Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.4.13

Landstem "scoop" wêreld met "man op Mars, Venus"

PIET EBERSÓHN skryf: DIE LANDSTEM is in 1950 deur die legendariese koerantman Piet Beukes op die been gebring en is in 1967 deur Dagbreektrust gekoop om so in die stal van die latere Perskor te beland.

Die blad het uit die staanspoor die aandag met sy onkonvensionele aanslag getrek.

Onderwyl ek ‘n bietjie op die wêreldwye web ge-“googeloer” het, kry ek werklikwaar getuienis van ‘n ooglopend wyd aangehaalde Landstem-berig in ‘n rits Amerikaanse koerante se argiewe. Selfs op ‘n Duitse webwerf oor vreemde vlieënde voorwerpe: Die Russe beoog om voor September 1959 ‘n man op Mars of Venus te laat land. Die bron is niemand minder nie as die voorste Russiese ruimtewetenskaplike, prof. Anatoli Blagonrawof.

Agtergrond: Op 2 Januarie 1959 het die Russe die ruimtetuig Luna I gelanseer, die eerste tuig om die aarde se swaartekrag te oorwin. Die plan was dat dit die maan moes tref, maar dit mis toe die teiken en word op 4 Januarie die eerste mensgemaakte voorwerp wat om die son wentel.

Dit was die nuus van die oomblik en Die Landstem kon nie agterbly nie. Op 10 Januarie basuin die blad dit uit: 

Die Landstem bel Moskou en ons kry dié groot nuus
RUSSE HET MAN GEREED VIR RUIMTEREIS

Volgens die berig het die koerant se verteenwoordiger in Londen daarin geslaag om, met die hulp van die Russiese ambassade in dié stad, telefonies met Blagonrawof in verbinding te tree.

Die ruimtekenner het laat blyk dat die Russe se volgende stap sal wees om ‘n wetenskaplike in ‘n “planeet” (daar is nog nie na ‘n satelliet verwys nie) na ‘n planeet minstens 400 myl bo die aarde te stuur.

Hy sal op dieselfde pad reis as die mensgemaakte “planeet” wat in daardie stadium om die son wentel (Luna 1), het die geleerde vertel. Die wetenskaplike aan boord sal die “planeet” se koers beheer, genoeg kos en water in tabletvorm hê, en gekodeerde boodskappe na die aarde stuur ingeval iets verkeerd loop en hy nie kan terugkeer nie. (Hoekom verlang ek nou so na Fritz Deelman en die Skepe van Mars?)

Onbemande vuurpyle sou in Junie 1959 op Mars en Venus land, gevolg deur bemande vlugte na dié twee
planete. “Ons idee is om ‘n Neo-Rusland op die planete Venus en Mars te stig.”

Blagonrawof het geen probleem voorsien nie. Die jongste “planeet” (Luna 1) het die Sowjet-Unie se proefnemings voltooi. Hulle het reeds die man vir die eerste ruimtevlug gekies: Igor Igorski, 30 jaar oud, en ‘n vrygesel, 6 voet 2 duim lank en 180 pond swaar.

Maar die Rus, wat volgens Die Landstem namens die Sowjet-leier, Nikita Kroestjof, gepraat het, het hom nie tot die wetenskap beperk nie.

Lekker aggressief vertel Blagonrawof dat Rusland binne ‘n jaar enige stad ter wêreld “in ‘n oogknippie” sal kan vernietig. Hulle wil vrede hê, maar moet terselfdertyd in ‘n posisie wees om die mag van Rusland te toon. Die kapitalistiese wêreld sal voor die einde van die jaar voor Rusland moet buig, want die Sowjet-Unie is vandag die baas van die wêreld.

“Dis geen geheim nie dat die nasie wat beheer het oor die ruimte ook beheer het oor die wêreld.”
Associated Press se verteenwoordiger in Kaapstad kon nie die storie mislees nie en kort voor lank was dit wêreldnuus – en die telefoonlyne Moskou toe is rooiwarm gebel.

Vervolgens ontken Blagonrawof dat hy sodanige onderhoud gevoer het, en bestempel dit as “hoogs ontwikkelde verbeelding”.

“Die Landstem se Londense korrespondent het klaarblyklik ‘n tot dusver onbekende tegnologiese prestasie benut om my gedagtes telepaties te ontvang. Ek was nie die afgelope paar dae in Moskou nie en het geen telefoononderhoud met enigiemand uit Londen gevoer nie.

“Soos dikwels gebeur, is die nuwe uitvindsel onvolmaak en is daar duidelike verwringing in die ontsyfering van my gedagtes.”

Johannesburg se ver-linkse New Age het die berig as ‘n “anti-Sowjet riemtelegram” bestempel en die helfte van sy agterblad van 22 Januarie bestee om Die Landstem te verguis.

Piet Beukes is, na wat vertel word, uit alle uithoeke van die wêreld met telefoonoproepe en kabelgramme gepeper, insluitend glo deur die Amerikaanse department van buitelandse sake en ‘n briesende Blagonrawof homself.

Gedink die wind is uit sy seile gehaal? Die volgende week lui die blad se hoofopskrifte op die voorblad:


Ons kolskoot wat die hele wêreld laat praat het
LANDSTEM SPRING DIE RUSSE VOOR
- Met hul eie nuus

'n Voorblad van Prawda. Dit beteken "die waarheid".
Die opvolgberig vertel onder meer dat die Sowjet-koerant, Prawda, bevestig het dat die volgende stap in die Russe se ruimteprogram die stuur van ‘n bemande tuig na ander planete is.

Die inleiding lees: “Vir die tweede keer binne enkele maande het Die Landstem ‘n wêreld-“scoop” gehad wat die mense in baie lande aan die praat gehad het. ‘n Paar maande gelede het Die Landstem nuus uit Moskou deur Griekeland ontvang wat aangedui het dat die Amerikaanse atoom-duikbote onder die ys van die Noordpool was. ‘n Week later het president Eisenhower die Landstem-nuus bevestig.”

Die koerant kon ook nie die versoeking weerstaan nie om te spog dat Die Landstem die eerste Afrikaanse koerantnaam op die lippe van duisende mense in die vernaamste hoofstede van die beskaafde wêreld was.
Daar was darem ‘n verskoning aan prof. Blagonrawof dat die blad se Londense korrespondent deur ‘n misverstand die “hele” berig aan hom toegedig is.

“Hoofsaak is egter dat Die Landstem eerste was met die nuus oor Rusland se nuwe ruimteplanne en dat, hoewel die Russe dit eers ontken het, hul amptelike koerant, Prawda, dit byna ‘n week daarna bevestig het.”
Soos Peet Simonis altyd geskerts het: “‘n Mens moet nooit dat die feite met ‘n goeie storie inmeng nie.”

Volgens die webjoernaal forums.govteen.com het vriende van Piet Beukes hom by geleentheid oor die berig geterg. “Dis wat die bokker sou sê as ‘n onderhoud met hom gevoer is,” het hy glo verontwaardig geantwoord.

Norma Vorster, Mej SA, 1956
Die Landstem was destyds ook bekend, eintlik berug, vir sy foto’s van skoonhede in baaiklere. Dit was juis dié blad wat in 1956 die regte bekom het om ‘n Mej Suid-Afrika in die Mej Wêreld-wedstryd in te skryf.

In my grootwordwêreld het die plaaslike NG predikant dit by geleentheid gerade geag om die dorp se kafee-eienaar broederlik te vermaan, met besondere verwysing na die foto’s, oor die dekadente lektuur wat hy verkoop.

“Dominee,” het die kafeebaas teruggekap, “jy is ‘n ryk man. Jy ry elke jaar strand toe om na die meisies in lewende lywe te gaan kyk. Ons arm mense moet met die prentjies tevrede wees. Gun ons dit.”

Die saak is, sover ek weet, nie verder gevoer nie.