Dit was werklik ‘n “dial a quote”-geval. Veral as dit komkommertyd is,
die blad moet sak en Johan de Beer raak nukkerig oor die tekort aan stories.
Eugene Terreblanché |
Ek het weldra geleer ‘n mens moet net vir “oom Gene” vra, dan word jy dadelik deurgeskakel.
Dit was moeilike tye. Die AWB was toe nog soos ‘n swerm perdebye.
Ek het hom in sy blou BMW vergesel, cane en water gedrink en op ‘n sinkplaat gebraai. Ek het sy Hoofraadsvergadering in The Meat & Eat in Hatfield bygewoon, gedurig onder die wakende oog van sy borselkop Ystergarde-manne wat altyd voorgekom het asof hulle ‘n pofadder se kop sal afbyt.
Die storie wat egter my deurgaans aan die tyd herhinner was die AWB-vergadering in Rustenburg se stadsaal. Dawid, een van ons drywers was altyd gewillig om my op die verre paaie te neem. Hy was ‘n ou korrelkop swartman, ‘n leser van formaat; veral Afrikaanse romans. Sy gunsteling in destyds was Etienne le Roux se werke.
Ek het die hele reeks in my eie versameling gehad en het die bepaalde aand vir hom Magersfontein o Magersfontein geleen.
By die stadsaal aangekom, het die bestuurders van die verskillende koerante hul joernaliste voor die trappe afgelaai en die motors so 200 meter verder onder ‘n lappie bloekombome gaan parkeer. Ek is ook voor die trappe afgelaai, en is vinnig die trappe op.
Ek en Frikkie Odendaal, wat daardie tyd vir Beeld gewerk het, is deur die Ystergarde na ons plekke reg in die eerste ry voor die verhoog geneem. Frikkie het, soos dit sy persoonlikheid betaam, ‘n paar “clogs” aangehad. Aan sy voete het hy ‘n paar skelrooi sokkies gedra.
Regs van ons het ‘n kameraman van Franse oorsprong gesit, ‘n vriendelike kêrel wat geen woord Afrikaans verstaan het nie.
Ons het pas ons gemaklik gemaak toe die bekende AWB refrein begin. Van agter het Eugene en sy garde aangekom met oom Mossie, die dominee, voor en Eugene se lyfwagte weerskante.
Ná die opening met skriflesing en gebed het Eugene sy teatrale tirade begin. Omdat dit ‘n mynergemeenskap is, was sy boodskap in die kol. Met sy baritonstem wat oor die luisprekers basuin, het hy met die volgende begin:
“Net wes van hierdie gebou, het ‘n eenvoudige mynershuis gestaan. Vroegoggend, voor sonop, het die moeder haar man se voedsel, wat sy met die liefde van ‘n Afrikanervrou voorberei het, in sy trammel gepak en hom na die voorhekkie vergesel. Daar het sy hom gekus en weggestuur na die myne waar hy vier kilometer onder hierdie aarde die wêreldekonomie beheer!”
Die reaksie op sy openingsalvo was oorverdowerend. ‘n Kakiegeklede vrou agter my het haar haar hele stel valstande verloor. Regs voor het die Franse kameraman op die verhoog geleun en sy kamera, met ‘n verstommende blink lig, deurgaans op die Leier gehou.
Sonder om asem te skep of sy sakdoek ‘n slag oor sy mond te trek, het Eugene streng geskreeu: “Sit af daai
lig!”
Hoe die Fransman verstaan het weet nugter alleen, maar die lig is afgesit!
Langs my het Frikkie iets gesê van “File”, opgestaan en die gang afgestap voordeur toe. Weer, sonder ‘n nuwe asemteug, het Eugene, sy mond afgevee, Frikkie so gekyk en gesê: “Daar stap die rooihakskeen-pers ook!”
Frikkie het nie weer teruggekom nie.
Ná afloop van die vergadering het ek my weg na buite gevind. Buite, voor die trappe en onder die AWB se diknekke het die wit Perskor-Toyota gestaan met ‘n rustige Dawid binne; aan die lees.
“Hallo Dawid, wat de moer doen jy hier, die manne sal jou mos doodmaak?” was my eerste woorde aan hom.
“Nee wat, Johan, moenie kommer nie,” was sy antwoord. “So ‘n mal Boer het gevra wat ek as K@ff*r hier maak, maar ek het aan hom die Afrikaanse boek gewys en gesê: “Baas, as ek nie hier is nie, gaan my Baas my moer!”
Ons het so gelag dat ek eers in die kantoor aan die skryf geraak het.