Vreemd genoeg onthou ek daardie praatjie van my, toegelig met kleurplaatjies (slides) van allerlei artefakte om te probeer gewig gee aan my redenasie. Ek was immers altyd in die spervuur met ‘n gebrek
aan ruimte en die kunsblad was eerste aan die beurt om spasie in te boet ingeval daar belangriker sport of politiek gepleeg word.
NP van Wyk Louw |
Dit was dus ‘n intens moeilike voordrag vir my die volgende oggend en had ek ‘n geweldige stryd om nie emosioneel in te stort nie. Van Wyk Louw was en IS NOG vir my 'n ligbaken van die verantwoordelikheid wat op die skouers van skeppend denkende mense in enige gemeenskap rus ... om aan te hou werk na die beste van jou vermoë, sonder om enigsins resultate te verwag. Die ‘kultuurakker’ is bra eensaam.
Ek het my lesing begin met ’gevleuelde woorde’. Dit was min of meer die volgende:
Wat ons van ou oerbeskawings weet, het vir ons behoue gebly deur die opgrawing van artefakte: oorblyfsels van argitektuur, muurskilderye, keramiek, mosaïek, juwele en implemente waarmee dit geskep is.
Professor NP van Wyk Louw is nie meer met ons nie, maar iewers in die toekoms, lank nadat daar al vergeet is wie aan bewind was in Suid-Afrika toe hy geleef het, sal mense nog die ongelooflike erfenis wat hy vir ons agterlaat in verwondering en dankbaarheid meemaak. En dit geld vir alle kunstenaars, wat ook al die dissipline waarin hulle werk.
En dit geld nog en durf ek sê, dit sal so bly.
Want hoeveel mense weet wie aan bewind was toe Leonardo da Vinci, Michelangelo, Rembrandt, Mozart, Beethoven, Oscar Wilde (om maar net ‘n paar name te noem) geleef het.
Ellispark |
Johannesbugse Stadskouburg |
Gelukkig is daar nog deesdae kunsblaaie in ons koerante en tydskrifte hoewel dit al hoe meer deur borgskappe ondersteun en gereguleer word, nie noodwendig kerngesond nie want alles word deur Mammon regeer.
Drie jaar gelede is ek saam met Franse vriende na Sutherland om die sake aldaar te sien. Die geweldige kontras tussen die grootsheid van die tegnologie en die verval van die platteland daaromheen. My besoek aan die Van Wyk Louw-huismuseum (die huis waarin die NP en WEG grootgeword het) was ‘n pynlike ervaring.
Die opsigter het gekla dat daar nie befondsing bestaan om die nodige instandhouding of sekuriteit in stand te hou nie. Items is gesteel en die gebou is besig om te verval. Bygesê is dit die geval met heelwat van ons ander nasionale monumente.
Terselfdertyd besef ‘n mens dat vasklou aan alles wat vergange is, ‘n mens beroof van meelewing en waardering vir die teenswoordige.
Laat ek hierdie geteem afsluit met een van my pogings:
alle vlees is gras
word alle gras ook vlees
of sal dit genade wees
as alles ontlas
want deur mot en roes
word tyd omgekeer
word alles weer
leeg en woes
deur duisternis omgeef
kan die heilge gees
weer
soos voor die begin
as Volmaakte Woord
salig oor die water sweef
want woorde is omhulsels
wat konsepte skep
verdaad sonder toekoms of verlede
om die skeppend denkende mens
te beroof van direkte persepsie
suiwer kommunikasie
in die hede