WILLIE BUYS skryf: Dankie aan Piet Ebersöhn en die Perskor-Reüniekomitee vir die uitnodiging om bydraes te lewer vir ons eie kletskoerantjie – en sommer as mede-redakteur op te tree. So hou ons die gees onder ons lewendig en aan die gang – hoewel daar talle oudwerknemers is wat ek glo nie met ’n lied in die hart van Perskor afskeid geneem het nie.
Vir my persoonlik het Perskor die basis gelê waarop ek ’n suksesvolle loopbaan kon bou as joernalis, hoofverslaggewer, assistant-nuusredakteur, nuusredakteur, hoofredakteur van Perskor se nuusdienste (buitelandse kantore en nuusburo’s regoor die westerse wêreld en hier te lande) en later uitvoerende redakteur van ’n paar streekkoerante vir Nasionale Pers tot en met my uittrede in 2003.
Ek skryf nou nog ’n gereelde rubriek vir die plaaslike gemeenskapskoerant.
Die rykste oes aan herinneringe het ek beleef tydens my sowat sewe jaar as nuusredakteur van die oggendblad Die Transvaler. Daar is ’n horde mens-gegronde staaltjies en ondervindings propvol humor, tragedies, patos en sommer al die dinge wat die lewe ryklik tooi soos ’n kleurryke Kersboom.
Dit maak dat ek op my oudag ’n baie groot risiko loop om ’n vervelige ouballie te wees wat tot satwordens toe oor die verlede teem.
Nuusredakteurskap het my baie dinge geleer, onder meer oor hoe om volledig mens te wees; hoe om met elke afsonderlik-toegedeelde persoonlikheid te werk, met ander woorde, hoe om mense te lees, te motiveer ten einde die beste uit hulle haal. En die grootste aangeleerde bate van almal – om mense se respek te verdien.
Baie foute gemaak, ja, maar as ’n mens nie foute maak nie, sal jy nie leer en die volgende keer beter weet en anders optree nie . Baie van die uitstaande dinge wat ek ervaar het, kan lasterlik wees hoewel dit waar is.
Die nuuskantoor van ’n koerant is ’n kernpunt waar nie net die nuus nie, maar ook die skandes en skades van joernaliste – en ook die moedermaatskappy – gekondenseer word. Nie alle stories kan vertel word nie, want dit sou neerkom op vertroueskending – ’n kernbestanddeel vir enige gesonde verhouding.
Daarom is dit aangewese dat dit liewer ongesê bly om my te vergesel op ons almal se uiteindelike finale paadjie na die graf toe. Maar daar is wel ’n paar insidente, voorvalle en gebeure waarmee ek van tyd tot tyd oudkollegas en vriende sal verveel. Tot dan ...