Toe ek in 1947 daar in Hoekstraat naby die Johannesburg-stasie begin het, was die Tweede Wêreldoorlog nog vars in die geheue en onthou ek die storie van hoe oom Lal Olivier, die gebou se opsigter, ‘n groot sterk man, saam met Johannes van der Walt, beroemde Suid-Afrikaanse swaargewigstoeier van weleer, verhoed het dat soldate, wat aan die oorlog deelgeneem het, of sou deelneem en wat „Rooi Lussies” genoem is (omrede die rooi lussies wat hulle op hul skouers gedra het om aan te dui dat hulle vrywilligers is), die gebou binne gaan om skade aan te rig.
Dit was in die tyd toe dr. Hendrik Verwoerd die hoofredakteur van Die Transvaler was voordat hy die politiek betree het.
Ek het nie veel met hom te doen gekry nie, maar het diep onder die indruk gekom van die respek wat hy afgedwing het. Hy was ‘n intellektuele reus en sy redenaarsvermoë buitengewoon. Verder was hy vriendelik en innemend wanneer mens hom raakgeloop het. Hy was egter onverbiddelik wanneer hy oortuig was van sy saak.
Adv. CR ("Blackie”) Swart, later Staatspresident, was ook een van die direkteure van die Pers toe sir De Villiers Graaf leier van die opposisie geword het. Toe hy by ‘n direksievergadering gevra is wat hy van sir De Villiers se verkiesing dink, het hy sonder huiwering geantwoord: "Dit sal seker maar ‘n geval wees van ‘n nuwe graaf spit diep.”
Ek was jonk en vol geesdrif en het as kopiehouer vir die proefleser in die drukkery begin en uiteindelik oor tien jaar in alle afdelings van die Pers gewerk insluitend deeltydse skryfwerk en sportverslaggewing onder Dana Niehaus en Gert Kotze.
Ek het ook deeltyds opgetree as sportredakteur van Patrys, die kindertydskrif, en stories vir hulle geskryf onder die skuilname Bart Lombard en Mauritz Westerberg. Die kinders het aan Patrys geskryf en gekla dat hulle meer hou van Bart Lombard se stories as dié van Mauritz Westerberg, want laasgenoemde se helde sterf te veel.
Een storie was oor die oorlog in Viëtnam. ‘n Vlieënier se vliegtuig is afgeskiet en hy het met sy valskerm in vyandelike gebied beland. Een van sy mede-Sabre-vlieëniers het heldhaftig in die veld geland en hom gered. ‘n Seun het aan Patrys geskryf en gevra of ek weet ‘n Sabre-vliegtuig het net een sitplek. Die redakteur het dit aan my oorhandig om te antwoord. Ek antwoord toe maar: ,,Ja, ek weet, maar as jy ‘n Viëtnamese soldaat met ‘n geweer en gevelde bajonet agter jou het, maak dit nie saak of daar net een sitplek is nie. Jy sit op die ander vlieënier se skoot of op die stert van die vliegtuig en vlieg saamˮ.
Nuusredakteur Fritz Potgieter, later professor by die Potchefstroomse Universiteit, was eendag briesend vir my. Hy het Daantjie Malan van Linden opgevolg nadat dié politiek toe is.
Die nagredaksie het ‘n goeie nuusaand gehad en so bietjie begin kuier nadat die koerant gesak het. Van hulle het toe besluit dat hul ou tikmasjiene nie meer die doel dien nie en dit tot groot vermaak van die ander deur die venster van die tweede verdieping in die agterplaas gegooi.
Die volgende dag het Kitty Vermaak namens die redaksie ander tikmasjiene aangevra.
Ek was destyds assistent-rekenmeester en moes die vervanging hanteer. Nadat ek die saak ondersoek het om agter die kap van die byl te kom, het ek al die beskikbare gebruikte tikmasjiene onder die tiksters van die administrasie bymekaar gemaak en redaksie toe gestuur terwyl ek nuwes aan die tiksters voorsien het!
• Foto: 'n Voorblad van Patrys in Augustus 1980. Die prys was toe 30c. Dié uitgawe word nou op bidorbuy teen R85 aangebied.