Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.5.12

Twee "scoops" wat eintlik misgeloop is

ROBBERT VAN DER KOOY, eertydse finansiële redakteur van Die Transvaler, vertel van die koerant se Voortrekkerpers-dae. Hy was van 1968 tot 1974 by DT – in die dae toe dr. G. D. Scholtz en Jan van Rooyen mede-hoofredakteurs was. Ná 1974 het hy allerlei draaie gegooi en was weer joernalis van 1995 tot 2002 by Finansies & Tegniek. Nou is hy direkteur van 'n private skool en van 'n private onderwysers-opleidingsinstansie, maar skryf nog baie. Vir 'n klompie jare was hy ook
korrespondent vir 'n Hollandse koerant.

Ek het eers in 1968 by Die Transvaler aangesluit, maar ’n storie wat baie vinnig by my uitgekom het, was hoe die koerant die Kubaanse missielkrisis misgeloop het. Ek vertel dit soos dit aan my oorgedra is.

Toe die Kuba-krisis losbars en Amerika dreig die Sowjet-Unie (John F. Kennedy vs. Nkita Chroetstjof), êrens in 1962, kom die nagkantoor-joggie (“papierskeurder”) na die nagnuusredakteur gehardloop met die Sapa-berig oor die ultimatum.

Minstens voorblad-baniernuus en kommentaar deur redakteur G.D. Scholtz. Die nagnuusredakteur gee die beriggie een kyk en besluit dit is nie nuus nie.

Hy het ge-„crack”, vertel hulle my later.

Die nagredaksie is ontsteld en glip ’n klein vullertjie op die voorblad in, sonder die medewete van die nagnuusredakteur.

Ek vermoed G.D. Scholtz het daardie nag ’n nagmerrie gehad sonder dat hy geweet het waarom.

Die volgende dag het die nagnuusredakteur sy werk verloor en is oorgeplaas na die biblioteek waar hy vir die res van sy lewe grafskrifte geskryf het.

AGTERGROND:  Die Kubaanse Missielkrisis het die wêreld destyds op die randjie van ‘n kernoorlog gehad. Die spanning het ontstaan toe die Sowjet-Unie kernmissiele in Kuba, binne reikafstand van Amerika, ontplooi het. Amerika het ‘n ultimatum gestel wat op die onmidellike verwydering daarvan aangedring het. Albei lande se gewapende magte is op volle gereedheidsgrondslag gestel. Amerika het ‘n vlootblokkade ingestel, terwyl Russiese skepe die eiland genader het. Die krisis is afgeweer toe die Russe hul skepe laat omdraai en ingestem het om die missiele te verwyder. In ruil moes die Amerikaners onderneem om nie Kuba aan te val 

 Ford soek platina

DIE tweede storie raak myself. Ongeveer 1972. Ek was finansiële redakteur. Vrydae het ons nie veel gehad om te doen nie, want Saterdae se finansblad was bitter klein. Dus maak ek van die geleentheid gebruik om saam met ’n groep joernaliste die Rustenburg-Platinummyn te besoek, destyds die wêreld se grootste platinamyn (ek dink dit is vandag nog).

Nadat ons die myn deurkruis het, sit ons vir middagete aan en ek kom sit reg langs die uitvoerende hoof, met aan sy ander kant my mededinger van die Rand Daily Mail. Ons gesels en die Rustenburg-baas vertel so ewe rustig dat ‘n afvaardiging van die Ford-motormaatskappy uit Amerika hom die volgende week kom spreek.

Dit was in die tyd dat platina ‘n belangrike en duur onderdeel van motors se uitlaatstelsels sou word en daar was destyds al baie bespiegelinge daaroor, iets wat ’n sterk invloed op sekere aandelepryse gehad het.

Uit die hoek van my oog sien ek dat die ou van die Rand Daily Mail die opmerking nie gehoor het nie en ek verander die onderwerp. Later, toe ek ’n oomblik alleen met die grootbaas was, bevestig ek sy opmerking.

Hy en ek besef dat hier iets aan die kom is wat baie vir Suid-Afrika sal kan beteken. As die wêreld se motorvervaardigers platina gaan koop, is dit ’n enorme nuwe mark vir hierdie metaal. Terug op kantoor probeer ek tevergeefs die nuusredakteur oortuig dat hier ’n „scoop” van wêreldformaat is.

Maar as ’n vrou haar man met ’n byl doodgekap het, is daar niks in die wêreld wat belangriker kan wees in sekere joernaliste se oë nie. Dus my berig word ’n beriggie, weggesteek op die finansiesblad waar net plek vir ’n dubbelkolommetjie was. Onnodig om te sê dat die RDM dit die Maandag as banieropskrif gehad het en dat dit baie gou wêreldnuus was.

En vandag is Suid-Afrika se talle platinamyne waarskynlik die land se grootste enkele verdiener van buitelandse valuta en werkgewer, teen ’n prys wat ’n paar honderd keer meer as die destydse prys is.