Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.5.12

Andries Botha se politieke poeding (1)

ANDRIES BOTHA het in 1958 by Die Transvaler ingeval, maar is ná twee jaar eers na die Potchefstroomse Universiteit, waar hy in 1962 die graad B.A. met Engels en Geskiedenis as hoofvakke verwerf het.

Hy is in 1963 terug na Die Transvaler en het tot 1979 daar gewerk opeenvolgend as hofverslaggewer, Durbanse verteenwoordiger, politieke korrespondent, nuusredakteur en assistent-redakteur onder dr. Willem de Klerk.

In 1978 het hy ’n prys vir Ondernemende Joernalistiek in die Stellenbosch-Boerewynmakery se landwye wedstryd gewen vir ’n projek wat onder meer gelei het tot die vrylating uit die tronk van onder andere dr. Nthato Motlana en Aggrey Klaaste, latere redakteur van Sowetan.

Andries was ook twee jaar lank Assistent-redakteur van Die Vaderland onder Dirk Richard. Daarna was hy Bestuurder: Openbare Betrekkinge van die KwaZulu-ontwikkelingskorporasie en die KwaZulu-regering, in dieselfde pos by die KWV in die Paarl.

Hy was Feesdirekteur van die 300-jarige viering van die Paarl se bestaan in 1987 en het daarna sy eie skakelonderneming begin met die KWV, Groot Constantia, die Wes-Kaapse Landbou-unie, Boeresake, Veekos, Fairview-wynlango.

“En teen 1990 maak ek die blaps van my lewe deur betrokke te raak in ’n internasionale warmlugballonfees in die Kaap waarin ek, deur die slinksheid van 'n vennoot, feitlik kaal anderkant uitgekom het.”

Van 2006 tot 2009 was hy besturende redakteur van die Polokwane Observer, wat die prys gewen het as die beste gemeenskapskoerant in Suid-Afrika in die Sanlam-wedstryd vir uitnemende joernalistiek vir gemeenskapskoerante, ’n wedstryd wat Andries self vroeër met ’n borgskap van die KWV begin het, toe hy nog daar in diens was. Dit is later deur Sanlam oorgeneem.

Vandag skryf hy Internet-nuusbriewe vir verskillende organisasies.

Andries vertel hieronder van die politiek se ligter oomblike.

DIT wil so al voorkom asof humor totaal uit die politiek verdwyn het. Behalwe vir die (meestal onbedoelde) humor van president Jacob Zuma en die ANC se jeugligaleier, Julius Malema.

John Vorster
Hopelik sal die demokrasie tog eendag volwasse genoeg raak dat humor weer deel van die land se politieke debat sal word. In Suid-Afrika se veelbewoë politieke verlede was daar wel ‘n hele paar politici soos - Hendrik Schoeman en John Vorster - wat die lagspiere kon prikkel. En daar was ook ‘n joernalis of twee wat hulle ewe gevat oor die politiek kon uitlaat.

Hendrik 
Schoeman
Min kon vir Schoeman kers vashou. Hy was nie bloot gevat nie. Hy was oorspronklik. Sit ons eendag en koffie drink in die parlementêre eetkamer toe dr Piet Koornhof melding maak van Oom Pottie Potgieter, toe hoofsweep van die Nasionale Party en LP vir Brits, wat tog “sulke oulike kinders het wat in verskillende professies gekwalifiseer het”. Merk Hendrik Schoeman (Foto links: africamediaonline) toe op: “Kyk, ‘n kind van Oom Pottie sal ek nie omgee om te wees nie, maar ek wil nie ‘n kleinkind of ‘n agterkleinkind van hom wees nie.” Dr Koornhof: “Hoe so?” Hendrik: “Die Bybel sê uitdruklik die misdade van die vaders sal besoek word aan die kinder in die tweede en die derde geslag…”

--------

Die hoofsweep was die taktikus van ‘n party wat moes bepaal wie praat wanneer. Hy het uiteraard teenoor LPs beloftes gemaak wat hy nie kon vervul nie, aangesien die gang van debatte dikwels bepaal het dat veral agterbankers in die slag bly wanneer die toetrede van swaargewigte vereis word. Só was daar ‘n baie vername LP van die Oos-Rand wat in ‘n vorige lewe politieke kommentator by die SAUK was waar niemand kon terugpraat op sy kommentaar nie. Hy was besonder kort van postuur en buitengewoon fyngevoelig daaroor. Kry hy toe uiteindelik as agterbanker ‘n spreekbeurt. Toe hy so halfpad deur sy toespraak was, spring die onnutsige mnr Vause Raw, Opposisie-LP vir Durban-Punt, op: “Op ‘n punt van orde, meneer die Speaker, is dit nie teenstrydig met die reglement van orde van dié huis dat ‘n agbare lid sit as hy sy toespraak lewer nie."

---------

John Vorster was self ‘n man wat nie net gevat was nie, maar het ook soos ‘n goeie komediant uitstekende tydsberekening gehad. In die dae toe mev Helen Suzman die enigste dapper verteenwoordiger van die Progressiewe Part in die Volskraad was, vertel hy: “Dinsdag is koukusdag in die Parlement. Dan vergader die Verenigde Party se koukus met so by die 40 lede. En dan vergader die Nasionale Party se koukus met om en by 120 lede en mev Helen Suzman kyk dan in die spieēl."

---------

Helen Suzman
Maar die einste mev Suzman het haar ook verknies aan mnr Vorster se stories, veral na gholfwedstryde waarin die Parlementêre gholfspan teen plattelandse klubs en sakekamers meegeding het. Op Ceres het hy sy toespraak op ‘n dag aldus afgeskop: “Julle mense hier op Ceres dink mos julle is die midelpunt van die heelal. Maar ek het nuus vir julle. “Op pad hierheen raak ek onseker of ons nog koers hou. Sien ek toe ‘n man langs die pad stap met twee waatlemoene onder die arm. Ek klim toe uit en vra hom: ‘Hoe loop die pad Ceres toe?’ “Hy hou toe die een waatlemoen uit na my toe en sê:’Vat so.’ Toe hou hy die ander waatlemoen uit na my en sê: ‘Vat so.’ “En toe ek nou met die twee waatlemoene onder die arm staan, keer hy sy hande met die palms na bo om en sê: ‘Ek weet nie'".

---------

Vorster kon bitter onnutsig wees ook. Op ‘n slag vertel hy in die deftige Mowbray-gholfklub met sy eg Britse tradisies van sy besoek aan die tandarts. “Toe hy my nou eers plat op die naat van my rug op die stoel het en ek magteloos voor hom lê met my mond oop en hy met die inspuitnaald staan en maak of hy my al jare ken, toe wag ek net tot hy so oor my buk en ek gryp hom op ‘n strategiese plek vas en sê: ‘Ons gaan mekaar nie seermaak nie, dokter, gaan ons?”