Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.5.12

Thys Human vertel van die perdeskrywer

THYS HUMAN het in Jannie Kruger se redakteursdae as verslaggewer by Die Transvaler begin werk.  In 1959 is Thys na Die Vaderland om hom net die volgende jaar in die skakelwese te begewe.

In 1966 was hy terug by Die Vaderland en het drie jaar later Dagbreek en Sondagnuus se parlementêre beriggewer en toe politieke korrespondent geword.

Met die samesmelting tussen Dagbreek en Die Beeld om Rapport te stig, het Human assistant-tot-die redakteur van Die Vaderland onder Dirk Richard geword.

Ná ’n skof as adjunk-redakteur van Hoofstad het hy Perskor in Washington en Londen verteenwoordig tot hy in 1979 die leisels as redakteur van Oggendblad oorgeneem het. Hy was redakteur tot die sluiting van die koerant in 1983.

Daarna was hy opeenvolgend skakelman van die Konserwatiewe Party, redakteur van Die Suidwester en kommentaarskrywer by die SWAUK.

By sy terugkeer na die Republiek het hy tien jaar lank tot sy aftrede in 2000 as skakelhoof van die destyde Departement van Streek- en Grondsake, en by die Kommissie op die Herstel van Grondregte gewerk.

Thys vertel voorts: 

Le Roux Terblanché, wat doer in die 60's perdewedrenskrywer van Die Vaderland was, was een van die skerpste joernaliste wat ek geken het, maar hy het verkies om hierdie „beatˮ te hanteer in plaas van in die politieke joernalistiek in te gaan waar hy, na my mening, baie goed sou gevaar het.

Hy het dan ook baie gou ’n goeie klompie wenners in die koerant geselekteer en daar was bewerings dat DV skielik 'n hele klompie swart kopers bygekry het - hulle het gou agtergekom dat Le Roux 'n goeie „tipperˮ is.

In daardie dae was dit gebruik dat die wedrenskrywers ’n week of wat voor die Durban July afsit Natal toe, want die oefenlopies in die paar dae voor die groot wedren was vir perdekenners van baie groot belang. Die oefenlopies vind vroeg soggens op die Greyville-renbaan plaas.

In die week voor 1962 se wedren het dit lekker gereën en die baan en die stroke langsaan waar die perdekenners moes loop, was goed nat en modderig. Le Roux het kort voor die wedren vir hom ’n paar „suedeˮ-leerskoene (wat daai tyd die in ding was!) gekoop en dit was seker ook al skoene wat hy saamgesleep het Durban toe, want hy moes toe met die nuwe skoene in die modder loop en enige kenner sal vir jou vertel dat daar niks is wat 'n paar „suedesˮ so goed kon opneuk as reën en modder nie.

Ek twyfel of hy Disa, die 1962-wenner, vir 'n wen ge-„tipˮ het, want die merrie was ’n sterk buiteperd, maar die volgende week terug by die kantoor stuur hy sy onkoste-eis in en eis hy onder meer vir ’n nuwe paar „suedesˮ want, het hy agterna verduidelik, hy het die goed in die uitvoering van sy pligte onherstelbaar beskadig.

Nodeloos om te sê, die eis vir skoene is summier verwerp! Die uitbetaler van eise het beslis min geweet van perdewedrenne en die gedoente om dit – soos ons sal sien. Le Roux was nie ’n moeilike mens nie, eintlik ’n baie aangename ou. En hy het oënskynlik die verwerping van sy skoeneis ewe gelate aanvaar.

Hulle het darem sy onthaaleis vir die vermaarde afrigter, George Azzie, betaal. In 1963 is dit weer Durban toe – ek vermoed weer met nuwe skoene, maar nie weer „suedesˮ nie. Hy het later vertel hy het nie alleen die wenner ge-„tipˮ nie, maar ’n hele spul rand op die perd gewed – en gewen.

Terug by die kantoor die volgende week sit hy weer sy onkoste-eis in – dié keer sonder ’n eis vir skoene. Sy eis het benewens R&V ook onthale bevat: Onthaal mnr. S. Laird (bekende afrigter) Onthaal mnr. B. Little (een van die voorste jokkies) Onthaal mnr. C. King. Colorado King, seker een van S.A. se beste perde ooit, het die Durban July van 1963 gewen – en vir Le Roux sy vernielde skoene behoorlik vergoed – eintlik dubbel en dwars!

Wyle Corrie Venter het my ’n klompie jare gelede vertel dat Le Roux soms by hom by Farmer's Weekly subwerk gaan doen het, maar dit het maar partykeer sukkel-sukkel gegaan. Steeds egter het Le Roux nie sy slag met die perde verloor nie.

Sy en Cathy se dogter het by sy suster of so iets in die Wes-Kaap gebly. Dan het Le Roux plek op ’n vliegtuig Kaap toe bespreek vir laat Saterdagmiddag – sonder dat hy genoeg geld vir die kaartjie gehad het. Met net 'n paar rand in sy sak het hy renbaan toe gegaan en ’n paar wedrenne later genoeg geld gehad vir die kaartjie en ’n persent of wat vir die dogter.