En toe sien ek die volgende dag wragtig die foto en storie in? K’rant van Hermie se ‘Skool’ op my skermpie, danksy die aanstuur van ou Gerhard Kleijn.
Waar is julle almal? Wat doen julle? Hanlie? Nicolene? Buks? Johan? Molly? Harry? Maureen? My klasmaats..
Hermie Hendriks |
Antwoord: Dankie aan oom Hermie Hendriks!
Wat my betref, wil ek dit kort en bondig hou.
Die rooi A dui aan waar die eiland, Tinharé, is. |
Ja, Hanlie Swanepoel, ek gaan geen ‘human interest-verslag gee oor my tallose woonplekke en strate waar ek al oor die afgelope jare as ‘Vlieënde Belg’ gewoon het nie. Net die lande en stede is seker ‘oukei’?
Net ’n opsomming van hoe Perskor so baie in my lewe beteken het.
As jong immigrantjie kom ek in 1970 in Pretoria aan en na ’n paar foongesprekke in my beste ‘Vlaamse’ Afrikaans is ek skielik ’n verslaggewer by Die Vaderland in Aucklandpark, vierkantig geplant in die Suid-Afrikaane joernalistiek.
Dit met ‘grootsnor’ Frans du Toit (‘Gou-gou, Pretoria toe’) en assistent ‘safaripak’ André Verster as my opdraggewende base.
Tommy Buys probeer van my ‘n ´sub’ maak, maar dit werk nie so mooi nie
Oom Hermie se joernalisteskool. Wim sit links heelagter. |
Net naas die ‘Stag-gebou’ waar ons was in die ’skooltjiesaal’, het APB die ander geboue langsaam herbou. Die arbeiders was meesal Italianers en Portugese.
Telkens as ons ’n pouse gehad het, het ons buite gestaan en koffie gedrink en ’n sigaretjie gerook. Dis toe dat Oom Hermie baie kwaad geword het! Want die ouens op die bouwerf het geroep en getier en gefluit weens Hanlie se baie kort, maar regtig baie, baie kort mini-rokkie en Nicolene se hele natuurlike ‘hey wow’- uitstraling en dit het hulle almal blykbaar mal gemaak. Meester Hermie het toe hard geskreeu na die werkers dat ‘that’s enough! Julle donnerse f... uitlanders’. Ek het toe toevallig net langs Oom Hermie gestaan en hy het my toe gesien en baie sag gesê: ‘Skuus Ou Wim. Jy is ook ’n uitlander, maar dis nie vir jou bedoel nie, ou maat.’
Jare later het ek Oom Hermie op ‘n ‘press party’ ontmoet êrens in Jo’burg. Dit was toe die mode vir manne om lang hare te hê. Myne was ook lank. Nogal redelik lank. En met 'n snor. Toe hy my sien en herken, sê hy: “Ha, Jan van Riebeeck is terug in die land!”
Ná ses maande, toe is ek weer in Die Vaderland se redaksie. Ja, daar’s die ouens wat net ‘scoops’ wil maak: regtig stryders vir die nuus, August du Preez, Japie Bosch, Willie Buys, Johan (Pottie) Potgieter, ens.
Toe word APB skielik Perskor en hulle het streekkoerante gekoop soos die Wes-Transvaal Rekord in Klerksdorp en ek is skielik soontoe gestuur. Daar het ek gewerk vir die ‘gevreesde’ Miesies Carrol en saam met die legendariese Badenhorst Hammond (later Witbank Nuus, dink ek) baie geleer. Toe kom daar skielik eendag daai langgat Gerhard Kleijn aangedraf wat ek ‘moes oplei’. Nou weet hy meer as ek oor joernalistiek! En 'n ewige vriendskap het daaruit voortgevloei.
Bo: Perskor in Klerksdorp se Lang Jan, Kort Jan en Dik Jan. Gerhard Kleijn, wat vandeesmaand by Die Transvaler aansluit, is natuurlik nie so "Kleijn" as wat sy naam aandui nie. Net 6 vt. 5½ dm. in sy sokkies. En moenie die half duim vergeet nie. Wim van Volsem (eks-België, eks-Die Vaderland) is slegs 'n raps oor die vyf voet. Maar die man wat hulle letterlik in die skadu stel, is Badenhorst Hammond (72 x 72 x 72). Oor één ding is al drie dit egter eens: dis al die pap en boerewors wat hulle in dié unieke vorms giet! (Foto: Perskorhaan, November 1972.)
Toe besluit Perskor om ook ‘Die Nataller’ (Drakensbergpers Bpk) in Durban oor te neem. Dit word ‘Tempo’ (naam wat ek self voorgestel het in ‘n peiling) en skielik moes ek op die trein op Klerksdorpstasie (een woord) Durban toe (14 uur se ry!) om daar te gaan werk. Daar ken ek toe een van die grootste joernaliste en intelligentste mense en lewenslange vriend wat ek ooit ontmoet het: redakteur Charl Thom (nou aan die Weskus).
Charl Thom |
Gerhard Kleijn |
Toe besluit Perskor om ook Republikeinse Pers (onder meer uitgewers van Scope) oor te neem. Toe verhuis ons almal na South Coast Road en Sammy gaat Jo’burg na Die Vaderland toe.
Charl Thom word die nuwe baas van Tempo. Sy kantoor was baie snaaks: aan sy regterkant, heel bo aan die muur, was daar ’n groot, ronde mooigemaakte gaatjie so groot soos ’n man se vuis. Almal het gewonder waarvoor hierdie gaatjie dien. Dit was nie vir die lugverkoeling nie, ook nie vir die pos nie. Charl het ook altyd gewonder oor hierdie gaatjie, totdat hy my eendag in sy vertroue geneem het: ‘Ek weet dit nou! Dis waar Grootbaas Marius Jooste ons dophou om te sien of ons regtig werk!’ Ou Charl het my ook een groot waarheid oor joernalistiek geleer: ‘Ou Wim, die belangrikste van ’n nuusstorie is dat dit nie’n storie is nie totdat jy dit skryf!’
Daar was dan ook Gert van Tonder, Don Blaine, Ray Wagner en ander rokende of nie-rokende kollegas, insluitend Bruno Matshxalo, die ou Zoeloe ‘do-it-all’ wat meer geweet het van ‘n donkerkamer as enige fotograaf. (Ek was toe ook Vaderland-korrespondent vir Natal, waaroor ek nog baie stories later kan vertel.)
Toe skielik eindig my Perskor-loopbaan, (mens moet tog kan eet en die huur betaal!). Saamgevat in kronologiese orde daarna:
- verslaggewer by die Sunday Express in Johannesburg,
- bureau chief van die Sunday Express in Durban,
- chief reporter van Weekend Life weeklikse koerantjie op die Seychelle-eilande,
- public relations consultant in België,
- verkoper van trokke en busse in Swaziland,
- verslaggewer by die Rand Daily Mail weer in Joeies,
- bureau chief van die Sunday Times in Pretoria,
- weer ’n slag ’n paar jare public relations in Brussel,
- korrespondent vir die Londense Daily Telegraph in Rio de Janeiro (Brasilië),
- vertaler vir die ‘Gazeta Mercantil’ finansiële dagblad se Engelse uitgawe in São Paulo,
- korrespondent vir die New Yorkse Dow Jones Newswires in die hoofstad Brasilia,
- bestuurder van ‘n ‘bed & brekfis’-hotelletjie op die eilandjie Tinharé in Bahia,
- vertaler vir ’n groot internasionale supermarkgroep weer in België, en
- nou weer in Brasilië op die einste Tinharé-eilandjie waar ek nou internasionale vryskut vertalings doen via die ‘wonnerlike innernet’ (Portugees/Nederlands/ Frans/Engels en selfs Afrikaans!).
Soos Meester Hermie steeds gesê het by die skooltjie in Aucklandpark: ‘As joernalis het jy net een sekerheid: jy weet nooit wat vandag met jou kan gebeur nie en ook nie môre of oormôre nie.’
(Ek het ’n paar jaar gelede in België se burokratiese labirinte ontdek dat my ‘amptelike naam’ eintlik William Vanvolsem is, net so geskrywe, en nie ‘Wim van Volsem’ nie. We only live by names, whatever they are.)
As iemand van julle ooit hier op ’n werklik tropiese paradys wil kom vakansie hou, laat my weet!