Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.5.13

Temperament en ego’s die kunsredakteur se kruis

JOHAN LIEBENBERG EN PHILLIPPA BREYTENBACH, kunsredakteur van onderskeidelik Die Vaderland en Die Transvaler, het in April 1973 in Perskorhaan vertel wat hul werk behels.

JOHAN skryf: “Man, maar jy het darem " 'n lekker joppie! Dink net aan al die gratis kaartjies, etes, voggies, ens. wat julle kunsredakteurs kry -- ek sal nie omgee om so 'n joppie te kry nie!"

Hoe baie hoor ek nie dié woorde nie -- en soms nogal van kollegas wat beter behoort te weet en van subs wat veral (altyd?) aan die etes dink.

Nou wi'l ek nie hiermee sê dat ek nie gelukkig is in my werk nie. Maar mense moet onthou dat lekker nie altyd meer lekker is nie -- veral nie as jy dinge móét doen nie. Elke fliek is nie die moeite werd nie en elke aand uit is uitputtend.

Die ego!
Dié houding van mense dat dit net lekker is, is algemeen, want die probleme en frustrasies wat ‘n mens in so 'n werk ondervind besef hulle nie.

Kunstenaars is moeilike mense -- die ene temperament en ego. En hul hou net daarvan om hul egos gestreel te hê en hul foto en publisiteit in die koerant te kry.

UITGELAG

Maar moet net nie kritiseer nie, dan is hulle kwaad. As jy sê hulle was puik, dan is jy hul held en word vriendelik gegroet. As jy egter sê hul is swak of nie so wat wonders nie, dan word jy geïgnoreer en uitgelag vir 'n pampoen wat nie hul groot talente kan raaksien nie.

Familie en vriende van dié mense is ook net so partydig en venynig.

As dit maar net by ignoreer bly, pas dit uitstekend, maar as hul eers met dreigemente en gebalde vuiste kom, is dit 'n ander saak. Gelukkig gebeur dit maar min. Baie sal seker nog die akteur se besoek aan my 'n jaar of wat gelede onthou.

Dié aspirant André Huegenot wou net slaan. Die lessenaar en my senuwees was toe darem al wat ontgeld het.

SKUILNAME

Dan is daar ook die wat verlangs betrokke by die vermaak is en hul self die beste kritici ag. Uit pure frustrasie dat hul nooit die soeklig kan behaal nie, skryf hul briewe onder skuilname waarin hul probeer beledig en ‘n mens in verleentheid bring.

Sonder om bitter te klink of weer die ou Boerehaat-storie op te haal, moet ek darem ook byvoeg dat die Afrikaanse resensente soms probleme het met sekere teaterbesture. Dit is duidelik uit hul houding dat hulle ons van minder belang beskou en dink dat dit net die Engelse koerante is wat belangrik is of enige invloed het.

Dan is daar natuurlik ook die publiek -- elkeen dink hy weet beter of is 'n goeie kritikus. Hul houding is dat as hulle daarvan hou, dan moet dit noodwendig goed wees. Dit is ook 'n probleem by rolprentverspreiders wat sukses net aan geldelike gewin toeskryf.


GÉ KORSTEN

Gé Korsten
Omdat iemand byvoorbeeld van Gé Korsten hou, is Lokval in Venesië noodwendig 'n goeie rolprent, want "ons het dit dan só geniet". Intussen het hulle Gé geniet wat hul hele siening van die totaal beïnvloed het. (Gé lyk goed en sing goed, maar die res!)

Nou kort gelede het my slagter my gegroet toe ek uitstap. Die volgende keer vertel hy my dat iemand daar gevra het of ek die een is wat oor Lokval geskryf het en gesê dat ek bly kan wees hy het dit nie vantevore geweet nie.

"Sê vir daardie blikskottel (of so iets) dat ek hom sal foeter (of so iets) want my vrou hou van Gé en ons het hom baie geniet en dan skryf hy sulke nonsens oor Lokval."

'n Tipiese voorbeeld van baie mense se reaksie.

OPGESKEUR

Baie filmmakers het gesê dat hul nie 'n goeie resensie wil nê nie, want dit beteken dat die publiek nie daarvan sal hou nie. Vandag is dit anders want die snert van 'n jaar of wat terug kan nie vandag meer geld maak nie. As hul dan hul nie aan die resensies steur nie, wonder 'n mens in elk geval hoekom hulle so kwaad word daarvoor as dit nie gunstig is nie. Ek weet van een filmmaker wat glo elke keer as hy 'n ongunstige resensie ontvang het, die knipsel fyn opgeskeur het om dit sodoende van die aardbodem uit te wis!

Komplimente vir opregtheid en eerlikheid is maar min in die wêreld waar geveinsdheid meer lonend is.

Wie sê nog dit is 'n lekker joppie?
---------------

PHILLIPPA skryf: Die fluksste en arbeidsaamste mense sit beslis nie op die kunsredaksie van 'n koerant nie. Die alewige middag- en aanduitetery, die flieklêery, die teater- en konsertbesoeke is maar net 'n dekmantel om rond te loop, en aan die einde van die maand jou salaristjek met 'n oop gemoed te ontvang.

Dan grom jy nog omdat jy vir die volk moet werk teen 'n salaris, en jy wonder of al die plesierigheid van jou werk die moeite werd is? Dan kla jou gewete jou darem weer aan, en jy dink aan die voorregte wat jy geniet.

Wie kan sê dat hy vanoggend om tienuur "inklok" en vannag eenuur "uitklok". Dis darem 'n heerlike taak om vir volk en vaderland te werk.

Geld speel ook mos darem nie 'n rol in 'n mens se lewe nie -- jy moet iets opoffer vir die saak . . . die groot volksaak! Dis nou soos ek voet oor my "joppie".

En wanneer ek as die onnoselste filmresensent en -skrywer uitgekryt word, lag ek lekker. Want sien, dis 'n liefdesdaad, die "joppie" van my, ek doen dit dan amper verniet. Iemand moet tog in elk geval iets skryf, hoekom nie ek nie?

BELANGSTELLING

Die feit is darem nie weg te redeneer dat dit die opwindendste "jop" op'n koerant is nie. Jou meerderes kan jou blad darem baie beter beplan -- dit kan 'n mens nog aanvaar.

'n Elkedagse oomblik in die alledaagse bestaan van 'n
kunsredaktrise: om met "handsome" Itallaners skemerkelkies
 te maak, so lekker tête-a-tête ... Phillippa Breytenbach en
Sandro Pierotti, besturende direkteur van Sterfilms.
Maar daar is ook jou kollegas (selfs juniors wat twee dae by die koerant is) wat uit "opregte" belangstelling jou kom voorskryf van hoe en wat darem op "daardie simpel ou blaadjie" moet en kan verskyn. Dis reg, belangstelling word altyd waardeer.

Selfs as 'n junior van twee dae, en in jare nog veel meer, vir jou kom vra "hoe jy dit reggekry het om so 'n lekker jop uit te slaan" ... Dis dié dae wat ek my seëninge tel. Hierdie lekker "jop" waar ek, bykans nie meer 'n vriend/in oor het nie ... niemand hou van die dinge wat ek skryf nie, is die begin en einde van my bestaan. As ek op 'n byeenkoms kom, verdwyn meeste mense soos mis voor die moreson ... dan hoef ek nie vriendelik te wees nie.

Dit is nog vir my onverstaanbaar ... ek probeer so hard. Dit kan my hoofde en senior kollegas getuig. Ek wil nie met iemand skoor soek nie. Ek wil graag net ons sirkulasie verhoog ... daarom is ek so "meek en mild", maar kyk my Afrikaans is darem nie altyd goed nie. Dit erken ek.

PLESIERTJIE

Dis nou om myself in goeie Afrikaans ordentlik uit te druk. Nee, ek is nou nie “hooggeleerd" in my moedertaal nie -- dis hoekom ek so baie "troubles" het.

Dis ook die rede om sekere professore -- hoofde van dramadepartemente -- my as die grap van die dag ná 'n teaterresensle, aan hulle studente voorhou. Ag wat, 'n mens gun darem elke mens sy ou plesiertjie in die lewe. Wie is ek nou om daaroor te kla. Ek het mos 'n lekker job!

En die kere wat ek al teen middernag met die hof gedreig is deur beskonke impressario's wat my so woedend gehad het dat ek van pure frustrasie 'n galaanval gekry het en tot vroegmore oor die bad se rand gelê het ... hoekom sal ek kla? Dis lekker om vir die volk te werk. Nie alleen word jy gelees nie, maar mense neem skynbaar kennis en notisie daarvan.

SKUILNAME

Elke keer tel ek weer my seëninge … vry kaartjies vir alle vermaaklikheidsdinge, vry etes (ek haat dit om te kook -- ongelukkig tel ek nou spysverteringsprobleme op -- het al vier jaar gelede een maagoperasie gehad -- nie lank weer een!)

En wanneer dit by organisasies en besture kom, is ek bo aan die lys van hul "gewildste" gaste. Hulle vind my uitgesprokenheid só prikkelend en sprankelend ... hulle hou tog so van mense wat reguit praat!

Die lesers - ai, die arme mense! Sommige neem wel die pen op en laat van, hulle hoor! Gewoonlik is dit onder skuilname -- vir ingeval ek dalk weer lus is om te dreig met 'n hofsaak. Ander is "so persoonlik" dat ons brieweman (Hennie Kotzé en soms Sakkie van der Merwe) nie kans sien om my so in die verleentheid te stel nie.

Maar, ek herhaal -- my "jop" is lekker. Dis vir my 'n groot eer en voorreg om vir die volk te werk. Sela!