Dit was 'n bitter-bitter koue wintersdag in Julie 2003.
Nie 'n dag om buite met die elemente te baklei nie, maar eerder langs 'n kaggel met iets warm om te drink en 'n gesin vir geselskap en “liefte". Een van daardie dae waar boemelaars smag na 'n ekstra kombers, na goeie tye saam met familie én 'n lekker bord kos. Tye voor die lang pad hulle woning geword het.
Buite 'n kafee op Middelburg het 'n onbekende hawelose bakhand gesmeek vir aalmoesies. Hy was nuut op die dorp.
Ouboet Arend het ‘n paar muntstukke in sy hand gedruk.
Maandagoggend het iemand gebel: "Daar is 'n boemelaar dood gekry naby Hoërskool Kanonkop."
Lynn Wilton is gestuur om die berig te doen.
Net nog 'n hawelose wat nie die winter kon deurstaan nie, ’n kort beriggie en dit was verby, vergete, vir altyd en altyd,
'n Blikkie boontjies wat half geëet is, 'n kombers, 'n paar muntstukke en 'n sak met 'n Bybel. Dit was sy enigste besittings, voordat die verskriklike koue die laaste lewe uit hom gedruk het.
Die boemelaar het iemand geword, met 'n hart wat glo God is liefde, wat eens op 'n tyd 'n baba was in 'n ma se arms, 'n pa wat hom help grootmaak het, dalk broers en susters, 'n skool? Maar dit was die boemelaar se geheim en daarmee sou hy na die graf gaan. Saam met vier ander soos hy, as armlastige begrawe in die Phumolong-begraafplaas, ver weg van die dorp. Dit was byna 'n obsessie om uit te vind wie die mens agter die boemelaar was.
Die soektog was soos 'n speurverhaal, 'n leidraad, opgewondenheid, 'n doodloopstraat, nog 'n leidraad.
Uiteindelik 'n deurbraak, nadat die lys van Mileham-vanne een vir een in Johannesburg gebel is.
Hardy Mileham, destydse Transvaalse ligweltergewigbokskampioen het die telefoon geantwoord.
Ja, dit is sy familie.
"Sy broer is speurtakbevelvoerder op Viljoenskroon, kaptein Jaco Mileham."
“Dit is Freddie Mileham, dit is my broer,” het die kaptein bevestig.
Hy was die voorbeeldige seun wat op Klerksdorp in die skool se orkes gespeel het, wie se ouers jare gelede reeds oorlede is, wat maar altyd gesukkel het om te oorleef in die komplekse lewe met sy eise. Wat geglo het "God is liefte”.
Die skool het die foto aangestuur om te wys hoe 'n jong man trots in die mlddel van die orkes sit.
Volgende week sou Freddie sonder familie, begafnisbrief en iemand wat 'n laaste paar mooi woorde sê in sy onbekende graf laat sak word. Stil, alleen, soos hy deur die wêreld gegaan het. Maar ons kon mos nie dat die boemelaar wat mens geword het as onbekende begrawe word nie?
Dominee Nicolaas Steenekamp was bereid om die diens te lei. Avbob Begrafnisdienste sou die kis voorsien, redaksielede en vriende kon as draers optree!
Op Dinsdag 16 Augustus 2003 om 11:00 is Freddie Mileham met groot eerbied na sy laaste rusplek gedra.
Op die kis was ‘n goue plaatjie met sy naam: "Freddie Mileham". Uiteindelik is sy naam in goud geskryf.
In die begrafnisbrief het daar gestaan: “Sy boodskap het hy op sy lewenspad saam met hom gedra."
Die teksvers was Johannes 4 vers 7.
"God is liefde, om God lief te hê en die broeders lief te hê."
Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.
Twee jaar nadat Freddie Mileham begrawe is, in Augustus 2005, het hy ook 'n grafsteen gekry. Tussen al die grafte in die Middelburg-begraafplaas met mooi versies wat geliefdes aangebring het, asook 'n perd en 'n motorfiets uit graniet, is daar die eenvoudige grafsteen met die Woorde “God is liefde".
Die grafsteenmaker het die woord “verkeerd" gespel, want Freddie het geglo "God is liefte" en die Middelburg Observer se redaksie het versoek dat hy onthou word soos hy God geken het ... 'n "God van liefte".
• Eksemplare van Hang die Redakteur kan teen slegs R99,99 stuk by marianav@lantic.net of 072 220 1568 bestel word.