Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.5.13

Landstem: K’rant onthul meer

PEET SIMONIS skryf: Lekker storie wat K’rant oor Landstem en Piet Beukes opgediep het. (Lees hier.)

Daar is darem nog 'n hele paar van ons oues wat daardie dae onthou. Landstem was destyds “geel” pers – dit beteken die koerant sou nie in die sitkamer rondlê as dominee kom huisbesoek doen nie.

Wat min mense weet, is dat redakteur Piet Beukes ‘n oop hand gehad het vir die kerk. Op ’n keer het hy ’n groot bedrag vir die NG Kerk se Bybelskool net buite Bloemfontein geskenk.

Toe iemand hom uitgevra het daaroor was sy antwoord dat hy dit skenk uit erkentlikheid vir die feit dat so baie predikante Landstem van die kansels af help verkoop deur daarteen te preek. Dit het die kerkgangers so nuuskierig gemaak dat hulle gewoonlik ná kerk seker gemaak het hulle kry ’n eksemplaar. So is Landstem dikwels uitverkoop, het Piet geterg.

Koerantmanne het die spot gedryf met Landstem en wie kon ons verkwalik met stories soos die?

Daar was destyds ’n groot storm toe Beyers Naudé Broederbondgeheime vir prof Geyser van Wits gegee het – glo in die wete dat hy dit op sy beurt aan die Sunday Times sou besorg.

Die Landstem, 16 Augustus 1952
Landstem het toe beloof om sy eie ondersoek hierna en veral na die Broederbond in te stel. Die lesers is week na week baie nuuskierig gemaak en uiteindelik het die dag aangebreek dat die uitslag van die ondersoek bekend gemaak sou word.

Dit was gedoen onder ’n reuse-opskrif op bladsy een natuurlik.

Piet Beukes het self die storie geskryf en die inleiding was iets soos:

Ná ’n grondige ondersoek van die Afrikaner Broederbondbeweging kan die Landstem vandag onthul dat dit ‘n organisasie is met sy voordele en sy nadele …

Met stories soos dié was dit duidelik dat Landstem en Piet Beukes nie regtig gevra het om ernstig opgeneem te word nie. Piet was eintlik 'n grapmaker – ‘n ou met ‘n goeie hart.

Die ernstige koerante het met hom en Landstem die draak gesteek, maar tog, kyk hoe lyk die sirkulasie van publikasies soortgelyk aan Landstem vandag? Lank gelede het hulle al drie keer soveel verkoop as die ernstiger koerante, vandag nog baie meer.

Dagbreek en Sondagnuus, 22 Oktober 1961
Die meeste van die redaksielede van Dagbreek en Sondagnuus (waar ek ook was) was nie bly toe Perskor gebore is nie. Dit het egter nie lank geneem om vas te stel dat daar ook uitstekende joernaliste by Landstem was nie. Ek dink aan Sakkie Perold (later Rapport-redakteur), Sammy Lake (later Hoofstad-redakteur), Kobus Maritz en ’n string ander.
Dagbreek en Landstem

Daar was ook ouens daar wat nie baie ernstig met die waarheid omgegaan het nie, ja, maar hulle was en is by enige koerant. Gaan lees maar op oor van die lastersake teen sommige hoog geagte koerante en tydskrifte.

Sammy Lake
Kobus Maritz
Toe ek koerantman geword het, het joernaliste baie baie selde “bylines” gekry (waar die skywer se naam by die artikel verskyn). As daar dus foute begaan is, moes die redakteur pa staan daarvoor. Dis die “koerant” wat fouteer het, nie die verslaggewer nie.

Daarom was verslaggewers baie, baie versigtig en het ons dubbel en dwars probeer seker maak dat ons beriggewing feitelik is. Dit was veral die geval met hofverslaggewing. Ek het jare lank verslag gedoen van verrigtinge by landdroshowe, daarna Hooggeregshof en ek was nogal trots daarop toe ek die eerste nie-advokaat geword het wat ook vir Naspers die Appèlhof gedek het, gelukkig sonder om te struikel.

Feite kan reg wees en tog kan ’n storie nog “lieg” as dit, bv, in die “verkeerde gees” geskryf is of deur feite wat weggelaat word. Kyk maar na die politieke beriggewing.

Ek dink nie daar is ’n joernalis wat nooit gestruikel het nie – insluitende die uwe, en Pilatus se vraag aan Jesus: “Wat is waarheid?” was glad nie so eenvoudig nie.

• Maar terug na K’rant se Landstem-storie.

Ek ontken skuld waar Piet Ebersöhn skryf:

Soos Peet Simonis altyd geskerts het: “‘n Mens moet nooit dat die feite met ‘n goeie storie inmeng nie.”

“Geskerts” versag dit ’n bietjie, maar nee, Piet, dit was nooit my beskouing nie. Eerder die teenoorgestelde.

So vanaf die jare sewentig het joernaliste se name begin verskyn by omtrent elke storie wat hulle geskryf het. Van toe af was dit makliker om te sien wie te gemaklik met feite omgaan.

Terug by die punt – hierdie is op Google se eerste bladsy oor die ter sake onderwerp:

“Never let the facts get in the way of a good story”. The phrase dates from at least 1882.

Texas folklorist J. Frank Dobie (1888-1964) is often credited with this phrase, but it had been cited in print before he was born. Delbert Trew (another Texas folklorist) has claimed: “I never let the truth stand in the way of a good story.”

Wikipedia: J. Frank Dobie

James Frank Dobie (September 26, 1888–September 18, 1964) was an American folklorist, writer, and newspaper columnist best known for many books depicting the richness and traditions of life in rural Texas during the days of the open range. As a public figure, he was known in his lifetime for his outspoken liberal views against Texas state politics, and for his long personal war against what he saw as bragging Texans, religious prejudice, restraints on individual liberty, and the assault of the mechanized world on the human spirit. He was also instrumental in the saving of the Texas Longhorn breed of cattle from extinction.

(Dankie Peet, interessante storie! - Red.)