PIET EBERSÖHN skryf: Terwyl ek onlangs op die wêreldwye web rondkrap op soek na leidrade om oud-kollegas op te spoor, kom ek met ’n skok af op ’n meer as twee jaar oue doodsberig van Herman Gouws: „George Herald groet ’n kleurvolle kollega” was die opskrif van die berig wat onder meer soos volg gelui het:
„Ná meer as ’n kwarteeu se bladuitleg en redigering by George Herald het
Herman Gouws (61), subredakteur tot einde 2009, se finale saktyd aangebreek toe hy ná ’n maande lange siekbed oorlede is.
„Nadat hy aan die UPE gestudeer het, het hy aanvanklik by koerante soos die destydse Die Transvaler en Rapport as verslaggewer en subredakteur ’n draai gaan maak, voordat hy eers by Het Suid-Western en later George Herald aangesluit het.
Kort ná sy aankoms in die Eden-distrik het hy besluit dat George sy laaste adres sal wees en die groot stede finaal gegroet.
Alleen in 'n plaashuis
„Herman was ’n man van en vir die natuur. Hy het deurgaans so na as moontlik aan die natuur gelewe en luukshede het hom nie in die minste geïntresseer nie. Hy het net aangeskaf wat vir sy besondere leefstyl noodsaaklik was en die res as oorbodig beskou. Die berig meld dat hy baie jare lank alleen in ’n plaashuis naby Maalgaterivier se brug gewoon het en later ’n huis in George gekoop het, waar hy ook tot sy dood alleen gewoon het.
• Nadat hy Het Suid-Western toe is, het ek twee keer by hom op George gekuier. Die eerste keer het hy my vertel hoe gelukkig hy met die werk is. Die koerant het nog nie vantevore ’n subredakteur in diens gehad nie en hy het die sub se taak duidelik vir hulle uitgestippel. „En ek het dit gedoen om mý te pas,” het hy ingenome verklaar.
Lala se kind sal skrik
Nog twee oud-DT-kollegas, Danie en Lala Malan was op daardie tydstip in George, en Lala het pas geboorte geskenk aan hul oudste, Louis. Herrie wou ma en baba in die hospital gaan besoek, maar met sy wildewragtig-haarbos en bypassende baard wou die kraamsuster net mooi niks weet nie. „Hy sal die kind die skrik op die lyf ja,” het sy verklaar, en voet by stuk gehou.
In elk geval, die geboorte moes gevier word. ’n Drankwinkel op Mosselbaai het destyds sulke lekker soetwyn onder die naam „Sakkies” bemark. Herrie het iewers gehoor dat as jy eers ’n bottel rooi Sakkies drink en dit dan met ’n bottel wit Sakkies opvolg, kom jy niks daarvan oor nie.
Dit was ’n gulde geleentheid om vas te stel of dit waar is. Ons – Herrie, Danie en ek – het dit dié aand beproef, en kan onomwonde rapporteer: Dit werk nie so nie.
• Die laaste keer wat ek by hom gekuier het, onderweg na ’n stookfees op Calitzdorp, was by sy plaashuis langs een van die mere in die gebied. Hy het sonder elektrisiteit klaargekom. Dit was een van daardie dinge wat nie vir hom belangrik was nie. Ons het langs die huis vleis gebraai en diep gefilosofeer tot wie weet watter tyd. Hy kon mos so lekker – en spitsvondig – oor bykans enige onderwerp gesels. En dan so trek-trek aan sy baard as hy diep nadink.
PW Botha, PW Botha! Slaap jy nog ... ?
Weer eens het hy opgemerk hoe tevrede hy met die lewe is: „Ek kort nog net ‘n bakkie om op die meer te kan roei, dan is al my ambisies vervul.” In die vroeë oggendure het ons vir oulaas uit volle bors gesing: „PW Botha, PW Botha! Slaap jy nog …? Ek wonder of hy ooit sy bakkie gekoop het. Ons sal vorentoe nog ‘n een en ander oor Herrie in herinnering roep.