20.5.12
Steen des aanstoots
Wat ’n ergernis kon dit nie afgee en hoe dun het die nerwe nie geskaaf geraak nie. Terloops, ek sien die Drukkerswoordeboek noem, wat ons destyds na die Engelse „stone” die „steen” genoem het, ’n inslaantafel.
Destyds, wanneer die koerant se laaste bladsye af is settery toe, het ’n sub of twee, drie gevolg om te verseker dat hulle vining aandag kon gee aan wat redaksie-aandag geverg het. Tyd was nou ’n wesenlike faktor, want ’n koerant wat laat op straat was, kon letterlik duisende aan verkope inboet.
Weë die afdeling, dus, wat daaraan skuldig bevind word dat dit daardie vertraging veroorsaak het.
Inherent was die botsingspotensiaal geleë in die feit dat die redaksie graag die beste moontlike produk op straat wou sien, terwyl die settery die indruk gewek het dat gehalte tweede viool teen klaarkry gespeel het.
Sake kon dus maar iesegrimmig daaraan toe gaan en in dié gelaaide atmosfeer was dit geensins vreemd as die humeure hand-uit geruk het nie.
Wel, dis nie net die redaksie wat in die settery verteenwoordig is nie. Advertensies het ook ’n man daar gehad. Hy moes toesien dat elke stukkie advertensiemateriaal daar was wanneer dit nodig was en dat dit op die regte plek geplaas word. Sy las was dus nog swaarder as die subs s’n. Behalwe gehaltebeheer en betydse verskyning, het die swaard van ’n verlies aan advertensie-inkomste dreigend oor sy kop gehang.
En ’n mens kan nie glo hoe maklik ’n stukkie advertensiemateriaal verlê raak nie. Om die druk te verlig, het ons vriend (dié bepaalde ene minstens) in die loop van die aand vir kromnek Kaatjie meer as ’n paar lekker soene gegee.
Aand vir aand was hy erg aangeklam. Toe, eensklaps, is hy die aand so nugter soos more die hele dag. „En nou?” was die vraag op almal se lippe. „Die dokter het gesê ek moet ophou drink,” was die antwoord. „Dis sleg vir my gesondheid.”
Drie aande later is dit weer die ou-ou liedjie. „En nóú?” „Die dokter sê ek moet nou ook nie heeltemal so vining ophou nie.”