Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.5.12

Moleste op Jakkalsputz

PHILIP DEETLEFS skryf: Dit was in 1987 toe besluit (oorlede) André de Bruyn, Etienne Kriel (toe al redakteur van Stywe Lyne), Tubby Kaaijk (toe polisieman in Windhoek) en ek dat ons by Etienne moet spog met hoe groot die kabeljoue, galjoene en steenbrasse is wat aan die skedelkus van Namibië byt.

Slaan twee tentjies op by Jakkalsputz, net suid van Hentiesbaai wat ons
„base camp” maak en elke dag ry ons dan om hengelplek te soek. Een van die hengelreëls waarby diePB’s (plaaslike bevolking) sweer, is dat jy nie oor die Omarururivier (noord van Henties) sonder ’n bottel iets ry nie. Jy hoef die bottel nooit oop te maak nie, maar as jy sonder hom oor die brug is, sal die vis nie byt nie.

Die rooi kol links bo dui Hentiesbaai aan.
Diep bygelowig het ons elke dag mildelik voorsorg getref dat die vis nie rede vir ‘n swak aptyt kan aanvoer nie. As die son jou begin rooi in die oog kyk dan is dit met die dag se vangs terug „base camp” toe, maar nie sonder om eers by die De Duine Hotel op Henties te gaan dankie sê vir die dag se gawes nie.

Ons het in twee spanne verdeel vir die aande se kosmaakbeurt. Ek en Tubby in ‘n span en Etienne en André in die ander span en so het ons ook in die tente geslaap.

Die aand was dit ons beurt om die vooraf beplande osstert-potjie te maak. Osse se sterte word nie vinnig eetsag nie. Tubby en ek moes toe maar ná die eerste of tweede dop solank pad vat Jakkalsputz toe om die kos aan die gang te kry. André en Etienne sal kom sodra hulle dors geles is.

Op pad Jakkalsputz toe kry ons die reste van ’n jakkals wat geruime tydjie gelede onder ‘n Oshkosh of iets beland het. Hy is plat en ruik nie meer na vars jakkals nie. Tubby besluit ons moet hom saamvat en in André-hulle se tent bêre vir ‘n verrassing. So gedoen en die plat jakkals is onder André se slaapsak gebêre.

Toe hulle terug is van Henties is dit sommer reguit vuur toe en die aand verder gekuier. Later goed versadig en hoegenaamd nie meer dors nie, is almal kooi se kant toe.

Ek en Tubby kan nie wag dat die manne agterkom daars fout in hulle tent nie. Niks gebeur nie? Later hoor ons hulle net snork. Teleurgesteld snork ons toe ook maar.

Volgende oggend vroeg blaas ons al die kole aan vir die koffie se vuurtjie toe ons pêlle se tent met geweld oopbars. Nie netjies met die ritssluiter langs nie. Letterlik oopbars en André skiet ‘n kat op, jy kan maar sê, sy eie voorstoep en Etienne soek ook dringend vars lug.

Toe hulle die oorsaak opspoor, moes ons hardloop, want seker nog nooit tevore nie was daar twee mense op Jakkalsputz wat twee ander mense met meer geesdrif en baie grusaam wou vermoor het nie.

André het sy slaapsak en sy hemp waarmee hy geslaap het aan die ander kant van Jakkalsputz in ‘n drom gegooi ... my maat André.