Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.5.12

Bedrywige lewe hou Lizette uit die kwaad

K’rant het LIZETTE MOSKOVITZ gevra om ons lesers te vertel hoe dit deesdae met haar gaan. Sy het in 1979 as Lizette Bruwer by Die Transvaler in Doornfontein as 'n verslaggewer begin werk.

Bedrywige lewe hou Lizette uit die kwaad. Sy skryf uit Houtbaai: Ek het K’rant op die web besoek en die stories baie geniet...

Willie Buys was hoeka my nuusredakteur toe ek by Die Transvaler begin werk het (1979), Frikkie van der Walt (reüniefoto) lyk nog net soos ek hom onthou en André de Kock is wraggies nog nie eers grys nie ... dink die vuurtonnels doen hom goed!

Ek bly al die afgelope 26 jaar in Houtbaai, het twee seuns en het die begin van die jaar my 30e huwerliksherdenking gevier – dink ek verdien ‘n medalje! Die oudste, Kyle (24), (lyk soos sy pa en het sy ma se brein … ), voltooi aan die einde van die jaar sy Meestersgraad in Chemiese Ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad, en die jongste, Jason (20), (lyk soos sy ma en het haar ‘sporting ability’ ...), is 3 jaar „Sports Management en Golf Business Academyˮ by die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie. Hy loop twee grade gelyktydig en beoog om nadat hy aan die einde volgende jaar afstudeer, Amerika toe te gaan en beroepsgholfspeler te word.

Toe die seuns skool toe gegaan het, het ek van die huis af begin werk om besig te bly en nou het dit in ’n volle besigheid verander. Eers was dit slegs maatskappye se nuusbriewe, advertensies, brosjures en briefhoofde, maar nou het dit uitgebrei tot ’n „signage & print & publishing company”! Ek doen „large format” digitale drukwerk op ’n groot verskeidenheid media, „signage”, „resin doming”, medaljes, ens.

Die enigste ding wat ek nie meer self doen nie, is die montering van die „signage” – dink nie dis baie wys om self meer op ’n leer teen ‘n gebou te klim nie … Ek het kliënte van regoor die wêreld en dit maak die lewe baie interessant.

Julle is welkom om my webwerf te besoek: www.needasign.co.za. Ek hanteer ook boeke – 20 op die oomblik – vir ‘n groep skrywers wat leerderhulpbronne opstel om leerders en onderwysers landwyd te help – wat ek van set- tot drukwerk en bind self doen en dan stuur na die verspreidingsmaatskappy.

Al is ek ‘n eenmansaak, kry ek tog deeltydse hulp in as ek besig raak met dié groot bestellings. Vir ander publikasies doen ek slegs die set- en kunswerk en stuur dit dan Amerika, Australië of China toe om gedruk te word.

Ek werk steeds van die huis af en het die boonste verdieping in ’n semi-fabriek met ’n paar rekenaars, ses drukkers, een grootformaat-drukker, ’n lasermasjien, „perfect binder” en semi-industriële „guillotine” toegerus!

So, dit is wat ek daagliks doen om uit die kwaad en uit Selwyn se (min) hare te bly!