Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.4.13

Subs is maar stillerige mense

PIET EBERSöHN skryf: Subs is maar stillerige mense, soos onderstaande toon, g’n rasende monsters soos die indruk wat Gert van Rooyen wek nie.

Hennie Eagar (wat het van hom geword?) het op ’n dag vertel van sy beginnerdae by Die Nataller.


Hy het ’n storie geskryf en vir wyle André du Plessis gegee om te sub. André het, sonder om ’n woord te sê, die kopie by hom gevat, dit in stilte deurgelees, sonder seremonie opgefrommel en in die snippermandjie gesmyt.

Toe snork hy so ’n uitgerekte snork, spu minagtend op Hennie se afgekeurde werk, en gaan – steeds in stilte – met sy werk voort.

Dan het wyle André Pienaar van sy eerste dag in DT se sportkantoor vertel.

Hy het opdrag gekry om kopie met die buis fabriek toe “af te gooi” en het die subkantoor opgewek binnegestap.

(Vir die oningewydes: Die redaksie en die settery wat op verskillende verdiepings gesetel was, was per buispos met mekaar verbind. Aan weerskante van die buis was daar so ‘n kassie met ‘n deurtjie – die redaksie s’n in die subkantoor. ’n Mens het die kopie of proewe in ’n kapsule geplaas, die kassie oopgemaak en die kapsule in die buis geplaas, die deurtjie toegemaak en so ’n groen knop gedruk. Dan is die kapsule af- of opgesuig na gelang van die bestemming.)

“Waar is die buis?” het André vriendelik gevra.

Niemand het gereageer nie. Die subs het eenvoudig met hul werk voortgegaan.

Hy het toe maar ’n bietjie harder gevra.

Daar was steeds geen reaksie nie.

Einde raad vra hy nog harder.

Dis toe dat wyle Peet Smit stadig sy stoel agteruit skuif en dreigend opstaan. Met daardie kenmerkende bakarmstand van hom het hy André aangegluur en wou streng weet: “Op wie skree jy?”