Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.5.12

Opperste heer met ’n vlymskerp humorsin

GERT COETZEE, gewese assistant-nuusredakteur van Transvaler, skryf oor sy pa,  JANNIE COETZEE, Wes-Transvaalse Verteenwoordiger en later hoofverslaggewer van Die Vaderland en Transvaler.

My pa het pas in sy veertigs in Klerksdorp aangekom, maar omdat hy voortydig spierwit grys was, was hy toe al
Oom Jannie.

Hy was gesteld op sy voorkoms en jy kon hom altyd deur ’n ring trek. Al wanneer hy nie pak gedra het nie, was in die Wes-Transvaalse snikhete somers, maar dan het hy lang safaripakke met ’n krawat aangetrek. Selfs sportbyeenkomste het hy in das en sportbaadjie bygewoon.

Altyd ’n hoed opgehad, omdat hy ’n ligte vel gehad het -- van informele panamas tot die deftigste Barbers. Hy was iemand wat altyd sy skoene gewaks en gepoets het voordat hy hulle in hul oorspronklike bokse in die kas gebêre het.

Hy was een van die min uitsonderings in ons nering - hy het nooit gevloek, gerook, gedrink of paartie geskop nie (ek vermoed half ek kon ’n aangenome kind gewees het). Hy het nie geskroom om, maak nie saak wie dit was nie, by te loop en beleef te vra om tog net nie so te vloek nie; daar is vroue en kinders. Selfs by rugbywedstryde van ’n sekere klub in Wes-Transvaal wie se ondersteuners nogal ’n redelike rowwe reputasie gehad en die brandewyn op die pawiljoen laat vloei het, het die jong vroutjies van die spelers hul beste taalgebruik ingespan as hy daar uitgeslaan het.

Hy het sy bel- en ander rondtes so deeglik gedoen, al wat dorp of organisasie in die Weste was, het hom op een of ander manier vereer. Deur sy verslagwerk het hy Wes-Transvaalse en Stellaland-erekleure in rugby, atletiek, amateurboks, judo en veerpyltjies (van alle dinge) ontvang.

Sy kopie was soos sy voorkoms: skoon, deeglik en sy skryftaal was soos die Afrikaans wat hy gepraat het, suiwer en korrek. Hy het nooit byvoeglike naamwoorde gebruik nie, net sy feite wat hy immer deeglik nagevors het, saaklik weergegee.

Mense het hom vertrou, omdat hy ’n eerlike, ordentlike mens was en dit was nooit vir hom moeite om ’n moeilike storie los te kry nie. Mense het gedink hy was befoeterd omdat hy nooit ligsinnig was of hom met die belaglike opgehou het nie. Maar hy het ’n hartlike lag soos die intro van ’n Strauss-wals gehad as iets regtig vir hom snaaks was. Dan het hy sy bril afgehaal en sy oë met sy (altyd ’n skoon!) sakdoek gedroog.

Ons wat hom goed geken het, het geweet watse vlymskerp humorsin hy gehad het. Op ’n keer vertel hy my hy het dié spesifieke vooraanstaande, bekende dame van Klerksdorp se hogere kringe raakgeloop. Toe ek vra hoe dit met haar gaan en hoe sy lyk, was sy droë antwoord: “My boesman, sy het nou al soveel ontrimpelings gehad, sy sal binnekort ’n bokkiebaard dra.”

Hy het stories op die snaakste plekke uitgegrawe. “Sy” LV’s het vir hom hul toesprake in die Parlement vooraf laat kry. Hy het al die jare die Dopper-sinode in Potchefstroom gedek, die Provinsiale Raad by geleentheid en natuurlik al wat ’n vergadering is, of dit nou iets nuusgewys sou oplewer of nie. By sportbyeenkomste en skole het hy geboer, met die gevolg die telefoon was nooit stil nie – mense het hom dag en nag met nuuswenke en skinderstories gebel.

My sussie se mangels is kleintyd in Klerksdorp-Hospitaal uitgehaal. Toe hy daar aankom, was die plek in rep en roer: ’n uitgevrete bobbejaanmannetjie het uit die Oudorpkoppies verdwaal en helfte van die dorp se verkeers- en brandweermanne en verpleegpersoneel het die ding in die hospitaal gesoek. Hy het voorlopig alles laat staan, gehelp soek, die knaap afgeneem en toe my sussie se Oros of wat ook al vir haar daarna gevat.

Anderkeer het ’n baie vooraanstaande openbare figuur en raadsamptenaar laatnag ná ’n stadsraadsvergadering en die daaropvolgende onthaal appels geswaai en natuurlik het hy ’n heerlike stoepstorie deurgestuur. Fanus Rautenbach het ’n vreeslike ding begin toe hy op sy program kostelik na die doen en late van die burgemeester, markmeester en Oude Meester verwys.

In my omswerwinge het ek en Sarel van der Walt van Beeld op ’n dag in Pietersburg besluit ons los ons baadjies in die kar omdat dit so warm was. Die streeklanddros vra toe vir die aanklaer: “Meneer aanklaer, wie is dié half gekledes? Ek wil hulle nie in my hof hê nie.” Ek het die plaaslike bevolking wat oorwegend nie eers skoene gedra het nie, betrag en teetyd vir die aanklaer gaan vra wie die streekhofpresident is, ek wil die landdros verkla. Probleempie: dit was die einste landdros, Aubrey Bouwer, wat ons uitgejaag het.

Toe ek my lot by my pa bekla met ons daaglikse foonkuier tussen twee buitekantoor-kollegas, sê hy vir my: “Sê vir Aubrey ek skop sy agterent vol ou skoene!” Ou vriend uit Stellaland-rugby van my pa. Ek maak toe so, in die landdros se kantoor, want ek en Sarel moes hom buitendien om verskoning gaan vra om weer in sy hof te kon toegelaat word. Nodeloos om te sê, Oom Aubrey het summier een van my beste kontakte geword en hy het was selfs apologeties omdat hy die betrokke, vorige dag in ’n slegte bui was en dit op ons uitgehaal het. Die verbaasde uitdrukking “is jy Oom Jannie se seun!” het regdeur my loopbaan aan my geklou. Ek weet ek was trots daarop maar ’n ou moes maar een of ander kompleks daarvan oorhou…

En natuurlik was my ma (regs) ook maar altyd daar, pragtige vrou, verstommende algemene kennis, geduldig, diplomaties en die beste sekretaresse waarvoor enigiemand kon wens. (Sy is natuurlik ruimskoots daarvoor vergoed – as ek reg kan onthou het ons so ’n R10 of wat per maand ontvang, omdat ons ons tuistes vir Perskor se buitekantore ingeruim het – dit het my pa plegtig elke maand aan my ma oorhandig.)

Sy het my pa se foon beman as hy die Weste vol was, sy plakboeke sorgvuldig op datum gehou en so het hy die beste verwysingsargief gehad wat ’n ou kon kry.

Die meeste Sondae het my ma en die kleintjies ná kerk met my pa se pakkies deurgery Fochville of selfs Johannesburg toe sodat sy spoeletjies ontwikkel en afgedruk kon word. Hy het natuurlik die tik- en teleksmasjien laat kletter en saam met die ander manne in die buitekantore ons koerante volgeskryf.

My ma het my pa ’n jaar voor sy dood ontval; hy is 1 November verlede jaar oorlede nadat Alzheimer se siekte daardie flink brein aangeval en uiteindelik vernietig het. Maar selfs, alleen, die enigste man in ’n Alzheimer-afdeling tussen veertien lastige, orige ou tannies, het hy aan sy waardigheid geklou. Hom elke dag so goed hy kon gepak en gedas en na my ma gesoek.

My pa sou sy kop oor die jongste generasie wunderkinder in die koerantwêreld geskud het – en nie in vervoering nie. Sy heengaan het ’n gat in die ou Wes-Transvaal gelos wat nooit gevul sal word nie.