Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.5.13

Kranige akteur Hauptfleisch laat huil sy Tientong-karakter

WILLIE BUYS skryf: Pieter Hauptfleisch was een van die beste Afrikaanse akteurs wat die land opgelewer het in die era van ‘n Don Leonard (komediant), Gé Korsten en Gert Potgieter (albei gewilde sangers van faam, in elkeen se eie genres van die stemkuns), Nic de Jager (radio-omroeper, fotoverhaalboekies en rolprent-held uit die tyd van regisseur/vervaardiger Elmo de Witt).

Nou kyk, desjare was Afrikaanse dramakunstenaars en rolprente nog maar in ‘n eksperimentele en groeifase en dit het vir baie omstredenheid gesorg. Enersyds was daar mense wat maar te dankbaar was vir sekere spookasem-vir-die-intellek-rolprente en dramas wat aanvanklik op ‘n baie amateuragtige wyse geskryf en aangebied is. Dié groepering was maar te bly vir ‘n ietsie in eie taal, ongeag die gehalte en inhoud daarvan.

Thijs Nel
Andersyds was daar die meer gekultiveerde kunsfoendi’s en resesente wat alte dikwels die power poging uitmekaar geskeur het. Dit is diegene – soos Die Vaderland-kunsredakteur Thjis Nel – wat gemeen het deur opbouende kritiek kon die sukkelende dramabedryf op sy eie sterkere bene geplaas word. Daardie visie was nie misplaas nie, soos die ritse puik akteurs en -rolprente van vandag op ‘n tasbare manier bewys. Onse eie Charlize Theron is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.

Pieter Hauptfleisch
Maar terug na Pieter Hauptfleisch: hy het eens by Perskor vryskutwerk as proefleser gedoen. (Lees vrooëre berig hier.) Nie omdat hy wou nie, maar oor hy móés om die pot aan die kook te hou. Akteurs, en veral Afrikaanse akteurs, is toentertyd maar ‘n goedhartigheidsloon (lees aalmoesie) betaal omdat dit ‘n liefdestaak was en NIE ‘n voltydse beroep nie! (Klink dit bekend?)

En ja, Pieter was ‘n meester van sy beroep. Hy het veral in die versukkelde Afrikaner-jare van die sniksangers die Briels en Charles Jacoby kop en skouers uitgestaan weens sy vermoë om enige rol – van traandeurweekte, sentimentele draaiboekrolle tot skaterende humorrolle – uitmuntend en oortuigend te vertolk.

So het Pieter en die redaksie van Dagbreek en Sondagnuus Saterdagaande nadat die koerant bed toe gesit is, saam met die manne nabetragting gehou om ‘n bottel of wat alkoholiese versnaperings.

Een van Pieter se uitstaande vertonings was die manier waarop hy ‘n bronstige vryer uitgebeeld het wat kastig in sy ou Fordjie vir sy meisie gaan kuier het. Dié scenario het elke keer verander na aanleiding van Pieter se aanvoeling vir improvisasie. Hoe later, hoe kwater en die manne was naderhand amper histeries van die lag oor sy nabootsing van die geluid wat ‘n stotterende Fordjie maak en die opvolgende sekwense tot binne in die meisie van sy drome se hart, en, verbeel ek my, ander kledingstukke.

Jan Buys
Pieter en my oorlede broer Jan, ook ‘n proefleser, was goeie maats. So het Pieter Jan op ‘n keer raakgedrink by die Sans Souci Hotel in Aucklandpark, Johannesburg. Toe altwee lekker gekletter was, het hy Jan gevra om hom te vergesel na sy motor wat buite gestaan het, die kattebak oopgesluit om ‘n hele aantal stuks lewende!!! pluimvee ten toon te stel. Daarna het hy Jan, à la Perskor, genooi om vir hom ‘n slagding uit te kies!

Pieter was veral bekend vir sy rol as plaaswerker wat hy in die gewilde Die Wildtemmer gespeel het. Aanvanklik was dit ‘n radiodrama in dieselfde genre as die ander uiters gewilde Du Plooy’s van Soetmelksvlei. Pieter het aan Jan vertel hoe hy hom voorberei vir die rol van die werknemer wat "snot en trane" moes huil oor een of ander tragedie. Hy het homself glo eers sterk gefortifiseer met ‘n paar stewige doppe voordat hy die opname-ateljee binnegestap het. Nadat hy sy baadjie uitgetrek het, het hy sy kunstande uitgehaal voordat hy werklik en slobberend aan die huil gegaan het agter die mikrofoon – so diep het hy hom in die karakter en die huil-sekwens ingeleef!

In die werklike lewe was Pieter egter ‘n diep sensitiewe mens wat soos die beroemde digter/sanger/liedskrywer Koos du Plessis - in oudminister Pik Botha se woorde - nie bedoel was vir hierdie lewe nie. Koos was natuurlik ook verbonde aan Perskor as ‘n subredakteur voor sy ontydige sterfte. Pieter het homself oor ‘n naweek in ‘n woonwa in die agterplaas van ‘n huis geskiet.

Gert Potgieter
• Een aand terwyl ek nagskof gewerk het as misdaadverslaggwer by die Die Transvaler in Jorissenstraat, Braamfontein, Johannesburg, het ek my amper uit my bloedgroep geskrik vir wat vir my toe ‘n onaardse geluid in die vroeë oggendure was. Nadere ondersoek het my gelei na die verlate en donker kantore van die administratiewe afdeling op die derde verdieping. Daar het ek ‘n man skramsweg gesien wat vir die "geluide” verantwoordelik was.

Dit was oorlede Gert Potgieter, die operasanger wat in die drukkery van die destydse Voortrekkerpers, werksaam was. Soos sy gewoonte was, verneem ek later, het hy sy toonlere en operastukke gaan oefen nadat die eerste uitgawe van die koerant af was. Hy het nie sommer by enige kantoor ingestap en losgetrek nie, hy het kantore ver van ander mense gekies sodat hy niemand sou steur nie. My verligting was groot dat ek nie ‘n spook tydens my eensame nagskof geselskap hoef te gehou het nie!