Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.5.12

Chris se oorplanting: die storie agter die storie

PEET SIMONIS skryf:  Eintlik moes Chris Vermaak of Mike Meiring na die Kaap afgesit het om Chris Barnard se storie te „dek”, want hulle was al lank in die land en ek nog maar ‘n groentjie by Dagbreek en Sondagnuus. Maar wat my laat kwalifiseer het, was ’n insident by die Hartstigting van Johannesburg wat die groot nuus van Chris se dinge voorafgegaan het.
Mike moes die „launch” van die Hartstigting gaan doen en dit aan die klok
hang van ’n opehart-operasie by die FlorenceNightingale-verpleeginrigting in Hillbrow. Dagbreek- hooffotograaf Dick Prestwich moes vir Mike foto’s neem.


 Chris Barnard en Peet Simonis in gesprek.
So ’n oopgesperde borskas met ’n kloppende hart – naak en bloederig – is nie vir almal ’n skeppingswonder om te aanskou nie, en daar word Dick toe flou en die chirurg vloek vir Mike voor die verpleegpersoneel uit oor die een of ander indiskresie. Die gevolg was dat Mike en Dick (toe hy eers weer mooi by was) daar uit is sonder die storie.

Mike was boos – hy laat hom nie uitvloek van ’n dokter nie en Dick, ... hy het het niks gesê nie. Hy was steeds te bleek om die kiewe. Johan Vorster (Vossie) was destyds nuusredakteur van Dagbreek en sy oordeel was: ja-nee, as die dokter Mike vloek, vloek hy die koerant, so vergeet die Hartstigting, hulle kan na hulle moer vlieg. Eers nee, toe ja.

 Dis toe waar ek in die prentjie kom. Ek het jare en jare al belang gestel in opehartoperasies en het mooi gevra of ek, asseblief, die Hartstigtingstorie kan gaan doen. Vossie het eers nee gesê en toe ja, maar ek moenie kom kla as ek ook uitgevloek word nie en ek moet die foto’s self neem.

Ek was jare lank misdaadverslaggewer by Die Volksblad en die lykhuis was ’n plek waar ek gereeld vir nuus aangedoen het. Bloed en lyke het my ook ontstel. Die eerste lyk wat ek gesien het – besig om deur die staatspatoloog opgesaag en oopgekerf te word, was dié van David Pratt, wat destyds dr. Hendrik Verwoerd by die skouterrein in Milnerpark geskiet het.

Pratt was as gas van die Staatspresident in aanhouding in die Ou Fort in Bloemfontein, waar hy glo selfmoord gepleeg het. Ek dink dit was my eerste besoek by die lykhuis toe hy die dag ingebring is.

Niemand is binne toegelaat nie en ek het by ’n venster ingeloer en iets verskrikliks gesien. Moenie vra hoe dit lyk as ’n lykskouing gedoen word nie. Dit is nie vir aanskouing deur gewone mense nie. So, ek weet hoe Dick Prestwich voor sy floute gevoel het.

Ek was nog naar daarby ook, want toe ek wegdraai kom die vragmotor wat vleis by die polisiekantien gaan aflaai, om die draai en ’n ongevoelige poliesman sê vir my: „Hy kom laai elke dag vleis hier by die lykhuis op!” Agge nee, man! Maalvleis op die koop toe.

Daardie aand toe ek by die huis kom, het Esther toe ook nog maalvleis voorberei – een van my gunsteling geregte tot daardie dag!

In elk geval – ek wou maar net sê dat ’n mens so oor die jare gekondisioneer word en so was bloed, ’n oopgsperde borskas, ’n hart wat rooi en polsend klop, nie vir my erg nie.

Dis LEWE in teenstelling met lyke waaraan ek nooit gewoond geraak het nie! Terug by die hartoperasie. My eerste foto’s was te donker en wonder bo wonder gee die sjirurg my selfs ’n tweede kans by nog ’n opehart-operasie. En dit sonder om my ook uit te vloek. Die foto’s, geneem met my Duitse Exakta-kamera (eerste enkellens-reflekskameras wat destyds gemaak is en met ’n Zeis Tessar 2.8-lens) en sy naby-lens, was die keer baie mooi.

’n Mens kon duidelik sien hoe die nuwe hartklep langs talle oplosbare steke afgly tot in die hartweefsel waar die ou klep vervang moes word. Dit was een van die eerste volkleurstories in Dagbreek se bylaag. Ja, kan jy dit glo ... kleur was ’n sensasionele nuutjie in koerante van daai dae.

Links: Ons het destyds gewoonlik swart-en-wit-foto’s geneem. Kleur was ’n yslike riekmaroul - die film moes na ’n fotolaboratorium genaamd Pro Colour in Braamfontein geneem word vir ontwikkeling en die kleurskeidings moes by Perskor deur Fanie van Niekerk en sy manne gemaak word – ’n halfdag se werk.

Dus, teen die tyd dat Chris toe sy dinge doen, wis ek heelwat meer van harte as Chris Vermaak of Mike Meiring en dis waarom ek moes Grootte Schuur toe, volgens die oordeel van die nuusredakteur. En sy woord was wet.

Die hartoorplanting was destyds ’n baie groot internasionale storie en by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad het dit gewemel van joernaliste wat natuurlik almal ’n onderhoud met Chris wou kry. Dagbreek was destyds die grootste Afrikaanse koerant in die land, maar ek moes maar geduldig my beurt afwag. Die New York Times en Londense Observer en Duitsland se Bild am Sonntag en talle ander, is baie groter en belangriker as ons geag.

Ek het besef ek gaan baie min tyd hê om met Chris te praat – as ek hoegenaamd die geleentheid sou kry! Dit was al Donderdag en aan die verskriklike moontlikheid dat ek glad nie ’n beurt gaan kry voor Sondag se „deadline” nie, wou ek liefs nie dink nie. Ek onthou ek het onder in die motor gewag en gebid soos net ’n baie bang, onseker verslaggewertjie kan bid. „Here, asseblief, ek smeek U, help my om die dokter te siene te kry!”

Ek het begin dink wat ek vir Chris sou vra as ek hom net drie minute te spreke kry, wat as ek tien minute het? Wat as ek hom ’n halfuur lank kan spreek? Ek moes natuurlik ’n „angle” kry wat anders is as die van die talle dagblaaie in die land, anders as die ander Sondagkoerante.

Drie invalshoeke het by my opgekom: Wat presies het gebeur daardie dramatiese oomblikke toe daar twee oop borskaste was sonder harte – dié van die skenker en dié van die ontvanger, Louis Washkansky? Hoe die warm kloppende hart in ’n bakkie oorgedra is na die wagtende borsholte, terwyl die hartlongmasjien wat Louis aan die lewe moes hou klop-klop en doef doef ... maak gou, maak gou!

Die tweede vraag was weg van harte af – kan julle ook ’n mens se kop oorplant? Dit het vir my na ’n simpel vraag geklink, maar het ’n verrassende storie opgelewer ... Chris en Marius het toe alreeds ’n kalfskop oorgeplant en kon dit aan die lewe hou!

’n Derde vraag was rondom die kwessie van Chris se geloofslewe. Bid jy voor jy opereer, Chris? Was dit dalk Hy wat jou in staat gestel het om die operasie te doen? Toe ek uiteindelik voor Chris se kantoordeur kom op die tyd wat met sy sekretaresse ooreengekom is, was daar slegte nuus: „Jammer, geen verdere onderhoude nie, Chris is gedaan.”

Ek het gepleit of my lewe daarvan afhang: „Hoor hier, juffrou, jy moet my asseblief help. Ek verteenwoordig die grootste Afrikaanse koerant in die land. Kan jy jou dit voorstel dat ons nie ’n onderhoud met Chris kry nie? Dis ondenkbaar, die einde van my loopbaan, die einde van die koerant!!”

Nou ja, die laaste deel was seker oordrewe, maar iewers is ’n harstnaar geroer of dalk was dit maar net die Here wat my ’n biekie guns gegee het, want sy het gesmelt: „Nou goed dan, maar, asseblief, net tien minute!”

Chris het agter sy lessenaar gesit, flink opgestaan, innemend geglimlag en my ’n stewige handdruk gegee toe ons mekaar ontmoet. Ek kon dadelik begryp waarom hy so gewild by die media is. Hierdie ou is indrukwekkend.

Om die een of ander rede het ek gevoel om te begin met vraag drie en dit was presies die regte ding. Sy reaksie was iets soos: „Jy’s die eerste ou wat my dit vra. Dankie! Ja, natuurlik bid ek voor ek opereer ...” en toe begin hy vertel van sy lewe as kind en hoe hy grootgeword het „onder die geklank van die Woord” – sy pa synde die sendeling van Beaufort-Wes.

Dit was toe Chris wat die onderhoud gerek het na oor ’n halfuur, maar toe hy my vriendelik afsien voor die sekretaresse, het sy nie omgegee nie. ’n Laaste goeie ingewing wat ons Hemelse Vader (glo ek) my gegee het, was toe ek vra: "Professor, wanneer is daar weer ’n hartoperasie deur dieselfde span wat die oorplanting gedoen het en kan ek dit bywoon, asseblief?”

"Ja, daar’s more ’n operasie en jy is die enigste joernalis wat daarvan weet. Kom ons hou dit so, en ja, jy kan dit bywoon en kom foto’s neem,” en hy verduidelik vir my die prosedure. Ek het gevoel ek’s nie meer op moederaarde nie – ek vlieg uit daai kantoor uit met die wonderlikste scoops - en die vooruitsig van die volgende dag se operasie ook nog!

Ek het die Here van die Kaap tot terug in Johannesburg met my hele hart gedank. Die een oomblik was ek op die rand van die afgrond van ’n joernalistieke loopbaan wat nog skaars begin het, en die volgende oomblik net duskant die hemel.

Alle joernaliste kry seker een of ander tyd daardie gevoel of meermale ... en dis wat ons laat aangaan en aangaan. Dagbreek en Sondagnuus het daardie Sondag my foto van die hartspan in aksie oor die hele boonste helfte van die voorblad gebruik – ’n eerste in daardie dae van konserwatiewe aanbiedings.

Ek herinner my die groot boskrif was: HARTSPAN IN AKSIE