenoemde het mos ewe gerieflik sy eie stasie.

Wim van der Berg
Om solank gees te vang, gooi ons die oggend tuis eers ‘n paar stukke vleis op die kole. Wim van der Berghet selfs van Johannesburg af Pretoria toe gery om die geleentheid mee te maak! Toe die tyd aanbreek, stap ons baie gesellig oor die pad Sportpark toe en haal die trein. Die rit was net so gesellig. Ons het selfs met die masjinis, ‘n oom Smuts, gaan blad skud.

Die nuwe stadion is baie suksesvol ingewy, en ons gaan vier dit toe maar by Vegkop. ‘n Vinnige navraag het aangedui dat die laaste trein Pretoria toe om halftien die aand vertrek – genoeg tyd om Ellispark se nuwe dak mooi nat te maak. ‘n Paar van die manne is wel vroegaand al terug Pretoria toe, maar enkeles het vir die laat trein voorberei.

Toe die bittereinders halftien aanmeld, moes ons verneem dat die laaste trein Pretoria toe pas vertrek het. Al genade was om die volgende trein Springs toe te haal en op Germiston oor te stap op ‘n trein wat Pretoria toe gaan.

Wim het verkies om sy vrou te bel om hom huis toe te gaan haal. Dan sou hy maar die Sondag sy kar in Pretoria kom haal.

Joël Kotze
Theo Kleyn
Ek, wyle Joël Kotze en wyle Theo Kleyn het die Springs-oplossing aangegryp.

Op Germiston aangekom, verneem ons die Pretoriase trein het ‘n halfuur tevore vertrek. Die volgende een is eers om seweuur Sondagoggend.

Al wat oorbly, is dan ‘n taxi. Ons doen navraag, maar met die geld wat ons by ons het, kan ons slegs ‘n rit van die stasie tot by die N3-snelweg bekostig. Dan maar daarvandaan Pretoria toe duimgooi. So gesê, so gedoen.

Duimgooi? Drie volwasse mans, twee van groter as die normale afmetings? Ná middernag? Dink weer!
Ons begin toe maar stap.

Ná ‘n ruk sê Theo, wat in Kemptonpark grootgeword het: “Ek ken hierdie wêreld. Ons het nou al vyf kilometer gestap!”

Ons stap verder.

Theo: “Ek ken hierdie wêreld. Ons het nou al tien kilometer gestap!”

En verder.

Theo: “Ek ken hierdie wêreld. Ons het nou al 15 kilometer gestap!”

Teen die tyd dat Theo se kennis van die omgewing ons 30 kilometer ver gevoer het, is ons genadiglik by die lughawe – so teen halfvyf die Sondagoggend – en van die hotel af bel ons ons oorblywende huismaats om ons te kom haal.

Ek het later die afstand gemeet. Dit was darem net sewe kilometer!

Nes in die volksliedjie was daar ook ‘n Kimberleyse trein in my koerantloopbaan – die slag toe ek (as
huursoldaat vir Die Vaderland) en Christo Lemmer (vir Die Transvaler) Diamantstad toe is om oor ‘n rugbywedstryd tussen die Griekwas en Suidoos-Transvaal te berig.

Perskor het ons van retoertreinkaartjies Kimberley toe en terug voorsien, maar niemand het daaraan gedink om die treinrooster na te gaan nie. Toe ons op Kimberley afklim, stel ons vas die eerste Sondagse trein terug Johannesburg toe vertrek eers laatmiddag – en ons moes albei die Sondag werk.

Die uiteinde was dat ons uit eie sak moes terugvlieg. Gelukkig was vliegkaartjies toe nog bekostigbaar.