Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.4.13

Toe “spark” Ghriespomp beter as 60 ander ouens

EVERT VAN NIEKERK, die destydse motorredakteur van die Die Vaderland, is in 1970 as Motorskrywer van die Jaar aangewys. Die Vereniging van Motorskrywers het hom uit 61 inskrywings die beste geag.

In Hanekraai van Augustus 1970 het kollega Suzelle du Preez (toe
was sy nog ongetroud en het later Fourie geword) haar indrukke van Evert weergegee. Evert het ook ‘n storie oor sy ervarings geskryf.

Suzelle Fourie
SUZELLE het geskryf: As Die Vaderland se nuusredakteur (tóé Frans du Toit) vroegoggend met konferensietyd begin rondloer om te sien "waar daardie Ghriespomp vanoggend weer bly", is dit maar net Evert wat weer so 'n bietjie aan die laat kant is – dit is nou Evert van Niekerk, ons motorredakteur.

Met so 'n halfverleë laggie sal hy dan probeer om by daardie onverbiddelike redakteursoog verby te kom. En dis hier waar die man se onteenseglike sjarme die oorhand kry - daardie aansteeklike laggie is dodelik en selfs 'n nuusredakteur se verontwaardiging is nie daarteen bestand nie!

Dié man weet alles van motors af (wat hy nie weet nie, lieg hy by!) en sy lesers is dienooreenkomstig beïndruk met sy vermoë om allerlei verbasende gevolgtrekkings te maak uit die laaste stuiptrekkings van 'n byna oorlede enjin.

Vader van Die Vaderland se reeds beroemde "Motorkliniek", het hy reeds vele oorwinnings op die wrakveld behaal weens sy vreeslose benadering tot motorhawe-eienaars en fabrieksbase. Hier word almal oor dieselfde kam geskeer – as jy 'n swak produk aan die publiek wil afsmeer, gaan jy met 'n onverbiddelike Van Niekerk te doen kry!

(Ons vermoed dat hy ná elke oorwinning op die kliniekfront nog 'n kerfie op sy reeds gehawende lessenaar maak!)

Evert en sy deurmekaar kantoor
CHAOS 

Die Vaderland se moterredakteur is om meer as een rede 'n merkwaardige mens. In die eerste plek is hy net Evert. Vir die oningeligtes – dit beteken 'n immerteenwoordige teenwoordigheid van gees en 'n fyn glimlaggie wat nóg duiwel, nóg droogte daar sal kan afvee. Dit beteken ook 'n lessenaar wat 'n mens laat peins oor die dieper betekenis van die woord "chaos" (ondanks menige dapper poging om die tikmasjien darem sigbaar te hou). En dan beteken dit ook 'n spontane gebrul wat soms opstyg van agter die houtskanse van sy heiligdom – Evertino Caruso aan die sing!

In die tweede plek is hy by uitstek kenner van motors, mooi meisies en … motors.
Nuusredakteur
Frans du Toit

In die derde plek is hy biegvader vir menige moedelose motoris wat nie meer weet waarnatoe met die rammelkas wat hy pas verlede maand as 'n nuwe motor gekoop het nie.

Dan is hy nog ander dinge ook. Die nuusredakteur dink hy kan nie tik of spel nie (laat staan nog skryf!).

"GESPARK"

Maar Die Vaderland se motorredakteur is onlangs deur die Vereniging van Motorskrywwers aangewys as die Motorskrywer van die Jaar vir 1970.

Dit was toe ons eie vonkprop wat tussen 61 vasberade inskrywings met die louere en 'n prys van ’n vakansie van twee weke in Europa weggeloop het! En glo my, dit was nou een vonkprop wat behoorlik "gespark" het toe hy die nuus hoor. Tot sy stertliggies het geflikker!

Laat ons hom dit van harte gun. Hy het hard gewerk daarvoor, al beny 'n mens hom die voorreg om terselfdertyd sy werk en stokperdjie te kan beoefen, want Evert se werk is sy stokperdjie. Motors - mooies of lelikes, oues of nuwes, vinniges of persmotors – dit is sy lewe!

Evert het in dieselfde uitgawe van Hanekraai geskryf: Dis ook lekker om so ryk te wees!

Daar waar ons woon is die standplase maar klein. 'n Mens kan jou buurman hoor koffie drink. Dit is dus heeltemal verklaarbaar waarom ek gehoor het wat die bure se kinders van ons gesê het toe ons onlangs daar ingetrek het.

"Jislaaik, maar die nuwe mense is ryk," het die knaap opgewonde geskril. "Hulle het 'n Triumph 2000, 'n Ford 20M EN 'n Holden Monaro!"(uitroepteken) roep hy in ekstase uit.

Ford 20m
Triumph 2000
Holden Monaro

"Watse ding is 'n Monaro?" was al kommentaar van sy pa.

"Haai Pappie!" het sy oulike agtienjarige dogter geantwoord. "Dis daai nuwe Holdens met die ‘smooth lines’, die dubbele ‘exhausts’ en wat die teer skeur!" Op-en-wakker meisiekind hierdie. Sy weet van motors en dis so reg in enige motorredakteur se kraam.

"Wonner wat hy doen?" het iemand gevra en toe ek my ore spits om te hoor wat die oulike doedie te sê het, kom my vrou om die hoek.

GLORIE

Nou ja, dis een van die meer aangename deeltjies van 'n motorredakteur se lewe. So tussen die ghries, olie en suierstange is daar die klein oomblikkies van glorie wanneer mense dink jy is baie ryk omdat jy elke dag 'n ander nuwe motor bestuur. Hulle dink jy is wonderlik en ryk totdat hulle vasstel jy toets hulle maar net. Dan dink hulle jy is besonder gelukkig.

Padtoetse van motors is ongelukkig nie altyd 'n plesier nie. Al ooit teen 90 m/pu deur 'n doringdraad gebars, die mielies in met stof, stronke en onderdele in jou oë, hare en mond? Al ooit by die enjin ingeloer en jou das beland in die waaier? En wat van daardie keer toe die bokke in Rhodesië besluit het om in 'n drif te staan en skinder terwyl jy besig was om 'n rekordrit van Salisbury na Johannesburg af te lê? Praat van ghries, olie en bloed en … toe maar!

Riley 1950
Hier in die jare vyftig het 'n Johannesburgse geesdriftige vir hom 'n V8-enjin in 'n Riley ingebou en gevra datons die ding moet toets. Ons het die versekering gekry dat die veerstelsel en remme ooreenkomstig verbeter is.

Soos 'n mens kan verwag, was die Riley se versnelling iets om te beleef. Sy topsnelheid was ewe indrukwekkend en die algemene hantering was nie te sleg nie. Toe gebeur dit!

80 M/PU

So teen 80 m/pu teen 'n afdraande af begin ek agterkom dat die rempedaal al hoe nader aan die vloer kom terwyl die Riley glad nie van plan is om stadiger te ry nie. Ek trek toe die handrem liggies op en trek en trek en trek en daar sit ek met die hefboom in my hand!

In 'n poging om kalm en bedaard die ratte te wissel het my oorywerigheid die oorhand gekry en die hefboom breek af net daar waar die kêrel die sweiswerk gedoen het!

Die affêre het toe begin ruk asof ons op 'n sinkplaatpad gery het. Ek het geweet dat daar 'n skerp draai op ons gewag het met bome daar langs. Ons moes die snelheid verminder voordat daardie draai aangepak kon word.

Ek het van die pad af gery en die motor so geleidelik moontlik teen die wal langs die pad begin skuur. Dit was nie 'n aangename andervinding nie en daarby was die geskree van die metaal teen die grondwal niks om 'n mens selfversekering te gee nie.

DIE BOOM

Gelukkig was ons snelheid aansienlik verminder toe die draai aangepak moes word. Ongelukkig vir ons, ongelukkiger vir die eienaar wat langs my gesit het, kon ek net-net nie die draai mooi haal nie en dis toe dat ons met die boom kennis maak.

'n Paar skrape hier, 'n paar skrape daar, baie bloed en die eienaar met 'n gebreekte enkel en 'n wrak.

'n Voorvalletjie wat ek my hele lewe lank sal onthou, was baie aangenamer en nogal baie lagwekkend. My vrou het in Rosebank gaan inkopies doen. Dis die plek waar al die "maai deers" Saterdae met baie brakke en min klere op parade gaan.

Toe ek met die splinternuwe Pontiac intrek (dis so 'n lang slap motor waarvan die noordelike voorstedelinge baie hou) het die oë opgeslaan, die brakke wou net by die wiele kom en die swartes was verslae.

Pontiac GTO Judge 1969
Toe my vrou inklim, was daar 'n taamlike skaretjie om die motor en 'n swarte wat 'n bietjie moed bymekaar geskraap het, kom vra my waar die motor se ligte dan is. Die Pontiac se ligte is versteek en word deur enjinvakuum in werking gebring.

Ek skakel toe die enjin aan en laat hom so 'n bietjie brul sodat die brakke kan padgee en die mense kan hoor hoe die enjin klink. Toe trek ek die skakelaar vir die hoofligte en voor in die rooster begin die ligte oopvou.

Die applous en toejuiging wat ek daardie dag ontvang het, sal ek nooit vergeet nie. Darem lekker om ryk te wees, né?
Augustus 1970

(Frans du Toit het Evert die bynaam van Ghriespomp gegee. Evert is sowat 20 jaar gelede oorlede. – Red.)