Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.5.13

In kamer 402 is sake weer normaal

DOUGLAS JONES skryf in Junie, 1970 in Hanekraai, personeelblad van die APB, oor die eerste Mev Suid-Afrika-wedstryd wat in Die Vaderland aangebied is:

 Hier in kamer 402 is sake nou weer normaal. Blonde Marietjie van Rooyen, redaksielid en organiseerder van die wedstryd, -- die enigste doring tussen ons vier rosies -- het selfs vanoggend gegroet en geglimlag.

Marietjie van Rooyen (links) en die wenner van die
Mev Suid-Afrika-wedstryd, mev Anneli Germishuysen.
Foto: John Lee
Mnr Johan Vorster, assistant-redakteur van Die Vaderland, is nie meer so bleek om die kiewe nie. Saterdag-redakteur, Tienie Fourie, buitelandse man, Johan Snyman, en ek is ook nie meer so op ons senuwees nie.

O, blye dag!

Die Mev Suid-Afrika-wedstryd is verby. Afgehandel. Die wenner, mev Annali Germishuysen, het haar motor en geskenke.

Maar dit was 'n stryd. Teen wil en dank moes ons elke krisis met Marietjie van Rooyen meemaak. Die telefone wat knaend beset bly, die inskrywings, die navrae, die beoordelaars wat nie dié of daai dag beskikbaar kan wees nie, die uitnodigingskaartjies wat laat kom, wegraak en talle ander voorvalle en probleme.

Met haar slanke figuurtjie en trippeltreetjies sal sy by die kantoor ingewaai kom. Nie links of regs kyk nie.

"Moenie met my praat voor tienuur nie," blaf sy dit uit. Dan raak sy doenig. Vat hier en vat daar. Dan sien sy my raak.

Johan Snyman
Johan Vorster
“Douglas Jones," en daar's asyn in haar stem. “Sal jy ASSEBLIEF ophou om op en af in die kantoor te stap! Jy maak my … e … Agge nee wat. Ek kan dit eenvoudig nie meer vat nie. Mnr Vorster, wanneer kan ek met u praat? En Tienie moenie vir my lag nie. Julle verstaan nie hoe ek moet sukkel nie … " (Dougie het gereeld op en af in die kantoor gestap terwyl hy gedink het hoe om 'n storie aan te pak. Johan Vorster was in beheer van die wedstryd. - Red.)

Ek gaan sit. Tienie vee die glimlag van sy bakkies af en loer onderlangs na Johan Snyman. Dié maak weer as of hy verdiep is in wat in Kambodja gebeur. Onderlangs mompel hy deur sy snor: “Ou Dougie, beter dae kom ... “

Tienie Fourie
Fotograaf John Lee
• En nou is dié dae hier.

Salig. Behalwe natuurlik vir die gebruiklike post mortem.

En hier wil ek dit duidelik op skrif stel: MOOI gedaan, Marietjie. Baie geluk, mnr. Vorster. Dankie Mary-Ann Bosman. Die Mev Suid-Afrika-wedstryd was 'n reusesukses. En so sê ons almal.
(Mary-Ann Bosman het een van die borge verteenwoordig. - Red.)
Junie, 1970