Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.5.12

’n Aandjie met oesters en Mej. Wêreld

JOE VAN BUUREN het in 1973 as hofverslaggewer by Die Transvaler aangesluit. Later was hy algemene verslaggewer tot hy in 1975 bedank het en ’n weeklblad op Empangeni in KwaZulu/Natal bestuur het. In 1976 is hy terug by Die Transvaler, onder meer as Verre Oos-Randse verteenwoordfiger en militêre korrespondent. In 1978 sluit hy hom by Thys Human in Perskor se Londense kantoor aan. In 1980 keer hy na
Suid-Afrika terug en in 1982 begin hy werk by die SAUK, waar hy steeds is, net twee jaar van aftrede af. 

Joe herleef die dag toe sy paadjie die mooie Anneline Kriel s’n gekruis het.

EEN van die grootste teleurstellings van die nuwe, demokratiese Suid-Afrika is dat die luister en aansien van die Mej. Suid-Afrika-wedstryd so erg getaan het.

 Destyds was die wedstryd ’n groot affêre en skoonhede soos Anneline Kriel, Vera Johns en Yolanda Kloppers was alom bekend. Rapport en The Sunday Times het foto’s van al die deelnemers gepubliseer, en het die besonderhede van hul bates getrou weergegee.

Belangstellendes kon die inligting met ’n kennersoog bestudeer en probeer voorspel wie sou wen. Helaas, daardie dae is verby.

Met die koms van die nuwe Suid-Afrika het die ontslape Peter Mokaba en ’n venoot probeer om die regte tot die Mej. S.A.-titel te verkry. Die twee Sondagblaaie het besluit dat hulle nie gaan toesien dat die wedstryd ’n politieke speelbal word nie en dat hulle daarvan ontslae gaan raak. Eindelik het Doreen Morris die regte bekom om die wedstryd aan te bied.

Anneline Kriel

Ek beskryf dié uiters belangrike aspek van ons geskiedenis in detail ter inleiding van ’n verhaal oor ons eie Mej. Wêreld, die skone Anneline Kriel, nou ná ’n stormagtige lewe oënskynlik gelukkig getroud met die welgestelde sakeman Peter Bacon.

Helen Morgan
Ek het in 1973 by Perskor in Auckland Park in Johannesburg aangesluit en in die daaropvolgende jaar is Anneline as Mej. Wêreld gekroon nadat die aanvanklike wenner, Helen Morgan van Brittanje, bedank het toe dit aan die lig kom dat sy die ma van ’n pragtige kind is.

’n Sakevrou en skoonheidsdeskundige van Margate aan die KwaZulu/Natalse Suidkus, Joan Lawrence, het besluit om Anneline met ’n onthaal by die Beach Hotel op Margate in Suid-Afrika terug te verwelkom. Joan het ’n spa by die hotel bedryf .

Soos reeds verduidelik, was die doen en late van ons skoonheidskoninginne destyds vir die media van intense belang, en die toentertydse nuusredakteur van Die Transvaler, Willie Buys, het besluit dat ek die onthaal sou bywoon en daaroor verslag doen. My ouers het in Durban gewoon en ek sou ’n week lank by hulle tuisgaan onderwyl ek sommer ook ander stories in die streek vir Die Transvaler gesoek het.

Soos talle van my eertydse kollegas sal onthou, het Perskor die vierkantige wit Peugeot 404’s met die rathefboom aan die stuurstang as vervoermiddels gebruik. Ek het die betrokke aand met so ’n motor by die Beach Hotel op Margate opgedaag.

Anneline het die geselligheid met haar destydse tokkelok-kêrel, Jacques Malan, bygewoon. Dit was die aand my eerste kennismaking met oesters, en ek het tien minute lank verbete aan een gekou voor dit stlilletjies agter ’n pilaar uitgespoeg is.

In die loop van die aand het Joan my gevra om Anneline se ouers ’n geleentheid te gee na St. Michael’s on Sea, waar hulle by vriende tuisgegaan het. (Sy het die vrymoedigheid gehad om my te nader, omdat sy waarskynlik goed geweet het dat ’n uitgehongerde jong koerantman later die aand al haar versnaperings, uitgesonderd die oesters, sou verorber.)

Die plan was dat mnr. en mev. Kriel hulle op St. Michael’s vir die geselligheid sou regmaak, en dat hulle dan deur hulle vriende by die hotel terugbesorg sou word. Ek het geredelik ingestem en ons het koers gekies na St. Michael’s.

Dit was ‘n reis van slegs sowat tien minute en aanvanklik was dit maar stil in die motor. Die Kriels het uiteraard nie veel ondervinding van die media gehad nie en ek dink hulle was aanvanklik maar ietwat lugtig vir my.

Toe ons deur Uvongo ry, het Mev. Kriel egter skielik van agter van haar laat hoor. Die tannie wou by my weet of die Mej. Wêreld-titel na my mening haar dogter se lewe enigsins sou verander. (Mev. Kriel was waarskynlik toe jonger as wat ek nou is, maar nou ja.)

Soos wel bekend, het die jong Afrikaanse meisie van Witbank se lewe natuurlik ingrypend verander. Die tokkelok het gou van die toneel verdwyn en toe was daar onder meer drie huwelike, ’n kortstondige sangloopbaan, en ’n gewetenlose spierpaleis wat naakfoto’s van haar langs die Vaalrivier verkoop het voor hy na die buiteland uitgewyk het.

Ek het Anneline gedurende die ietwat onstuimige tydperk van haar lewe verskeie kere raakgeloop. Ek het in die tagtigerjare gereeld oor die radio oor die Nedbank-Miljoen Dollar-uitdaag-gholftoernooi by Sun City (regs) verslag gedoen.

Anneline was toe Sol se Dol en hulle het die toernooie bygewoon. Sy het my natuurlik nie herken nie en ek het ook nie met haar probeer gesels nie, maar sy was steeds die middelpunt van belangstelling waar sy ookal gegaan het.

Ek het nooit weer met haar ouers te doene gehad nie. Hulle is waarskynik albei lank reeds dood, maar ek het deur die jare heen dikwels gewonder hoe hulle hul dogter se manewales verwerk het. (Haar ma is twee jaar gelede op 90-jarige ouderdom oorlede. – Red.)

My ou vriend, Willie Buys, het intussen op Uvongo afgetree, en ek kuier gereeld daar by hom en Estelle. Die hotel staan steeds op Margate, maar ek dink dis nou ’n woonstelgebou. Ek kon nog nooit die huis vind waar die senior Kriels destyds tuisgegaan het nie.

Ná bykans 40 jaar kan ek ook nie onthou hoe ek die aand in die wit Peugeot op mev. Kriel se vraag gereageer het nie. Ek weet net dat nie eens die verbeeldingrykste fiksieskrywer daardie aand sou kon voorspel wat die uitwerking van die Mej. Wêreld-titel op haar dogter se lewe sou wees nie.