PHILIP DEETLEFS het dit oor snelperke en boetes. Hy skryf: My vermurfde geheue wil dit hê dat dit rondom 1979 was toe sanksies die Suid-Afrikaanse regering op die blink plan laat kom het om die volk te dwing om brandstof te bespaar.
Hulle het ’n snelperk van 80 km/h op nasionale paaie geplaas en as jy gevang word dat jy vinnger as dit gery het, is jy aangekla dat jy misbruik gemaak het van landsvoorrade. Erg!
Niks boetes nie. Reguit hof toe. Terroris!
Een Sondag by Die Transvaler was Willie Buys nuusredakteur. Dieselfde dag het die mynwerkers op Welkom in die Vrystaat besluit dis tyd dat hulle ’n slaggie staak en sommer al die ander dinge doen wat stakers graag doen. Soos hul koshuise breek, petrolbomme rondslinger en dies meer. Willie het gedink ek moet gaan kyk of ek ’n storie kan uitgekrap.
'n Ding uit 'n bos
So besluit, so gedoen. In die betroubare Peogeot 404 van Perskor daar weg (sonder ’n bestuurder), storie in Welkom gaan doen en toe terug jaag om die „deadlineˮ te haal. Net buite Parys langs die Vaalrivier spring daar ’n ding agter ’n bos uit en keer my voor. Lekker leedvermakerig en met die tipiese grynslag van iemand wat nie onder eed kan verklaar dat sy ma nie soms en graag nagskof gewerk het nie. Spietkop.
Ek probeer vir spietkop se kind verduidelik dat Perskor se motors nie vinniger as 80 kan ry nie en indien hierdie een dit reggekry het, moet hy onthou dis in nasionale belang dat die volk die volgende dag ingelig moet word oor die doene en late van die mynwerkers. Die term „deadlineˮ is nie uit die lug gepluk nie. Ek is dood as ek laat kom.
Meneer die spietkop gee my toe ’n hofdatum waneer ek maar vir die landdros op Parys my stories kan vertel. Die Vrydag van die hofsaak is ek al vroeg by die hof in Parys met ’n vars gestrykte das en blink skoene om dit te laat lyk asof ek nooit aspris so iets sou doen nie. Nou sit ek in die hof en luister die een spoedsaak na die ander en hoe meer ek luister hoe benouder raak ek.
Boete of lyfstraf
As landdros Prins (sal ek sy naam ooit vergeet?) iemand skuldig bevind het dat hy hierdie verskriklike wet oortree het, vra hy hom wat sy maandelikse salaris is en as dit aan die skrapserige kant was, het hy die mens ’n keuse van ’n boete of ’n aantal houe met ’n swaar rottang gegee. Lyfstraf oor jy te vinnig gery het??!! Storie vir Rapport hierdie.
Ek neem notas en toe kom my beurt in die beskuldigde bank. Ek erken skuld dat ek 86 km/h gery het, maar darem met versagtende omstandighede waaraan landdros Prins hom hoegenaamd nie steur nie. Hoeveel verdien jy? Dis die vraag waarvoor ek baie bang was, want ek was nog nooit iemand wat daarvan gehou het dat ander mense sommer aan my slaan nie. Veral nie groot dik polisiemanne met latte nie.
Die keuse
Ek verduidelik toe dat ek net R180 per maand (voor aftrekkings) kry, maar ek is seker dat ek een van die dae ’n goeie verhoging sal kry. Goed dan sê landdros Prins, R3 000 boete of vier houe met ’n swaar rottang. R3 000??!!
Dis aansienlik meer as ’n jaar se salaris. Vier houe is minder as wat ek dikwels op skool op ’n slag gekry het, maar nooit van befoeterde dik polisiemanne nie. As ek nie nou kan betaal nie moet ek die prisoniers se vriend gaan sien en ’n reëling tref. Dis Afrikaans vir boete afbetaal.
34 jaar later
Perskor het nog die boete voorgeskiet en maandeliks van my salaris afgetrek. Vir omtrent 34 jaar lank as ek dit nie mis het nie. Of so het dit gevoel. Omtrent vier maande later het twee mans – albei was pa van kinders – by Honeydew se omgewing vir die Comrades geoefen. ’n Dronk man het beheer oor sy motor verloor en albei die drawwers doodgery. Die man het skuld erken maar dronkenskap as versagtende omstandighede aangebied. Hy is met R1 000 beboet …